Johannesburg Verander Area
  • Vandag

    20°C / 6°C

    Wind 20km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 25%

  • Vrydag

    20°C / 8°C

    Wind 12km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 21%

  • Saterdag

    23°C / 14°C

    Wind 17km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 31%

  • Sondag

    21°C / 6°C

    Wind 22km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 19%

  • Maandag

    19°C / 9°C

    Wind 12km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 38%

  • Dinsdag

    21°C / 10°C

    Wind 14km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 33%


By

Giuseppe Verdi 200 jaar later

Vrydag 14 Junie 2013
Vanjaar is die 200ste herdenking van die geboorte van die twee kolosse van 19de-eeuse opera, Italië se Giuseppe Verdi en die Duitser Richard Wagner. André Pretorius het vroeër sy eie hulde in Verdi se geboorteland gaan bring.

Die taxibestuurder van die Linate-lughawe is bedruk. Oor vier dae gaan Italianers opnuut na die stembus om ’n regering te probeer kies en op pad na ons hotel naby die Teatro alla Scala beween hy die lot van sy land: “Italië is ’n wonderlike, mooie land, maar sy politici laat hom in die steek. Ek sal nog hierdie een keer gaan stem, maar as dit weer ’n gemors is, stem ek nooit weer nie.”

’n Paar uur later sit ek in die rooi fluweel van La Scala. Op die verhoog is die Hebreeuse ballingslawe van Giuseppe Verdi se opera Nabucco saamgebondel. Die donker strykers en houtblasers lei die bekendste stukkie koormusiek uit enige opera in: “Va, pensiero . . .”

Die gehoor kom nié op hul voete nie en vernietig daarmee ’n illusie uit my kinderjare, geskep op daardie middae saam met oom Dolf en tannie Wilna in hul huis in die bos naby die rivier: Een van die mites wat ek tussen hul duisende langspeelplate ontvang het, is dat die gehoor in La Scala immer opstaan vir hierdie koor.

Dan val die koor in en roep hul verre vaderland in herinnering. “O, mia patria, sì bella e perduta,” eggo hulle die versugting van ons taxibestuurder: “O, my vaderland, hoe beeldskoon en verlore . . .”

Hierdie stukkie musiek is die embleem van Verdi se status as musikale totempaal van die Risorgimento, die “herrysing” en unifikasie van Italië in die 19de eeu. (Italië soos hy vandag op die wêreldkaart lê, het eers in 1861 tot stand gekom.)

Om hier te sit is om deur tyd terug te tuimel tot in die lewenslus en idealisme van daardie epog. Die Risorgimento se droom van “Italië” is soos ’n onbeantwoorde liefde: Die werklike, verworde Italië wat aan die einde van die week sou verkiesing hou, is soos ’n huwelik wat suur geword het.

Miskien is dít waarom Verdi steeds Italiaanse hartsnare roer soos geen ander komponis nie: Hy is die klankbaan van hul wittebrood.

Liters geskiedkundige ink is al verspil op die vraag of Verdi se musiek werklik bygedra het tot die Risorgimento en of dit ’n mite is wat agterna geskep is (hy was wel ’n ondersteuner van Garibaldi se nuwe Italië). Indien dit ’n terugskouende mite is, sou dit nóg die eerste nóg die laaste toeëiening van Verdi se musiek wees – elkeen wat iets van sy musiek weet, het immers sy “eie Verdi”.

‘Huil-lied’ van ’n meisietjie

Dikwels is die toeëiening misplaas: Ek kon dit nie weet toe ek Pretty Woman in 1990 gekyk het nie (vir ’n skoolseun van net bo die ouderdomsperk was ander dinge belangriker in dié fliek), maar wanneer Richard Gere Julia Roberts na die opera vlieg, is dit vir La traviata.

En wanneer hy teruggaan na haar toe vir die gelukkige einde – halflyf uit ’n wit limo – is dit op die note van “Amami, Alfredo”, die opera-heldin Violetta se ontroerende afskeid van haar geliefde Alfredo.

