Johannesburg Verander Area
  • Vandag

    23°C / 10°C

    Wind 14km/h

    Reënval 3.1mm

    Humiditeit 47%

  • Donderdag

    21°C / 11°C

    Wind 14km/h

    Reënval 0.7mm

    Humiditeit 54%

  • Vrydag

    22°C / 11°C

    Wind 16km/h

    Reënval 0.2mm

    Humiditeit 37%

  • Saterdag

    24°C / 12°C

    Wind 6km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 30%

  • Sondag

    24°C / 13°C

    Wind 9km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 33%

  • Maandag

    24°C / 12°C

    Wind 12km/h

    Reënval 0.1mm

    Humiditeit 38%


By

Bankrockskap van ’n revolusie

Danie Marais
Vrydag 14 Junie 2013
Die rock-era is verby, deel van die musiekgeskiedenis. Daarmee saam ons optimistiese geloof in die toekoms, hunker Danie Marais.
Grafika:Theuns Kruger

Wat het geword van rock ’n’ roll?

“Dis die einde van die rock-era,” het Paul Gambaccini, die Britse veteraan-platejoggie en “professor van pop”, al twee jaar gelede verklaar.

“Dis verby, nes die jazz-era verby is. Dit beteken nie daar sal nie meer goeie rock-musikante wees nie, maar rock as ’n dominante styl is deel van die musiekgeskiedenis.”

Die syfers ondersteun Gambaccini se stelling: In die Britse trefferlyste het rock-liedjies in 2010 tot die laagste vlak in 50 jaar gedaal met slegs drie nommers onder daardie jaar se tophonderd-treffers.

Bill Haley & His Comets se “Rock Around the Clock” (1955) word beskou as die eerste nommereen-treffer van die rock-era, maar ’n mens sou ’n sterk saak daarvoor kon maak dat rock al sedert die vroeë 1970’s een van die popkultuur se gunsteling- sterwende swane is.

In Cameron Crowe se wonderlike tragikomiese fliek Almost Famous (2000), wat afspeel in die 1970’s, sê die kultusfiguur en rock-skrywer Lester Bangs (Philip Seymour Hoffman) reeds aan die begin van die prent vir die groentjie-musiekjoernalis William (die jong Crowe, gespeel deur Billy Crudup): “Well, your writing is damn good. It’s just a shame you missed out on rock and roll. It’s over. You got here just in time for the death rattle, the last gasp, the last grope.”

Daarom is Bruce Springsteen dan ook as die redder van rock gevier toe sy derde album, Born to Run, in 1975 onder dawerende lof uitgereik is. In die 1990’s was dit Nirvana en Pearl Jam wat dié (goue?) kalf weer uit die put moes trek, en in die nuwe millennium was The White Stripes, The Strokes en The Black Keys die noodartse.

Maar wat verloor ons wanneer die rock-era verby is en hoekom is daar soveel nostalgie rondom hierdie primitiewe vorm van opruiende musiek?

Die Skotse sanger-liedjieskrywer Sandi Thom se irriterende, pleitende nommereen-treffer van 2006 “I Wish I Was a Punk Rocker (With Flowers in My Hair)” som dié kollektiewe musikale versugting van ’n jonger generasie netjies op.

Die idee dat ’n vredeliewende hippie en anargistiese punk saam brood sou breek, is absurd – ’n utopiese en distopiese wêreldbeskouing is immers twee teenpole.

In sy skitterende popfilosofiese manifes Retromania: Pop Culture’s Addiction to Its Own Past (2011) wys Simon Reynolds egter daarop dat Thom “doelbewus 1967 en 1977 laat saamsmelt om uiting te gee aan die vae nostalgie wat baie jong mense voel vir ’n goue era toe musiek nog skynbaar krag, invloed en integriteit gehad het”.

Reynolds verklaar hierdie voortdurende romantisering van die blommekinders se revolusie in die 1960’s en die radikale ontploffing van punk in die 1970’s met behulp van die Franse filosoof Alain Badiou se beskrywing van “The Event” – ’n historiese draaipunt, ’n oomblik waar tyd en ruimte as’t ware skeur en iets nuuts in die wêreld verskyn.

Die Westerse kultuur, meen Reynolds, hou aan hunker na daardie “Gebeurtenis” – iets aardskuddend soos die Franse Revolusie of die studente-opstande van 1968 wat alles skynbaar netjies in vóór en ná verdeel.

