‘Wat kan ons dan nóg doen?’
2010-09-06 22:16
Misano (Italië). – Die organiseerders van motorfiets-Grands Prix wil beter beskerming vir jaers ondersoek ná die dood van die 19-jarige Shoya Tomizawa die naweek.
Tomizawa het eergister tydens die Moto2-wedren, wat die hoofren by die San Marino Grand Prix voorafgegaan het, geval.
Twee jaers wat op sy hakke was, het teen sowat 240 km/h oor hom gejaag.
Die jong Japanner het kort daarna beswyk.
Hy het inwendige beserings sowel as skedelbeserings opgedoen.
Mnr. Franco Uncini, veiligheidsbeampte van MotoGP, het gister gesê Tomizawa se dood het niks met die baan se veiligheid te doen gehad nie.
Hy het gesê dit is moeilik om sulke beserings “met bestaande tegnologie te voorkom” en het ’n oop uitnodiging gerig aan enigiemand wat met ’n plan vorendag kan kom om die impak te verminder wanneer jaers deur ander fietse getref word.
Motorfietsjaers dra reeds benewens ’n valhelm ook ’n pak van leer en ekstra rug-, elmboog- en kniebeskerming.
Valentino Rossi, verdedigende MotoGP-kampioen, het gesê dié soort ongeluk is “die ergste ding wat in ons sport kan gebeur”.
“Jy val met ander motorfietse reg agter jou op dieselfde renlyn.
“Teen 230 km/h, as iemand voor jou val, is daar niks wat jy kan doen nie.”
’n Amerikaanse tiener, Peter Lenz (13), het verlede naweek onder soortgelyke omstandighede as Tomizawa gesterf tydens ’n openingswedren by die Indianapolis MotoGP in Amerika.
Die vorige noodlottige MotoGP-ongeluk was in 2003 toe die Japanner Daijiro Kato hom op Suzuka, sy tuisbaan, doodgeval het.