Leraar wil Korans op 9/11 verbrand
2010-09-08 21:48
Die predikant van ’n gemeente met net 50 lidmate in Gainesville, Florida, Amerika, het die wêreld op hol met sy plan om eksemplare van die Koran in die openbaar te verbrand.
Eerw. Terry Jones beplan om dit Saterdag, op die herdenking van die 9/11-aanslae in 2001, te doen.
Die Withuis het dit veroordeel, terwyl me. Hillary Clinton, Amerikaanse minister van buitelandse sake, dit as ’n “oneerbiedige, skandalige daad” bestempel het.
Mnr. Eric Holder, minister van justisie, het dit “idioties en gevaarlik” genoem.
Dit kan Amerikaanse soldate se le-we in gevaar stel, het genl. David Petraeus, opperbevelvoerder van die Navo-magte in Afganistan, uit Kaboel gesê.
Die Taliban en ekstremiste sal dit volgens hom wêreldwyd aangryp.
In New York het ’n aantal Christelike, Joodse en Islamitiese leiers Jones se voorneme ook veroordeel en gesê hy praat nie namens die meeste Amerikaanse Christene nie.
In Kaboel het ’n skare woedende Afgane ’n beeltenis van Jones verbrand en leuses soos “dood vir Amerika!” en “Obama moet dood!” uitgeroep.
’n Groot betoging het ook in Djakarta, Indonesië, plaasgevind.
Die Engelstalige Libanese dagblad Daily Star het gesê die stap “sal waarskynlik ’n brand veroorsaak wat groot stukke van die aardbol sal verteer”.
Jones, wat blykbaar graag ’n pistool aan sy sy dra, het gesê hy verstaan die kommer, maar hy gaan voort met die verbranding.
Sy woorde aan CNN was: “Ons moet ’n waarskuwing aan die radikale Islam rig: As julle ons aanval, sal ons julle aanval.”
Op TV was ’n kennisgewing buite sy kerk te sien wat lui: “Islam is van die duiwel.”
Die Gainesville-munisipaliteit het ’n permit vir die verbranding geweier.
Jones het gesê hy gaan hom nie daaraan steur nie.
Op kletswebwerwe het Jones taamlike steun van Amerikaners gekry.
Tipies is dié inskrywing van ene Greg, wat skryf: “As Moslems ons vlag kan verbrand, waarom kan ons nie hul Koran verbrand nie?
Dis nie die ‘Christelike’ weg nie, maar hulle het 3 000 Amerikaners op 9/11 vermoor. Dis ons reg. Burn, baby, burn .”

Afgane in Kaboel verbrand ’n voorstelling van eerw. Terry Jones tydens ’n betoging. Foto: Musadeq Sadeq, AP

Jones by die Dove World Outreach Center in Gainesville, Florida, waar hy die Korans op 11 September wil verbrand. Foto: John Raoux, AP