Mulder sê hy is nie genooi na Agri SA se konferensie
2010-03-09 22:44
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Dr. Pieter Mulder, adjunkminister van landbou, bosbou en visserye, sê hy wou Agri SA se veiligheidskonferensie in Centurion graag bygewoon het, maar is nie uitgenooi nie.
Dit volg nadat mnr. Johannes Möller, president van Agri SA, eergister op die konferensie gesê het hy gaan by pres. Jacob Zuma beswaar aanteken omdat me. Tina Joemat-Pettersson, landbou-minister, Mulder en mnr. Jeff Radebe, minister van justisie en staatkundige ontwikkeling, dit nie kon bywoon nie.
Mulder het gister gesê hy was wel verlede week in Parys, Frankryk, maar was teen die naweek terug in die land.
Hy het toe eers van die konferensie gehoor. Toe hy teen eergisteroggend bevestiging daarvan gekry het, het hy reeds reëlings getref om terug te keer Kaapstad toe.
“As ek ’n uitnodiging ontvang het, sou ek dit definitief bygewoon het,” het die leier van die VF+ gesê.
Möller het gister gesê hy het verlede week met Joemat-Pettersson gepraat.
“Sy het toe aan my gesê sy kan ongelukkig nie ons konferensie bywoon nie, want sy moet in opdrag van pres. Zuma New York toe gaan vir ’n vroueregte-beraad.
“Ek het toe gesê sy is welkom om haar adjunkminister (Mulder) na die beraad te stuur. Sy het gesê hy is ook oorsee.”