Johannesburg Verander Area
  • Vandag

    21°C / 8°C

    Wind 15km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 18%

  • Vrydag

    20°C / 8°C

    Wind 19km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 15%

  • Saterdag

    15°C / 4°C

    Wind 16km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 36%

  • Sondag

    15°C / 5°C

    Wind 11km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 23%

  • Maandag

    17°C / 8°C

    Wind 7km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 35%

  • Dinsdag

    16°C / 6°C

    Wind 17km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 36%


Aandete met Gys de Villiers

In New York wíl ek werk

Kirby van der Merwe
Vrydag 14 Junie 2013
Wat maak ’n Suid-Afrikaanse akteur as hy al alles van ’n hênsopper tot ’n Rus gespeel het? Hy volg die Amerikaanse droom. Só het Gys de Villiers op ’n koue wintersaand aan Kirby van der Merwe verduidelik.

‘Dis hoe ek Joburg onthou as ’n laaitie, die koue wind wat so deur jou sny,” sê Gys de Villiers toe ons ons sit kry in die hoek van The Corner Café and Bistro in Craighall Park.

Hy is toegewikkel teen die koue aandlug, dik baadjie, swart rolnektrui, serp, mus en ’n baard wat net-net begin krul.

Wat’s met die baard, vra ek.

Hy lag en wys na sy kaal kop: “Ek kan nie my hare laat groei nie, so ek probeer maar met die baard speel.”

Gys (52) moes die baard groei vir sy rol as die patriarg in Deon Opperman se televisiereeks Donkerland.

“Ek verskyn in twee episodes,” vertel hy. “My karakter is gespeel deur ’n jong outjie. Toe kom ek in as 60-jarige en hulle verouder my tot 80. Dan gaan die storie oor sy nasate.”

Hy skerts: “Die verhaal strek oor 150 jaar, so almal verskyn slegs in enkele episodes – tensy jy as ’n spook terugkom.

“Ons maak 21 Junie klaar. Dan waai die baard, want die 26ste is ek op die verhoog by die Innibos-fees met my eenmanstuk Wit manne se wapens.

“Ek het Greig Coetzee se bekende eenmanstuk White Men With Weapons in Afrikaans vertaal en so ’n bietjie aangepas,” sê Gys terwyl hy begin rondkyk vir ’n kelner. Hy lyk onrustig, haastig.

“Hoor hier, ek dink ons moet order en aangaan,” sê hy terwyl hy die kelner nader wink. “Sorry, man, ek is heeldag uit.”

Dit is laat, sesuur. Dié eetplek is naby sy blyplek en hy is vertroud met die spyskaart. “Ek sal jou sê wat die lekkerste is,” help hy. “Eet jy pizza?”

Ek knik. Hy bestel Tab met “a few drops of bitters” en twee pizzas met ’n bolaag van “pesto rubbed haloumi, lemon, chorizo, mozzarella and red onions caramelized in apple juice on a tomato base”.

Gys wil by die huis kom, by Jaci, sy vrou, ook ’n akteur, skrywer en sanger. Sy is regisseur van Wit manne se wapens.

In Augustus sal hy te sien wees in die komedierolprent Jimmy in pienk. Daarin speel hy die rol van tweeling-broers.

Buks Bester is ’n stoere mielieboer – in ’n stadium boer van die jaar – wat skielik sterf toe die gemsbokkop van die sitkamermuur loskom. Toe eers ontdek sy gesin Pa se beroerde finansiële posisie en sy oudste seun, Jimmy (Louw Venter), moet red wat te redde is.

Sy enigste uitweg is sy pa se skatryk broer Frederik Bester, in die Kaap bekend as “Frederique”, die eienaar van ’n ketting sjiek skoonheidsalonne.

The Corner Café is besig om vol te raak van mense en gedempte gesprekke en die gesuis van die gasverwarmers vul die vertrek.

