Prins Albert is glo ontrou
2011-06-30 00:50
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Monaco. – Die rede hoekom Charlene Wittstock glo vroeër die week wou vlug van haar sprokiestroue, was omdat sy uitgevind het haar prins het ’n ander verhouding.
Dit gons in dagblaaie nadat die geloofwaardige Franse tydskrif L’Express die nuus dat Wittstock op Nice se lughawe met ’n enkelkaartjie Suid-Afrika toe voorgekeer is, op sy webwerf bekend gemaak het.
Luidens ’n berig in The Times huil Wittstock glo onophoudelik ná ’n voorval verlede week op Monaco se helikopterlandingsplek.
L’Express het berig dat Wittstock platgeslaan is toe sy gehoor het haar aanstaande, wat reeds twee buite-egtelike kinders het, is toe nie deesdae so voorbeeldig soos wat sy gedink het nie.
In die artikel, wat onder meer deur Le Figaro opgevolg is, word gesê Wittstock het teësinnig ingestem om in Monaco te bly. L’Express het berig dat ’n welgestelde familie van Monte Carlo, die Pastors, as tussengangers opgetree het om Wittstock te oorreed om te bly.
Maar daar word beweer dat sy nie al haar amptelike verpligtinge as prinses sal nakom nie.
Sy het glo verlede week openlik op ’n vlug na Parys gehuil.
Die prins se prokureur, mnr. Thierry Lacoste, het luidens The Times glo ’n bevel aan L’Express laat beteken om bewyse vir die aantygings te lewer. Die tydskrif het geweier om sy bronne bekend te maak.
Die dreigemente met regstappe het glad nie daarin geslaag om die gerugte te smoor nie.
Die troue sal sowat R550 miljoen kos.
Mnr. Michael Wittstock, Charlene se pa, se foon was gister afgeskakel.

Prins Albert II van Monaco en Charlene Wittstock verlede week in Monaco.
Foto: Eric Gaillard, REUTERS