Die gehoor in La Scala staan miskien nie op vir Nabucco se slawekoor nie, maar hul wyding tot hierdie koor is ondubbelsinnig: Toe die laaste woorde sotto voce wegsterf, begin hulle met applous wat duur tot die dirigent, Nicola Luisotti, bes gee en die koor herhaal.

Die tweede keer is die belewenis selfs intenser, meer persoonlik, en my hele wese het hoendervel met die eggo van iets van my oorgeërfde “eie Verdi”.

My ma noem hierdie haar “huil-lied”. Dit het niks te doen met die lot van die Hebreeuse slawe nie, niks met die Risorgimento nie, maar alles met die belewenis van ’n klein meisietjie in die bed op ’n Saterdagaand op die bosboustasies van Natal en die Oos-Transvaal. Sy hoor die droewe klanke van agter die toe slaapkamerdeur waar haar ouers luister na U eie keuse op die Afrikaanse radio. Miskien sal dit eendag die klankbaan van haar uitvaart wees.

Dus sing hierdie koor van die lot van die Hebreeuse slawe, en van die hoop en herlewing van Italië in die 19de eeu, en van die woordelose, onbegrypende, lewenslange verdriet van ’n meisietjie en vrou in die verre Suid-Afrika.

Siel van die mensdom

Die première van Nabucco in La Scala in Maart 1842 was Verdi se groot deurbraak. Hy sou self later oor sy land skryf “instrumentele musiek is nie óns kuns nie”. Italiaanse musiek is die musiek van die stem en oor die volgende halfeeu sou hy van die grootste operas van alle tye komponeer.

Die eerste dekade ná Nabucco het die komponis beskryf as sy jare as “galeislaaf”: Sy populêre sukses het die een opdrag ná die ander verseker.

Op ’n wint’rige Saterdag in Triëst, die noordoostelike stad wat eers in 1918 deel geword het van Italië en die embleem is van sy finale hereniging, gaan kyk ek een van daardie opdragoperas, Il corsaro.

Die musiek is pragtig, indien enigsins resepmatig, en die sang – deur meestal Italiaanse sangers – van uitstaande gehalte vir ’n teater wat eintlik maar ’n provinsiale buitepos is.

Later, in ’n naweek toe ’n nuwe pous besig was om in Rome ingeburger te raak, het ek ’n ander opera uit die galeislaaf-jare, I due Foscari, in die operahuis van Rome gaan kyk. Op die podium was Riccardo Muti, die vermaarde maestro wat dit sy projek vir 2013 gemaak het om die vroeë operas te laat herleef.

Die eerste bedryf lewer onbeplande drama op: Kort ná die tenoor se aria, begin die dekor in duie stort en die vrouekoor vlug met onmusikale krete van die verhoog. ’n Uur later is orde herstel en die vertoning gaan voort.

In hierdie vroeë operas slaag Verdi-die-dramaturg nog nie in dieselfde mate as Verdi-die-musikus nie: Die drama oortuig nie deurgaans nie, maar die musiek is onweerstaanbaar, veral in die hande van Muti, miskien die voorste Verdi-dirigent van ons tyd.

“Verdi verteenwoordig die siel, nie net van Italië nie, maar van die ganse mensdom,” het Muti in ’n onderhoud aan ’n Italiaanse tydskrif gesê. “Mense in elke uithoek van die aarde kan in Verdi elemente vind wat spreek tot hul diepste hart en siel.”

’n Droefheid oor alles

Teen die einde van die 1840’s was Verdi se reputasie van so ’n aard dat hy kieskeuriger kon raak. In dié tyd het hy ook ’n landgoed gekoop by Sant’Agata naby sy geboortedorp, Roncole, aan die oewers van die Po naby Parma.

Op die bittere koue oggend ná La Scala ry ek deur hierdie plat, sneeubedekte landskap na daardie landgoed en die opstal waar hy die laaste 50 jaar van sy lewe deurgebring het saam met sy tweede vrou, die sopraan Giuseppina Strepponi.

Dit is steeds in die besit van verlangse familie en vier van die vertrekke word as private museum bewaar soos dit was toe Verdi op 27 Januarie 1901 oorlede is. Ek word by die hek ontmoet deur Lorenzo, ’n regstudent van Piacenza wat as vrywillige gids hier werk. Hy sluit die museumkamers oop en skakel die ligte aan.

