Johannesburg Verander Area
  • Vandag

    18°C / 8°C

    Wind 15km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 31%

  • Vrydag

    19°C / 8°C

    Wind 13km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 23%

  • Saterdag

    19°C / 8°C

    Wind 12km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 22%

  • Sondag

    18°C / 8°C

    Wind 14km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 23%

  • Maandag

    21°C / 9°C

    Wind 9km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 22%

  • Dinsdag

    22°C / 9°C

    Wind 15km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 20%


By

Die storie van skutter Luiters

Vrydag 31 Mei 2013
Die dood van ’n “onbekende troepie” in 1985 in ’n vuurgeveg tussen die weermag en Koevoet het gesorg vir ’n eietydse Waarheids-en-Versoeningskommissie. Willemien Brümmer vertel dié verhaal van vergifnis en vrede.

“Wie in My glo sal lewe al het hy ook gesterwe,” lui die inskripsie op skutter William Raymond Luiters se grafsteen.

Profetiese woorde, want al was die 21-jarige Luiters 28 jaar gelede ’n onbekende troep wat gesterf het in ’n ongewilde oorlog, het hy nou uit die skadu’s herrys. Sy nagedagtenis staan vir hoop en versoening; vir geharde veterane wat vir die eerste keer snags slaap.

Sy graf is die enigste in die helde-akker in Robertson in dié Wes-Kaapse vallei van wyn en rose. Afgekamp agter ’n palissade sal die meeste verbygangers dit miskyk. Spring jy oor die draad sien jy egter die granietsteen met die kenteken van die voormalige Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) en die naam van sy bataljon, 61 Meg. Die datum van sy dood: 9 Augustus 1985.

Vir minstens vier mense was dié datum ’n keerpunt. Een van hulle is Theron de Wit (52), ’n oudpolisieman wat nou nog stoei met terugflitse en die simptome van post-traumatiese stres. Vandag háát hy oorlog. Destyds was dit sy werk. As lid van die polisie se gevreesde teeninsurgensie-eenheid Koevoet was hy en sy span betrokke by 99 kills tydens “kontakte” – die doodmaak van “terroriste” wat ’n prys gehad het op hul kop.

Hy sug waar hy die gehoorbuis vashou in Tsumeb, 400 km noord van Windhoek. “Die destydse regering het daai woordjie ‘oorlog’ gebruik om ons na die Grens te jaag en mense dood te maak en toe die oorlog klaar is, toe ken hulle ons nie meer nie.

“Ons het oorlog toe gegaan as gewone mense en ons het as moordenaars teruggekom.”

Die storie van hoe hy verander het van ’n never-minded-Grensvegter tot ’n held van boetedoening begin lank gelede.

Troep sonder naam

Net ná laaste lig op 9 Augustus 1985 vertrek De Wit en sy span na die omgewing van Oshikuku, 35 km noord van Oshakati, in Ovamboland.

Hy het vroeër die dag die weermag gebel om die gebied in die omgewing van Oshikuku “te vries” sodat die Koevoete alleen in dié gebied kan patrollie stap.

“In daai stadium was daar ’n nagklokreël. As iemand ná sononder beweeg het, het ons geweet dis die vyand,” onthou De Wit.

Om 21:00 besluit De Wit om die twee Casspirs wat hulle afgelaai het te radio om hulle weer te kom haal.

Terwyl een van die konstabels die radiotoerusting opstel, kyk hy eers links en toe regs met sy nagsigapparaat.

Hy verstyf toe hy honderde meter daarvandaan ’n ry vae, groen beelde in enkelgelid op hulle sien afstap.

“Ek het begin tel en hier by 35 rond toe hou ek op. Ek het onmiddellik vir my mense gesê as ek eerste vuur, dan volg julle; ek dink dis die vyand.”

Hulle neem stelling in vir ’n hinderlaag onder ’n witgatboom, hy stel sy visier op die vyfde soldaat van voor en trek die sneller toe hy sowat 60 m van hulle op die teerpad is.

Die ander Koevoete trek los en die “vyand” hardloop oor die teerpad, kry dekking en beantwoord die vuur.

Ewe skielik skiet die “vyand” ’n groen verligtingsfakkel op. Met ’n skok besef De Wit die “terroriste” van Swapo dra nie hierdie soort verligtingsfakkels nie en hy antwoord met ’n rooi fakkel van sy eie.