Was dit moeilik vir ’n hardebaard soos hy om Frederique met sy blonde, mullet-agtige pruik op sy kop te speel?

Gys lag, trek sy vingers deur sy baard. “Dit was maklik om so ’n rol te speel, want die movie is ligte vermaak.

“Ek hoef nie ’n ou oopmond te gesoen het of met ’n kaal man in ’n bed te gelê het nie.”

Ernstiger: “Nee-nee, dit was nie nodig vir my karakter om flambojant te wees nie. Dit gaan nie oor die uiterlike van die karakter nie, maar oor sy binneste.

“As ’n mens ’n gay ou speel, dan is dit maklik om van die buitekant af te werk en camp te gaan,” sê hy met slap polse. “Nou flap ek en nou is ek gay. Dis nie waaroor dit gaan nie.

“Ek het te goeie vriende wat gay is om die karakter op te stuur of om die karakter tweedimensioneel te maak.”

Die kelner bring die pizzas.

“Wow, look at this. Hy’s lekker, nè?” sê Gys toe die pikante pizzas neergesit word.

Luidens ’n koerantberig is hy en Jaci sak en pad op pad Amerika toe, sê ek.

“Daai berig het die gun ge-jump,” sê hy, verontwaardig. “Ek en Jaci werk nou al twee jaar om ons werkpermitte te kry. Dit hang als af of ons green cards kry voordat ons vaste planne maak.”

Maar hulle wíl in New York gaan werk.

“New York omdat dit teaterwêreld is,” sê Gys. “Ons wil daar aankom met ’n lekker one-man show. Iets soos my bekroonde teaterstuk Suig.”

Hulle is al sewe jaar getroud nadat hy “baie rondgejol en hard gepaartie” het.

“Ag, weet jy, ek dink omdat my ouers geskei het toe ek 12 was, het ek weggehardloop van trou. Ek was sku daarvoor.

“Maar toe ek die paartie opgegee het en ek is nugter vir ses maande, toe ontmoet ek weer vir Jaci. My lewe het handomkeer verander. Sy is my inspirasie, sy’s my vriendin, sy’s my lover, sy’s my vrou, maar sy’s definitief my spiritual leader.

“En met dit wil ek net sê ek sien so baie mense wat lonely is. Ek dink net ’n mens moet glo en vertrou jou deksel is daar. En dan moet ’n mens bereid wees om te verander. Ek sê altyd compromise is nie ’n slegte woord nie.

“Jy weet, dit was maklik vir my voorheen om fout te vind by iemand en om dan ’n rede te kry om weg te hardloop. En daar kom ’n punt waar jy moet compromise en sê die 95% waarvan ek hou van ’n persoon is vir my belangriker as die 5% waarvan ek nie hou nie.

“En daai bietjie te compromise om dan ’n gelukkige lewe verder te kan hê. Want vir my is dit definitief baie lekkerder om deur die lewe te stap mét iemand.”

Die Amerika-ding het begin toe hulle twee jaar gelede vir sy 50ste verjaardag daar gaan vakansie hou het. “Dit was maar net om ’n bietjie inspirasie te kry,” sê Gys. “Om ons well weer vol te maak.”

In New York het hulle in die 3-Legged Dog-teater na ’n optrede deur die legendariese sangeres Meredith Monk gaan kyk.

“Monk was my vrou se heldin as jong aktrise. Ons kom toe daar aan – dis ’n kleinerige teater met so 200 sitplekke – en daar staan ’n vrou van 68 jaar oud en sy dans en sy sing en sy skryf die beste songs. Dit het ons só geïnspireer.

“Ek en Jaci het oor die jare baie ingesit in ons beroepe. Maar ’n mens slaan ’n ceiling in hierdie land. Ek het hom 20 jaar gelede geslaan en dit nie besef nie. Ek is nou 52 jaar oud. As ek ’n change wil maak, moet ek dit nóú doen.”

Nie dat hy hier ’n tekort aan teater-, rolprent- of televisiewerk gehad het nie, sê hy.