Daar hang ’n droefheid oor alles: Verdi se slaapkamer, Strepponi se groen fluweelbed, sy klaviere, sy doodsmasker, korrespondensie, eerbewyse, die wit handskoene waarmee hy die première van sy Requiem gedirigeer het, ’n gipsafdruk van sy hand, die terracotta-borsbeeld deur Vincenzo Gemito wat hy beskou het as die beste gelykenis van hom, die opgestopte papegaai waarvoor hy en Strepponi so lief was. Die Christus se ivoorarms aan die krusifiks bo Strepponi se bed is lank reeds gebroke.

Ons stap in die stuiwende reën deur die tuin van eksotiese bome wat Verdi self hierheen ingevoer en aangeplant het. Hier is sy koetse, daar die graf van hul geliefde poedel, Lulu. Dit is ’n beeld van plattelandse fatsoenlikheid wat moeilik te versoen is met die grootsheid van sy musiek en sy statuur.

Verdi had min erg aan die plaaslike dorpies: Die grootste dorp in die omgewing, Busseto, het hom in sy jeug oor die hoof gesien as kerkorrelis. Van Sant’Agata het hy geskryf dit is “ ’n walglike, geïsoleerde dorpie” en “jy sal ver soek vir ’n leliker plek as hierdie”. Maar sy eie landgoed was ’n toevlug.

Wat is sy gunsteling-opera van Verdi, vra ek Lorenzo. “Rigoletto en Aïda,” antwoord die regstudent sonder huiwering.

A, Rigoletto!

“Rigoletto shows Italian opera, ‘that ultra-classical product of Romanticism’, at high noon”, skryf John Rosselli in sy Verdi-biografie. En kan enige mensesiel onaangeraak wees deur die lot van die hofnar aan die hertoghof van Mantua?

Die enigste vreugde in die lewe van Rigoletto, die boggelrug-nar, is sy vlekkelose dogter, Gilda. Hy beskerm haar met heel sy hart en siel, maar dan ontvoer die hartelose howelinge haar vir die plesier van die wellustige hertog.

Rigoletto soek naarstiglik na haar en wanneer hy haar vind – ná haar ontmoeting met die hertog in ’n niemandsland tussen verleiding en verkragting – neem hy haar in sy arms en sing – of is dit pleit? – “Piangi, piangi, fanciulla . . .”, “Huil, huil, meisiekind . . .”

In oomblikke soos hierdie is dit asof die Italiaanse maestro vanuit hierdie villa in die middel van nêrens die gansheid van menswees kon sien en dit verbeeld in musiek en musiekdrama soos geen ander.

Die bestek van emosies wat Verdi in sy musiek vasvang, en sy gawe vir melodie, is feitlik grensloos.

Parma-ham vir ‘Mr. Verdi’

Van Verdi se opstal ry ek deur die sneeulandskap na ’n nabygeleë bestemming wat sy innigheid met hierdie vlakte van die Po in herinnering roep.

Anderkant die vensters van die hotel Antica Corte Pallavicina se restaurant staan verlate byekorwe in die sneeu op ’n dyk teen die vloed van die Po. Verby die korwe vloei die rivier.

Massimo Spigaroli is ’n gesiene sjef en maak een van Italië se gesogste Parma-hamme – die onweerstaanbare culatello di zibello. Spigaroli se oupa was ’n bywoner op Verdi se landgoed, maar in die 19de eeu het hy die ou doeanepos van Pallavicina gekoop.

Hul kelder hang vol verouderende culatelli en die kelner wat die papierdun snye van dié ham vir my bring, praat eerbiedwaardig van “Mr. Verdi” asof hy nog hier naby woon. Die Spigaroli-familie, so weet hy te vertel, het hul hamme ook aan die maestro gelewer.

Voel ek ’n teenstrydigheid tussen Verdi se parogiale verbondenheid met hierdie landskap en die reikwydte van sy musiek?

