Mosambiek-dodetal in betogings styg tot 13
2010-09-06 22:16
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Maputo. – Die amptelike dodetal in die gewelddadige betogings in Mosambiek het gister van tien tot 13 gestyg.
Byna 150 mense is sedert die begin van dié betogings oor hoër kos-, brandstof-, krag- en waterpryse in hegtenis geneem.
Mnr. Ivo Garrido, Mosambiek se minister van gesondheid, het gister op ’n mediakonferensie in Maputo gesê die owerhede het die naweek nog twee lyke gekry wat met die betogings verband hou.
Geen geweld is die naweek in Maputo aangemeld nie, ondanks SMS’e waarin betogings aangemoedig word.
Volgens Mosambiek se staatsbeheerde radiostasie het mnr. Joaquim Selemane, polisiewoordvoerder, gesê die polisie probeer die betogings se leiers eien.
Selemane het gesê 142 mense is weens die brand van motorbande en die beskadiging van eiendom gearresteer en ses wat verdink word dat hulle SMS’e gestuur het om betogers te lok.
Onder meer die 30%-styging in broodpryse het verlede week gelei tot die gewelddadige betogings waarin meer as 440 mense beseer is.
Die regering het gesê hy is raadop omdat koringpryse wêreldwyd skerp styg.
Die regering moes voorsien het die verhogings sou woede veroorsaak en vroeër opgetree het, het opposisiepartye en menseregtegroepe gesê.