Sneeu bereik Noord-Afrika
2012-02-06 22:00
Fanie van Rooyen, Leopold Scholtz, Reuters en Sapa-AFP
’n Hewige kouefront wat die laaste paar dae 306 sterftes in Wes- en Oos-Europa veroorsaak het, het die naweek selfs in Noord-Afrika beduidende sneeuval veroorsaak.
In Algiers, hoofstad van Algerië, het sneeu op plekke meer as 10 cm diep geval.
Dis die eerste sneeu wat dié stad in agt jaar kry en die swaarste in dekades.
Die uiterste koue en swaar sneeuval in Europa die derde agtereenvolgende winter is moontlik aan aardverhitting te wyte.
Prof. Stefan Rahmstorf van die Instituut vir Klimaatimpaknavorsing in Potsdam, Duitsland, het luidens ’n berig gister in The Independent van ’n drastiese verlies aan see-ys in die Barentsz- en Karasee tussen die Eurasiese vasteland en die Noordpool gepraat.
Sy instituut se rekenaarmodelle wys dat die smeltende ys ’n hardnekkige hoëdrukstelsel bo Noord-Rusland veroorsaak, met gepaardgaande yswinde wat die hele Europa teister.
“Die ysvrye gebiede van die oseaan tree as ’n verwarmer op omdat die water warmer as die lug daarbo is. Dit bevorder die vorming van ’n hoëdrukstelsel bo die Barentsz-see wat koue lug in Europa instuur.”
Wat ook al die oorsaak, groot dele van Europa het gister opnuut gebibber.
In Duitsland is ’n rekordtemperatuur van -28,8°C by Ueckermünde gemeet, laer as die vorige rekord van -28,2°C in 1956.
In Berlyn is ’n plaaslike rekord van -20°C gemeet. In Switserland het die kwik gister in die ooste van die Graubünden-deelstaat tot -35,1°C gedaal.
Volgens telegraph.co.uk was die verkeer in Europa en Brittanje gister nog erg ontwrig met duisende mense wat weens die ys en sneeu in motors of treine gestrand was.
’n Verdere 40 vlugte is gister volgens news.bbc.co.uk op Londen se Heathrow-lughawe gekanselleer – nadat sowat 600 van die gewone 1 300 van dié lughawe eergister gekanselleer is. Enkele vlugte van Heathrow na Johannesburg is ook gister gekanselleer.
Geskeduleerde vlugte sal na verwagting van vandag af soos gewoonlik voortgaan, maar die ysweer kan nog tot minstens die naweek voortduur.