“Ek skree hard ‘polisie’ en hulle skree ‘weermag’.”

Sy hart sak tot in sy skoene toe hy in die middel van die pad ’n liggaam sien lê.

Alle hel bars los toe die Koevoete uitvind die “vyand” was eintlik van 61 Meg, wat nagpatrollie gestap het in die rigting van Oshikuku.

“Ek was in die weermag ’n operasionele medic. Toe het ek daar begin help totdat die weermagoutjies se medics oorgeneem het,” vertel De Wit.

“Toe begin die verskriklike vrae mos nou: Hulle vra ‘wat soek jy hier?’ en ek vra ‘wat soek julle hier?’ ”

De Wit en sy manskappe klim saam met die gewonde troep in ’n Ratel van 61 Meg en jaag met hom na Oshakati se lughawe. Daar verneem De Wit die troepie is dood.

Sy stem kraak. “ ’n Mens se brein werk anders in ’n oorlogsituasie. Die emosionele goeters kom eers later.

“Ek het nie eens moeite gedoen om sy naam uit te vind nie. Dit was ek of hy daai aand en gelukkig was dit hy.”

’n Klag van moord

Om elfuur dieselfde nag pyl twee militêre polisiemanne reguit op tweede luitenant Marc Tison af waar hy sit en kreef eet saam met vriende in ’n restaurant in Oshakati. “Kom dringend,” sê hulle. “Kol. Van Heerden wil jou sien.”

Om middernag sê die kolonel die twee sinne wat Tison, ’n Fransman van Belgiese afkoms, se lewe sou verander: “Luitenant, jy word aangekla van die moord op skutter Luiters.

“Het jy enigiets om te sê?”

Tison, wat toe pas sy toekomstige vrou ontmoet het, se bene word jellie.

Instinktief antwoord hy: “Nee, kolonel.”

“Ek het nog nooit in my lewe van Luiters gehoor nie,” vertel Tison (nou 50) vanuit sy kantoor buite Kaapstad. Hy is deesdae die uitvoerende bedryfshoof by ’n versekeringsreus.

Gelukkig volg sy vriende hom na die operasiekamer van sektor tien in Oshakati en help hom om die gebeure van die dag soos legkaartstukke te pas.

Hulle vind uit daar was ’n vuurgeveg tussen Koevoet en die SAW en hy onthou van die Koevoet wat hom dié oggend gebel het om toestemming te vra vir ’n patrollie in ’n “rooi sone” op die operasionele kaart.

Tison het vir die polisieman gesê net die kolonel mag toestemming gee en hy moet om 11:15 terugbel. “Ek het die ruitverwysing op ’n klein papiertjie neergeskryf wat ek later weggegooi het. Ek het dit nie in die logboek aangeteken nie, want hy het nie toestemming gehad nie.”

In die helder maanlig soek Tison en sy vriende in elke swart vullissak buite die gebou totdat een van sy vriende in die vroeë oggendure die verfrommelde papiertjie ontdek. Die koördinate, sien Tison verlig, is sowat 4 km van die plek waar Luiters doodgeskiet is.

‘My enigste bloedfamilie’

Die volgende dag kry die 19-jarige Yolandi Luiters (nou Yolandi Genade) ’n oproep wat haar wêreld uitmekaar skeur.

Haar ma is reeds vroeg oorlede en sy en haar enigste broer, Raymond, is grootgemaak deur haar oom en tannie in Robertson.

Haar eie pa het sy nooit geken nie. Al wat sy van hom weet, is dat sy naam ook William Raymond Luiters is.

Ná skool het die skrander Raymond jr. BSc gaan swot aan die Universiteit Stellenbosch, maar ná sy eerste jaar opgeskop om te gaan “kop skoonmaak” in die weermag. In Maart het dié blonde borselkop die laaste keer vir sy suster geskryf om te sê hy sou in Augustus afkom Kaap toe om haar te kom sien.

En toe kom die nuus: Raymond is dood.

“Die weermag het net vir my oom en tannie gesê dis vyandelike magte,” vertel sy vanuit haar huis in Riebeeckstad in die Vrystaat.

“My broer was my enigste bloedfamilie.”

Middel-Augustus word Raymond met volle militêre eerbetoon in Robertson begrawe. “Ek het só gehunker na ’n reünie,” onthou sy.

