Oorlog tussen Iran en Israel kan reuse-
ekonomiese implikasies vir Suid-Afrika inhou aangesien Suid-Afrika sy meeste
ruolie uit Iran kry.
Selfs Suid-Afrika se goeie bande met Iran gaan hom nie red van dié
gevolge van ’n konflik nie wat blykbaar so vroeg as April al kan losbars, het
me. Jo-Ansie van Wyk van Unisa se departement politieke wetenskap gister
gesê.
Volgens haar sal dit die publiek raak in ’n skerp verhoging in die
petrolprys.
Die laaste paar dae het dié aanduidings verskerp nadat Israel dit
onomwonde gestel het dat Iran se kernwapenvermoë gestaak moet word voordat dit
te laat is.
Volgens die Enterprise-instituut, ’n Amerikaanse dinkskrum, kan
Iran teen Augustus al die vermoë hê om ’n
15?kiloton-kernbom te bou.
Met Iran se huidige voorraad verrykte uraan kan hy teen 2015 al
vier of vyf van die bomme tot sy beskikking hê.
Mnr. Moshe Yaalon, Israel se adjunkpremier, het vandeesweek gesê ’n
ontploffing by ’n Iranse missielbasis in November verlede jaar was deel van ’n
program om ’n nuwe missiel te bou met ’n reikafstand van 10?000?km.
Dit het gister gegons van dié soort bespiegelinge in die
internasionale media.
Moontlik die beste aanduiding was ’n toespraak van mnr. Ehud Barak,
Israelse
minister van verdediging, op ’n veiligheidsforum in Herzliya. Daar
het hy reguit gesê die tyd loop uit om Iran te keer.
Gister het die Washington Post eweneens, klaarblyklik op grond van
binne-inligting uit die Amerikaanse regering, berig dat mnr. Leon Panetta, dié
land se minister van verdediging, vrees dat Israel in April, Mei of Junie ’n
reeks lugaanvalle op kerninstallasies sal doen. Israel het die VSA glo verlede
maand versoek om militêre oefeninge uit te stel wat in Mei sou plaasvind omdat
hy nie hulpbronne daaraan kon afstaan nie.
Die Amerikaanse reaksie was om genl. Martin Dempsey, weermaghoof,
na Jerusalem te stuur om die Israeli’s te waarsku dat Washington nie so ’n
aanval sal steun nie. Pres. Barack Obama wil die sanksies wat sy land en die
Europese Unie onlangs teen
Iran afgekondig het eers kans gee om te werk.
Die Israeli’s wil egter nie te lank wag nie.
Kenners van die Midde-Ooste wys daarop dat Israel vir sy
voortbestaan vrees. Pres. Mahmoed Ahmadinedjad van Iran en die ajatollas wat
Iran regeer, maak geen rasionele indruk nie en die Israeli’s is bang dat die
afskrikkingstrategie wat goed in die Koue Oorlog gewerk het, nie op Iran van
toepassing is nie.
Een groot kernbom op Tel Aviv kan twee derdes van die Israelse
bevolking uitwis.
Volgens die Washington Post meen die Israeli’s hul
veldtog kan binne sowat vyf dae afgehandel wees. Hulle verwag ’n stortvloed
missiele van Hisbolla in die suide van Libanon en van Hamas in die Gasastrook,
maar dis beter as totale uitwissing, sê hulle.