SA help só in mynredding
2010-08-25 22:05
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Fanie van Rooyen en Sapa-AP
Die boor wat gebruik sal word om 33 mynwerkers uit die San José-goud-en-kopermyn in Copiapó, Chili, te bevry, het by die myn aangekom.
Die Suid-Afrikaanse boumaatskappy Murray & Roberts het gehelp met die ontwikkeling van die Strata 950-boor se tegnologie.
Die maatskappy is ook ’n beherende aandeelhouer van die Chileense maatskappy Terracem, wat die boor besit.
Mnr. Henry Laas, besturende direkteur van Murray & Roberts Cementation, het gesê die maatskappy is trots dat sy tegnologie gebruik gaan word om die mynwerkers te help, maar dat dit ’n groot uitdaging gaan wees om die reddingskag te boor.
“Die myn is oud en daar is ’n kans op nog ineenstortings,” het Laas gesê.
“Die reddingsmetodologie sal uiters fyn beplan en toegepas moet word.”
Die 33 mynwerkers is sedert 5 Augustus 688 m onder dik kliplae in ’n ruimte so groot soos ’n woonkamer vasgekeer nadat dele van die myn ineengestort het.
Drie smal skagte – een vir die afsak van benodigdhede, een vir kommunikasie en een vir ventilasie – is reeds tot by die vasgekeerdes geboor.
Dit sal na verwagting sowat vier maande duur om ’n skag te boor wat wyd genoeg sal wees om die mynwerkers na veiligheid te bring.
Intussen bespreek dokters, noodwerkers en sielkundiges hoe om die 33 emosioneel en geestelik sterk te hou tydens die lang wag.
Daar word glo beplan om speletjies na die 33 mans te laat afsak en die Chileense regering het selfs Nasa se hulp ontbied omdat sy ruimtevaarders ervaring het van lang tye in afsondering.
Intussen kom die persoonlike verhale van die vasgekeerdes na vore.
BBC News het eergister berig een van die mans, mnr. Franklin Lobos Ramírez, is ’n gewese beroepsokkerspeler wat Chili in 1980 in die kwalifiserende rondes vir die Olimpiese Spele verteenwoordig het.
Mnr. Raúl Bustos Ibanez kom van die kusdorpie Talcahuano in die suide van Chili wat tydens die groot aardbewing in Februarie verwoes is.
Hy het dus in ses maande een van die grootste aardbewings in geskiedenis en byna drie weke ondergronds oorleef.
Mnr. Mario Gomez Heredia, voorman tydens die skof toe die rotsstorting plaasgevind en die groep vasgekeer is, is die groep se leier.
“Hy is nie iemand wat net sal sit en wag om gered te word nie, ek weet hy sal die leiding neem,” het sy vrou, Liliana, gesê.

In die boonste ry van links: Mnre. Carlos Mamani, Jose Vidal, Jose Gonzalez, Luis Iribarren, Omar Rojas, Mario Gomez Heredia (die informele leier van die groep), Pablo Villacorta, Claudio Lagos, Juan Palma, Mario Espinace en Juan Carlos Gaete.
Middel: Yonni Rojas, Victor Bugueno, Carlos Contreras, Víctor Rojas, Claudio Cortes, Carlos Alfaro, Ariel Yanez, Samuel Acuna, Renan Silva, Dario Rojo en Richard Godoy.
Onder: Osman Araya, Jorge Orellana, Jimmy Lagues, Franklin Lobos Ramírez, Florencio Silva, Esteban Carrizo, Raúl Bustos Ibanez, Pedro Contreras, Daniel Campos, Edison Villaroel en Alex Salazar.Foto: reuters