Hier, op die vlakte van die Po, in dorpies wat hy nie kon verdra nie tussen mense wat hom aanvanklik misken het, het hy die tydlose en die universele laat neerslag vind in musiek, in die kuns van die menslike stem.

Is dit teenstrydigheid of noodwendigheid: Moes hy tussen mense wees, in al hul kleinburgerlikheid, om menswees self te kan sien, in al sy verwikkeldheid?

  •  André se bundel reissketse, Eilande en enklaves, is beskikbaar by goeie boekwin-kels. As hy ’n Verdi-karakter kon wees, sou dit Falstaff wees – tragies, komies, en die besope slagoffer van homself.

Waar kan jy vanjaar na Verdi luister?

26 - 29 Junie

Klassieke Kamers, Innibos-kunstefees, Nelspruit

Konsertgangers stap van kamer tot kamer om na musiek in verskillende klassieke style te luister; met Verdi-musiek as deurlopende tema.

30 Junie

Galakonsert, die Nasionale Kunstefees, Grahamstad

Richard Cock dirigeer die KwaZulu-Natalse Filharmoniese Orkes met die operasangeres Runette Botha (Standard Bank se Jong Kunstenaar van die Jaar) en Ben Schoeman (klavier).

19 - 28 Julie

Rigoletto, Brooklyn-teater, Pretoria

Salon Music se weergawe van dié opera; sonder koor, maar met al die bekende areas, duette en die kwartet, wat te sien is in die rolprent Quartet met Maggie Smith in die rolverdeling.

Die tenoor Albertus Engelbrecht kom spesiaal van Duits- land om die rol van die hertog te sing.

Vroeg 2014

Falstaff deur die Metropolitan Opera in New York by Cinema Nouveau

Die Metropolitan Opera voer op 14 Desember die opera Falstaff

op met James Levine in die orkesbak. Dit sal as ’n “The Met: Live in HD”-voorstelling vroeg volgende jaar in Cinema Nouveau- en uitgesoekte Ster Kinekor-rolprentteaters te sien wees.

André se bundel reissketse, Eilande en enklaves, is beskikbaar by goeie boekwin-kels. As hy ’n Verdi-karakter kon wees, sou dit Falstaff wees – tragies, komies, en die besope slagoffer van homself.



  • motors

    Eksklusief, maar teen ’n fris prys 

  • motors

    Stukke grofgeskut in New York te sien

  • motors

    TV-wiele

  • motors

    In die kol as ruim hardebaard

  • motors

    Dis nie ’n Audi nie, dis ’n Porsche

  • motors

    Massiewe mark lok vervaardigers

  • motors

    Merc se CLA laat koppe draai

  • motors

    In ’n lekker sportnuts-knyptang

  • motors

    ‘Vaal’ Audi A3 is wêreldmotor van die jaar

  • motors

    Hino plaaslik gebou

  • motors

    Baan én bande dalk kopseer

  • motors

    F1 se‘olifant’ het gewigtige gevolge

  • motors

    ‘Dit is die reisiger se antwoord’

  • motors

    Lambo spog met nuwe brul-bul

  • motors

    Koel miljoen vir Boxster, Cayman

  • motors

    Van VSA tot Boere-stryd

  • motors

    Swaargewig met liggewig-prys

  • motors

    BMW spog met 4 se afslaandak

  • motors

    Doelgerig nader aan Datsun-era

  • motors

    Focus nog beter gemaak

  • motors

    Gewigsperk skep gevaar

  • motors

    O, daai wildeperd kom gou weer

  • motors

    Fyn parkeer? Dit help mos nou veel

  • motors

    Kia se karweier is splinternuut

  • motors

    Baan en bande bepalend

  • leefstyl

    ‘Toor’ met stadige hoender

  • leefstyl

    Fileer ’n ronde vis

  • leefstyl

    Nektar van die gode

  • jip

    ’n Boek waarop die internet-generasie verlief sal raak

  • leefstyl

    Die bedreiging sluimer aanlyn

  • leefstyl

    Klets alte lekker en kyk weer

  • leefstyl

    Bakterieë vir welstand

  • leefstyl

    Vegetariërs moet sorg vir genoeg proteïen in hul dieet