Moord ná FB-‘unfriend’
2012-02-10 21:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Jong Amerikaanse paartjie is voor hul baba vermoor nadat hulle glo hul vriendskap met ’n vrou op die sosiale netwerk Facebook beëindig het.
Mnr. Billy Clay Payne jr. (36) en sy vriendin, me. Billie Jean Hayworth (23), is verlede maand dood in hul huis in Nashville, Tennessee, gevind nadat hulle me. Jenelle Potter glo op Facebook “unfriend” het, berig Reuters.
Payne en Hayworth is albei in die kop geskiet en Payne is keelaf gesny.
Die paartjie se agt maande oue baba is ongedeerd in sy ma se arms gevind.
Potter se pa, mnr. Marvin Potter jr. (60), en sy vriend mnr. Jamie Lynn Curd (38) is vandeesweek weens die moord op die twee in hegtenis geneem nadat die polisie onderhoude met meer as 150 verdagtes gevoer het.
Sheriff Mike Reece sê ’n paar sake van teistering is in die verlede teen me. Potter aanhangig gemaak nadat iemand haar van Facebook “geblok” of “afgehaal” het.
Luidens ’n berig in die Johnson City Press het Payne en Hayworth ook in die verlede klagte teen me. Potter aanhangig gemaak omdat sy hulle glo oor die telefoon en op die internet geteister het.
Volgens Reece woon Potter, wat diep in die 20 of iets in die 30 is, by haar ouers. Sy is glo gedurig op Facebook doenig.
Sy is nie in hegtenis geneem nie.

Die nuwe program wat jou wys as iemand jou as vriend verwyder.