R13 m. geëis oor val op nat stoep
2010-03-09 22:44
’n Amerikaner eis R12,6 miljoen van die Monateng Safari Lodge buite Pretoria nadat hy op ’n nat stoep gegly en geval het.
Mnr. Michael Francis Klesh (55), ’n bemarkingspesialis, sê in hofstukke hy het ’n werwelfraktuur opgedoen en sy linkerpolsgewrig is gebreek. Hy was glo sowat drie tot vier maande in skok.
Hy eis R12 627 650 van Monateng nadat hy die middag van 19 Januarie 2008 op die stoep van sy verblyfeenheid daar geval het.
Klesh sê daar was nie voldoende beskerming teen reënwater op die stoep nie en daar was geen waar-skuwing dat die teëls gevaarlik of glibberig is wanneer dit nat is nie.
Adv. Morris Baslian, namens Klesh, het gesê Klesh en die verweerder het ’n mondelingse ooreenkoms gesluit toe Klesh op 10 Januarie 2008 sy verblyf oor die foon bespreek het.
Toe hy op 14 Januarie daar aanmeld, is ’n stuk papier “wat ten beste ’n aanbod en nie ’n kontrak is nie” aan hom gegee vir ondertekening.
Die ontvangsdame het gesê dit is ’n “blote formaliteit”.
Baslian het gesê die verweerder steun op ’n vrywaringsklousule in dié dokument wat nie ’n voorwaarde was in die oorspronklike ooreenkoms (Klesh se verblyfbespreking) nie.
Dié klousule is ook “weggesteek” in die dokument.
Onderaan die dokument onderneem die ondertekenaar om gehoor te gee aan Monateng se reëls en regulasies en stem in dat sy voertuig deursoek word.
Baslian het gesê die ondertekenaar moet gewys word op ’n vrywaringsklousule.
Omdat die ontvangsdame gesê het die dokument is ’n blote formaliteit, het Klesh nie rede gehad om te vermoed of te glo daar sou enige voorwaardes in wees nie.
Adv. Tall Potgieter, vir Monateng, het gesê daar is ’n dak oor die stoep. Klesh het getuig daar was ’n “buitengewone” reënstorm.
Dit beteken nie die verweerder was nalatig nie, het Potgieter gesê.
Potgieter het gesê dit is “belaglik” om die voorwaardes uiteen te sit wanneer ’n foonbespreking gedoen word. Dit is nie hoe die kommersiële wêreld werk nie.
Die finale kontrak word gesluit wanneer iemand by sy bestemming aankom.
Op Klesh se eie weergawe het hy geweet hy kon nie hier kom bly as hy nie die vrywaringsklousule onderteken het nie. Hy het geweet die “formaliteit” was ’n vrywaringsvorm.
Daar is geen plig om so ’n klousule aan iemand uit te wys nie, het Potgieter gesê.
Klesh het nie getuig daar was iets verkeerd met die teëls nie.
Waarnemende regter Sulette Potterill het oor die reënstorm gesê regspraak sê “jy hoef nie te waarsku teen iets buitengewoon nie”.
Baslian het gesê die verweerder moes toesien dat dit “nie-glibberige” teëls was.
Potterill lewer Maandag uitspraak.