Sokkersterftes ontlok protes
2012-02-02 21:44
Port Said. – Betogings is gister in Kaïro gehou nadat 74 mense eergisteraand dood en minstens 1?000 beseer is in die ergste ramp in Egipte se sokkergeskiedenis.
Betogers het paaie by Tahrir-plein versper en ’n skare het by die hoofstad se hooftreinstasie byeengekom om te sien of hul geliefdes terugkeer van die wedstryd tussen die Al Ahli- en die Al-Masri-sokkerspan in Port Said.
“Weg met die militêre regering,” het duisende gedreunsing terwyl lyke van treine afgelaai is.
Die onrus eergister het uitgebreek nadat Al-Masri Al Ahli, die suksesvolste sokkerklub in Afrika, geklop het.
Honderde Al-Masri-aanhangers het die Al Ahli-spelers op die veld en -aanhangers op die paviljoene aangeval nadat baniere vertoon is wat Port Said beledig het.
In die daaropvolgende stormloop is mense volgens ooggetuies by die uitgang doodgedruk en -getrap omdat die uitgang gesluit was.
Talle is ook van die paviljoene gegooi of het na hul dood geval.
“Ek het skielik ’n lawaai gehoor, na die uitgang gehardloop en gesien hoe mense doodgedruk word ... met hul bene wat vassit in die ysterhek se tralies,” het mnr. Ahmed Moestafa Ali, ’n elektrisiën wat by die stadion werk, gesê.
Mnr. Kamal al-Ganzoeri, Egiptiese premier, het gister in die parlement gesê senior veiligheidshoofde in Port Said en die stad se goewerneur is geskors en die raad van die sokkerfederasie afgedank.