‘Seks, drank lei tot staatsgreep’
2012-02-07 22:30
Seks en drank in duur “gesondheidspa’s” by verskeie luukse oorde in die Maledive is moontlik onderliggend aan die staatsgreep gister in die land se hoofstad, Malé.
Nadat muitende soldate en polisielede staatsgeboue in Malé beset het, het mnr. Mohamed Nasheed as president bedank.
Die Maledive bestaan uit meer as 1 000 eilande in die noordelike Indiese Oseaan en is ’n duur en gewilde vakansiebestemming vir Suid-Afrikaners en Europeërs.
Die hoofeiland en regeringsetel in Malé loop die afgelope maand deur onder betogings deur Moslem-fundamentaliste. Verskeie mense is in die betogings beseer.
’n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse hoofkantoor van ’n groot reisagentskap het gister gesê hulle het verlede maand ’n waarskuwing van ’n hotelgroep ontvang dat dié land se Moslem-regering “seine stuur” dat hy ontevrede is met die wyse waarop die oorde bedryf word.
Die reisagent is bewus van ontevredenheid in die regering oor drankgebruik en beweerde seks-spa’s by die oorde.
Verskeie hotelle en oorde het hul spa’s tydelik gesluit.
“Dis ál waarvoor buitelandse besoekers, veral van Europa, na dié oorde gaan. As die regering ingryp, sal dit die doodsklok vir sy toeristebedryf wees,” het die woordvoerder gesê.
Die Maledive-bemarkingskorporasie het gister gesê: “Geen oord word geraak nie.” Toeriste word bloot gemaan om nie op besigtigingstoere in Malé te gaan nie.
“Ek is bevrees dit ís ’n staatsgreep,” het ’n woordvoerder van Nasheed aan Reuters gesê.
Visepres. Mohamed Waheed Hassan Malik is gister as nuwe president ingehuldig.