‘Muur in kop’ skei Duitsers ná 20 j. nog
2010-09-02 00:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Met die 20-jarige herdenking van die Duitse hereniging oor ’n maand wys ’n meningspeiling dat die “Muur in die kop” – soos dit daar genoem word – nog ’n wesenlike probleem is.
Die Wes- en Oos-Duitsers dink fundamenteel verskillend oor allerlei sake.
Luidens ’n peiling wat pas in Berlyn gepubliseer is, meen net 17% van Oos-Duitsers die hereniging is afgehandel. 47% van hul westelike landgenote dink so.
Sommige moeilik verklaarbare teenstrydighede blyk uit die peiling.
In die weste meen 35% van die respondente die hereniging het hul persoonlike situasie laat versleg, teenoor net 24% in die ooste. Terselfdertyd meen 75% van dié in die ooste die gewese Oos-Duitsland as geheel is slegter daaraan toe as voor die hereniging, terwyl 52% van die mense in die weste dink dit gaan juis beter in die ooste.
’n Minderheid – 11% in die weste en 9% in die ooste – wil die Muur en die verdeling graag terughê.
Baie Oos-Duitsers se gevoelens is die laaste tyd verwoord deur mnr. Thomas de Maizière, die (Oos-Duitse) minister van binnelandse sake, wat onlangs gesê het die herenigde land kon gerus meer van die ou Oos-Duitsland oorgeneem het.