Prins dreig joernaliste met dood
2010-07-27 23:12
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Manzini. – Doodsdreigemente aan joernaliste deur die broer van koning Mswati III van Swaziland het gister skerp kritiek ontlok.
Volgens die komitee vir die beskerming van joernaliste het prins Mahlaba verlede week op ’n openbare byeenkoms gesê:
“Joernaliste wat voortgaan om slegte dinge oor die land te skryf, sal sterf.
Ek wil die media waarsku om goed te begrawe wat die potensiaal het om die land te ondermyn.
“Dit is ’n feit dat joernaliste ’n bestaan maak deur leuens te skryf en as hulle nie die leuens skryf nie, word hul bron van inkomste bedreig en dit is ’n feit en ondebatteerbaar.”
Mediavryheid is beperk in Swaziland, waar politieke partye onwettig is en joernaliste nie toegelaat word om die land se politieke stelsel te kritiseer nie.
Mohamed Keita van die komitee vir die beskerming van joernaliste het in reaksie in ’n verklaring gesê: “Die regering van Swaziland moet die doodsdreigemente teen joernaliste deur ’n leidende lid van die regerende familie onmiddellik verwerp.”
Die koninklike familie in Swaziland is bekend om hul luukse leefstyl, terwyl die res van die land in armoede leef.