“Dit was net omstandighede wat ons uitmekaar gehou het sodat ons nie ’n gewone suster-broer-verhouding kon opbou soos ek graag wou nie.”

Kort daarna vertrek sy na Durban vir ’n kort vakansie en haar oog vang ’n koerantberig met die opskrif “Bloody battle in pitch dark between familiar forces”.

Sy verstar toe sy haar broer se naam raak lees. “Dis erg genoeg om te hoor hy’s deur vyandelike magte gedood. Wat nog as jy hoor dis ’n fout?”

Sy probeer dadelik navraag doen, maar word van bakboord na stuurboord gestuur. “Iemand in die weermag het vir my gesê moenie eers probéér verder krap nie; jy gaan tweede kom.”

Ná maande besef sy haar navrae gaan hom nie terugbring nie.

“ ’n Ou gaan maar deur jou proses; die jare bring berusting en jy vind ’n vorm van afsluiting.”

‘Jou nagmerrie is verby’

Intussen stel die weermag ’n geheime kommissie van ondersoek in na Luiters se dood. Ná maande van slapelose nagte word Tison as deel van die ondersoek na ’n ondergrondse bunker van die weermag in Pretoria ontbied.

Hy gaan sit langs ’n generaal en sien die eerste keer Koevoet se pienk logboek. Dis oop by 9 Augustus. Die koördinate in dié boek is nie dieselfde as dié op sy stukkie papier nie.

Dit lyk of die oorspronklike koördinate uitgevee en verander is na die plek waar Raymond Luiters gesterf het. “Generaal, hier’s ’n probleem,” sê Tison en stoot sy gefrommelde bewysstuk na die generaal.

Die generaal vra hom beleef om die kamer te verlaat en kort hierna roep die majoor wat die saak moes ondersoek hom en sê: “Kom, luitenant, jou nagmerrie is uiteindelik verby.”

Twee weke later word hy bevorder na volle luitenant en gevra om sektor tien se operasionele prosedures “skoon te maak”.

Maar sy nagmerries hou nie op nie.

Jare daarna sou Raymond Luiters nog by hom spook en nie omdat hy kwaad was oor sy ontbering nie.

“Dinge loop verkeerd tydens die oorlog en mense verkeer onder ontsettende druk. Uiteindelik was daar seker tien dinge wat waarskynlik gelei het tot Luiters se dood. Al wat seker is, is God het seker beslis dis sy dag om te gaan.”

Dit wat hom bly pla het, was of Raymond se familie gewéét het hoe hy dood is.

“My vrou het vir my gesê: ‘Jy word snags wakker en dan huil jy’. Ek het toe nie geweet waaroor dit gaan nie.

“Ek het net gesê as dit gebeur, vra my dadelik wat is die probleem.”

’n Tweede oproep

De Wit is in 1989 uit die polisie toe Koevoet ontbind is. Vandag is hy ’n assessor in die versekeringsbedryf en hy bedryf sy eie toerisme-onderneming in die Caprivi.

Met die jare het dit hom al hoe meer gehinder dat hy nie eens die naam ken van die troepie wat hy in 1985 doodgeskiet het nie. “Alles het net begin terugkom en terugslaan teen ’n mens en ek het net eendag ’n brainwave gekry ek moet iets aan die saak doen,” vertel hy.

Op 16 Oktober 2008 besoek hy die webblad van die Suid-Afrikaanse Bosoorlogveterane (Sabov) en doen vir die eerste keer navraag oor die “kontak die aand met 61 Meg se manne by Oshikuku”.

“Ek was verbonde aan Koevoet in Oshakati en soek tog enige inligting omtrent die oorledene. Kan iemand my dalk help?” skryf hy.

’n Paar maande later sien Hannes Roodt, hoof van die Laerskool Edleen in Kempton Park, die desperate inskrywing. Al was hy nie direk betrokke nie, was hy destyds ’n pelotonsersant in 61 Meg en hy’t geweet van Raymond se dood.

Hy stuur vir De Wit Raymond se naam, stuur later ’n foto en ’n heen- en-weer-skrywery begin. Saam spoor hulle Raymond se graf op in die helde-akker in Robertson. Deur die begraafplaas kry De Wit die nommer van Yolandi se oom.

Op 29 Mei 2009 tel hy die gehoorbuis op om Yolandi te skakel – die belangrikste oproep van sy lewe. “Ek het so adrenalien en emosies opgebou in daardie tyd ek was amper verlam,” onthou hy.

