Slaaptydstories help in eerste dae van aanhouding
2010-09-07 22:07
Wene. – Die Oostenrykse skoolmeisie Natascha Kampusch het aan die begin van haar agt jaar in aanhouding in ’n ondergrondse vertrek oorleef deur haar ontvoerder te vra om vir haar slaaptydstories te lees.
Kampusch skryf in haar boek, 3096 dae, sy wou ’n indruk van normaliteit wek met Wolfgang Priklopil.
Die boek is gister in Wene bekend gestel en Kampusch skryf hoe Priklopil haar uitgehonger, erg geslaan en gedwing het om halfnaak sy huis skoon te maak.
Hy het haar sy “slaaf” genoem.
Sy het oorleef deur op haar “kinderinstinkte” te vertrou om om die beurt in te gee en haar te verset.
Kampusch het in Augustus 2006 ontsnap.
Sy was besig om Priklopil se motor te stofsuig toe sy selfoon gelui en sy aandag afgelei het.
Priklopil het ’n paar uur later selfmoord gepleeg.
Sy is ontvoer toe sy as tienjarige op pad skool toe was.
Kampusch, nou 22, skryf sy het haarself gedwing om soos ’n vier- of vyfjarige te dink om die eerste paar nagte in die vensterlose vertrek te oorleef waar Priklopil haar in ’n huis buite die hoofstad aangehou het.
“Dit was ’n desperate poging om ’n mate van ’n toevlugsoord in ’n hopelose situasie te skep.
“Toe die ontvoerder na die sel teruggekeer het, het ek hom gevra om by my te bly, my ordentlik in die bed te sit en ’n slaaptydstorie te lees.
“Ek het hom selfs vir ’n nagsoentjie gevra soos my ma sou gee – enigiets om die indruk van normaliteit te behou.”
Sy skryf sy was vreesbevange hy gaan haar vermoor.
Kampusch het in die laaste jare van haar aanhouding dagboek gehou en dit vorm die grondslag van die boek, wat sy met die hulp van twee spookskrywers geskryf het.
’n Engelse weergawe, Run, Damn It, Run!, word na verwagting môre bekend gestel.
Priklopil het Kampusch seksueel en geestelik mishandel.
Hy sou deur die dag en nag oor ’n interkom op haar skreeu om hom te “gehoorsaam”.
Hy het haar kop geskeer en haar hare verbrand omdat hy bang was die polisie sou DNS-bewyse van haar vind.
Sy het verskeie kere probeer selfmoord pleeg.
Luidens die boek is sy ’n paar keer in haar agt jaar van gevangenskap amper gevind.
Die naaste wat sy daaraan gekom het, was toe die polisie Priklopil se motor op ’n ski-vakansie voorgekeer het.
In die laaste paragrawe van haar boek skryf sy: “Eers nou, met hierdie woorde, kan ek dit afsluit. En nou kan ek werklik sê: Ek is vry.”