“Ek het ’n beautiful rol gehad in Jimmy in pienk en ’n hoofrol in Verraaiers. Die movies word ’n jaar later vrygestel. Dán is jy nou ’n ster in die publiek se oë, maar ek kan nie my huur betaal nie, want teen daardie tyd is die geld wat jy vir jou rolle betaal is lankal op.”

Hy en Jaci hoop om elk op grond van hul sterk CV as “aliens of extraordinary ability” Amerikaanse werkpermitte te kry.

Hy lag, spot met homself: “Ek is nie blind nie. Ek weet dis tough daar. Ek is nie ’n jong man wat in die tou gaan staan saam met 300 000 jong mans nie. Ek gaan in die tou staan met 100 000 ouer mans.”

Maar hulle sien hul voorneme as ’n avontuur: “As dit werk vir ons, sal ons bly. As dit goor is, dan kom ons terug.”

Sy voorliefde was nog altyd teater, sê Gys. “Maar ek sal nie omgee om slegte Rus nommer drie van links af in ’n movie te speel nie. Dis fine. Ek het al ’n Rus gespeel in The Wild. Die idee is om myself te challenge.”

Die kelner verwyder ons leë borde.

“Kyk, ek is ’n stage actor, maar my droom was nog altyd om saam met Anthony Hopkins in ’n movie te speel.

“Amen.”

Kirby was nog nooit in die VSA nie, maar wil graag New York besoek om ’n opera in die Metropolitan-teater by te woon.

Spyskaart
The Corner Café and Bistro, Craighall Park
Cappuccino x1 R17
Tab x1 R15
Pesto haloumi-pizza x2 R170
Coke Light x1 R15
Fooitjie R25
Totaal: R242


  • motors

    Ponie van 60’s herleef

  • leefstyl

    ’n Plesier vir die oog en die tong

  • leefstyl

    TV se ‘Cake Boss’ kom deel sy kennis

  • motors

    Nuwe Figo’tjie bied nog waarde

  • motors

    Ferrari’s groet Kyalami (dalk)

  • leefstyl

    Varkpens bly maar bobaas

  • motors

    Stepway beïndruk op vele vlakke

  • motors

    Inval van die Etios Cross begin

  • motors

    Kwaai NX nie vir sissies in nutsmark

  • motors

    Marquez in reuse se spore

  • motors

    Corsa no. 5 omvattend vernuwe

  • motors

    Nege ding mee om die kroon

  • motors

    Klein ramkat kry sy naam

  • motors

    Loopdop nie meer hoofsondaar

  • motors

    Kopskuif kan tandeknersers red

  • motors

    Nou kan jaers weer hul renvernuf wys

  • motors

    Superwaens in konvooi see toe

  • motors

    Dié VW’s kos min om te bedryf

  • motors

    Panda Cross hups soos jonges

  • motors

    Só lyk Britse top-vragmotor

  • motors

    Mazda het groot planne met ‘2’

  • motors

    M5 perfek vir gesin én alleen ‘druk’

  • leefstyl

    Etes in ’n japtrap

  • leefstyl

    Boere-barok

  • leefstyl

    Hoekom vroue anders bedraad is

  • leefstyl

    Verhouding en fantasie vuur drange

  • leefstyl

    Plek van vrede, rus in babakamer

  • leefstyl

    Die geur van seewier

  • leefstyl

    Jong vroue behoorlik bederf

  • leefstyl

    Retro ontmoet modern

  • leefstyl

    Angstig, of maar net kind?

  • leefstyl

    Noodhulp vir jou beste vriend

  • leefstyl

    Lekker verjaar, u koninklike hoogheid!

  • boeke

    Goeies góéd; slegtes verveel

  • boeke

    Debuut wat nog lank begogel

  • boeke

    Gru-blik op tienerangs aangrypend

  • boeke

    Bittersoet genot in dié aritmiese boek