Yolandi dink dis ’n siek grap. “Die eerste ding wat in my kop opgekom het, was dis die laagste, gemeenste ding wat ’n mens kan doen. Aanvanklik kon ek nie eens besluit of ek wou luister na wat hy sê nie, maar ek het vasgebyt.”

Vir De Wit was dit soos ’n “berg wat van my rug afval”. Nog baie telefoonoproepe en vrae het gevolg.

Einde 2009 sê Yolandi vir De Wit sy wil hom ontmoet op ’n neutrale plek waar nie een van hulle “gebiedsvoordeel” het nie.

De Wit laai sy twee dogters saam met hom in die kar en lê die 2 000 km Kaap toe af.

Toe Yolandi die Spur in die Tygervallei-winkelsentrum binnestap, pyl sy reguit op De Wit af.

“Hy het vir my openlik en eerlik die gebeure van daai dag vertel,” onthou sy. “Hy’t my in die oë gekyk en gesê hy’t die sneller getrek.”

Haar stem bewe.

“Ek het hom nie verwyt of veroordeel nie. Dit was net baie swaar om die detail te hoor. Ek het vir hom gesê ek is in pyn oor wat gebeur het, maar ek hou dit nie teen hom as mens nie.”

Op pad terug stop De Wit by die helde-akker in Robertson en bring sy laaste hulde aan Raymond.

Yolandi moet egter haar eie hulde bring. In Augustus 2010 vlieg sy Windhoek toe om vir ’n week deur De Wit en sy gesin onthaal te word in Tsumeb.

Op die negende, op die dag 25 jaar ná Raymond se dood, stop De Wit en Yolandi by die teerpad in Oshikuku.

“Ek het presies geloop na die plek in die middel van die pad en gesê: ‘Yolandi, hier het ek hom geskiet, hier het hy geval, daar het ons gelê onder die boom’,” onthou hy.

Yolandi het gehuil. Tog het sy De Wit se hand geneem en vir hom gesê: “Dis nou klaar, ons sluit dit nou af.”

“Ek het gesê ek maak hom vry en daarna het ons nooit weer op dieselfde aambeeld gehamer nie. Die boek is nou toegemaak in terme van wat in 1985 gebeur het.”

Vir Yolandi kon De Wit nooit haar broer se plek inneem nie. Hy’s wel “God se familie” – “ ’n ontsettende goeie vriend wat God oor my pad gebring het”.

De Wit is nog nie van sy post-traumatiese-stresversteuring genees nie.

Maar wat Raymond betref, het hy sy vryheid gekry. “Ek kry geweldig baie erkenning vir wat ek gedoen het en dit laat my goed voel. Ek gebruik dit as ’n voorbeeld dat ouens moet praat oor hul stories en kyk of hulle nie beter voel nie.”

‘Ek is nie kwaad vir hom nie’

Hannes Roodt maak sy eie spoke stil deur Raymond se storie te skryf vir 61 Meg se webtuiste. Hoe meer inligting hy inwin, hoe langer word die verhaal. Uiteindelik het hy 61 Meg se eie storiekompetisie gewen met sy skryfstuk “Die onbekende 61 Meg-troepie”.

Sonder dat hy van Roodt geweet het, besoek Tison verlede jaar 61 Meg se Facebook-bladsy. “Weet enigiemand van die skutter Luiters-voorval?” waag hy.

Soos vir soveel veterane word die internet vir hom ’n “eietydse Waarheids-en-Versoeningskommissie”.

Die volgende dag kry hy 30 boodskappe op Facebook. “Kort daarna het Hannes my gekontak en gesê hy’t gedag die storie is afgesluit, maar weer moes hy uitvind hulle het nie al die stukke van die legkaart nie,” sê Tison.

Hy het diep asemgehaal en vir die eerste keer sy eie verhaal geskryf.

Maar eers het hy dit in ’n koevert toegeplak en dit langs sy vrou se bed neergesit.

“Lees dit eendag,” het hy vir haar gesê. “Jy sal baie dinge verstaan wat ek nie met jou kon deel nie.”

Tison maak sy oë toe, bly vir ’n lang tyd stil. “Toe ek klaar geskryf het, het ek vir my vrou gevra of ek steeds wakker word in die nag.”

Hy glimlag. “ ‘Jy’t opgehou,’ het sy vir my gesê.