Maar wat tans hoogty vier, is ’n halfhartige hunkering na iets wat nie waarlik nuut of revolusionêr is nie. Dít het skynbaar ondenkbaar geword. Ons sit nou met die nostalgie vir ’n tyd waarin ons kon glo in die moontlikheid van ’n nuwe era.

LCD Soundsystem se alternatiewe dansvloer-treffer “Movement” (2004) het die koersloosheid van die 21ste eeu se nostalgie-gedrewe rockherlewing bytend verwoord: “It’s like a discipline / Without the discipline of all of the discipline / It’s like a movement / Without the bother of the meaning / It’s like a culture / Without the culture of all of the culture.”

Die filosoof Svetlana Boym herinner ons in The Future of Nostalgia (2001) dat rock, eens die klankbaan van ’n revolusie, se onvermoë om progressief te wees net deel is van ’n groter Westerse kulturele bankrotskap: “Die 20ste eeu het begin met futuristiese utopiese visioene en geëindig in nostalgie.

“Die optimistiese geloof in die toekoms het outyds geraak, terwyl nostalgie, ten goede of ten kwade, nooit uit die mode gegaan het nie – dit bly onheilspellend kontemporêr.”

Wat nietemin ’n vreemde parallaksfout bly, is dat die toevallige klankbaan van dele van die 1960’s en 1970’s met die inhoud van sekere utopiese en anargistiese bewegings verwar is. Want in rock was daar van die begin af iets anti-intellektueel en regressief en dis dalk juis waar die aantrekkingskrag, die primitiewe voedoe lê.

David Briggs, die ikoniese musiekregisseur, veral bekend om sy werk saam met Neil Young, het dit só gestel:

“With rock and roll, the more you think, the more you stink. [...] Rock and roll is not sedate, not safe, has truly nothin’ to do with money or anything. It’s like wind, rain, fire – it’s elemental. Fourteen-year-old kids, they don’t think, they feel. Rock and roll is fire, man, FIRE. It’s the attitude. It’s thumbing your nose at the world. [...] You can’t have it both ways. You’re a rock and roller. Or you’re not.”

Dis nie in aktivisme nie, maar in hierdie piromanie – Jerry Lee Lewis se “goodness gracious great balls of fire” en Little Richard se “A-wop-bom-a-loo-mop-a-lomp-bom-bom!” – waar die charisma van alle argetipiese rockers van Elvis tot Keith Richards en Hank Moody (David Duchovny) van die kultus-televisiereeks Californication lê.

Miljoene mense hunker eenvoudig nog na die moontlikheid om “nee!” te sê en gehoor te word, om vir ’n verandering te doen wat hulle wil, om uit hul velle te ontsnap en saam met Elvis te sê: “You ain’t nothin’ but a hound dog.”

Of soos Fokofpolisiekar dit in “Antibiotika” stel: “Mik vir my hart / Dit pomp wildernis hier binnekant.”

Danie maak hom daagliks aan skaamtelose nostalgie skuldig wanneer hy op Smile 90.4FM die program “Nommer eens om een” aanbied – ’n uur van nommereen-treffers van oral en enige tyd.



  • leefstyl

    Blooskwale wat maak dat jy die dokter vermy

  • leefstyl

    Tyd dat kinders slim word: Laat hulle speel!

  • leefstyl

    Kleurige groente in tienerjare ‘kan kanker keer’

  • leefstyl

    Die vele fasette van smaak

  • leefstyl

    5 basiese smake

  • leefstyl

    Wat beïnvloed smaak?

  • leefstyl

    Mooigoed vir jou inkopielys

  • leefstyl

    Kies die regte blaaier

  • jip

    ’n ‘Loner’ wat sê net wat hy dink

  • jip

    Rooies verras Monnas

  • jip

    Monument se netbal kook

  • jip

    Drie Paastoernooie dié naweek

  • jip

    Klofies verhang bordjies teen Affies

  • Verbruikersforum

  • jip

    Uitslae

  • jip

    Viljoen kán in tienertaal skryf

  • jip

    Dié boek is nie vir tieners nie

  • jip

    Pryse wag vir wenners van gedigtekompetisie

  • jip

    Om dertig te word

  • jip

    Wetenskap, ontmoet Kuns