“Uiteindelik kon ek terugstaan van die oorlog. Maar daar’s baie mense vir wie die nagmerrie nog nie verby is nie.”

Sy laaste tog na heling sal wees om De Wit te ontmoet. “Ek wil hom in die oë kyk sodat ons mekaar kan vergewe. Ek is nie kwaad vir hom nie en ek wil hê hy moet dit weet.”

• Lees Hannes Roodt  en Marc Tison se oorspronklike verhale.



  • leefstyl

    Van plaasmeisie tot meestersjef

  • motors

    ’n Droom in stad én veld

  • leefstyl

    Nuwe tydskrif vir suikertande tref die rakke

  • motors

    Finse monster grom

  • leefstyl

    Verkyk jou aan wenblog

  • motors

    Audi’s gereed om Phakisa te pak

  • leefstyl

    Maak jou eie neutsmeer

  • motors

    Rooi bulletjie jaag die geruite vlag

  • motors

    Betroubaar, met g’n fieterjasies

  • motors

    Groot gedreun draai in Vrystaat

  • motors

    Dun lippies – en nog slim ook

  • motors

    Begeerlike Alfa het groot byt

  • motors

    Tierkat vir teerpad

  • motors

    Padwoede raak nou ’n tendens

  • motors

    Porsche se baas koop Kyalami

  • motors

    Elantra nog modern met goeie prys

  • motors

    Jou kans in ’n ghrênd Porsche

  • motors

    Stasiewa is vir jonges wat styl soek

  • streeksnuus

    Stoomtrein na Irene

  • streeksnuus

    Motorskou waar die rook borrel

  • streeksnuus

    Altyd op soek na iets nuuts

  • streeksnuus

    ‘Heksie’ bring pret

  • streeksnuus

    Kliek nog ‘hemel-op-aarde’

  • leefstyl

    My kind is dood...

  • leefstyl

    Bewapen jouself teen dié virus

  • leefstyl

    Dís wat SA in Julie by ‘aanlyn dokter’ wil weet

  • leefstyl

    Agt naelmites

  • leefstyl

    Wonde: behandel elkeen anders

  • leefstyl

    Kry só gesonde winterhare

  • leefstyl

    Juwele met skop én byt

  • leefstyl

    Van amateur tot Spielberg

  • leefstyl

    Ligloop vir dié kuberstrikke

  • boeke

    Donkerte van psige én die internet ontbloot

  • boeke

    Nuwe naam om dop te hou in misdaadspanningsgenre

  • boeke

    de dag is nog niet begonnen

  • jip

    Die lewe is n kaaskrul

  • jip

    Moderne skerm of tydlose papier?

  • jip

    Julle op Facebook

  • jip

    Geldslim in ’n japtrap

  • jip

    Watter fliek-genre is die beste?

  • boeke

    Nes van misverstand, obsessie, jaloesie, liefde en seks

  • Verbruikersforum

  • boeke

    Bendewêreld van Manenberg oortuigend weergegee

  • by

    Want prinsessies moet ook maar wag

  • by

    240 km stroomaf in my kano

  • by

    As ’n ongelese boek kom spook

  • by

    Solank die wind waai . . .

  • naweek

    Deur die lens: Kyk net noord

  • naweek

    Soos ’n lam ter smaaklike slagting

  • naweek

    Gebou op blink klippies

  • naweek

    Beste steak in Suid-Afrika

  • naweek

    Bekyk Manhattan van immigrante-eiland af

  • naweek

    Tafelwyn waaroor haan kán kraai

  • naweek

    Die karate kind(ers)

  • leefstyl

    ‘Kry my daar, en vinnig!’

  • naweek

    Trinchado’s vir daardie oerlus

  • naweek

    Oporto se seëning

  • naweek

    Pionierbome gepas vir nuwe tuin, maar leef nie baie lank

  • naweek

    Cathay Pacific weer wêreld se beste, sê 18,85 miljoen

  • naweek

    Eikestad ‘leef en beef’ ook ná oes

  • naweek

    Umbrië, die groen hart van Italië

  • naweek

    Lekkerbek-gaste doen tuin aan

  • naweek

    Vertoef ’n wyle in die geskiedenis

  • naweek

    Op Emile Joubert se Sondagtafel

  • naweek

    Hoog tyd vir die doodgewone

  • naweek

    Uitsig op dolfyne