Johannesburg Verander Area
  • Vandag

    19°C / 7°C

    Wind 10km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 26%

  • Donderdag

    20°C / 8°C

    Wind 12km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 20%

  • Vrydag

    20°C / 7°C

    Wind 22km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 17%

  • Saterdag

    14°C / 1°C

    Wind 19km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 37%

  • Sondag

    14°C / 4°C

    Wind 14km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 19%

  • Maandag

    16°C / 6°C

    Wind 21km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 37%


buiteland

Oogbederf aan Italiaanse kus

Rozanne Els
Vrydag 28 Junie 2013
Die Italiaanse kus is vol onverwagte juwele, waarvan een ’n voormalige vissersdorpie, Nervi, is. Dit is minder bekend as die nabygeleë Portofino, maar met ’n tuiste so tussen die berg en see is dit nie ’n greintjie minder mooi nie. Rozanne Els vertel meer.

Ek haal die trein uit Genua na Nervi. Die rit is minder as ’n halfuur, maar die treinwa se ritmiese heen en weer sus my, en my moeë oë wil-wil toeval.

Dis wanneer ek die see uit die venster sien dat ek weet ons is naby. Die trein stop en die mense peul by die deure uit. ’n Yskoue bries groet my en enige slaperige oorblyfsels is vinnig uit my lyf.

Nervi is nie ’n groot dorpie nie, maar sy mense het wel twee groot punte van trots: Die Passeggiata (aandwandelingpad) Anita Garibaldi en die welige Parchi di Nervi.

Met die son wat sy kop begin uitsteek, besluit ek om laasgenoemde eerste te besoek.

Parchi di Nervi

Nie ver van die piepklein en verlate treinstasie nie vind ’n mens een van die ingange na Nervi se geliefde park. Dié park, sowat 9 ha groot, is destyds uit die tuine van die villas Grimaldi Fassio, Groppallo en Serra geskep.

Groen begroet jou. Dit is bome en plante net waar jy kyk. Plek-plek word die boom- of plantsoort aangedui, maar ek is nie ’n kenner nie en ek stop dus net waar iets my aandag trek– omtrent oral!

Tussen die groen is daar elke dan en wan ’n spatsel kleur – ’n pienk blom hier, ’n bloedrooi een om die draai. Daar is kronkelende paadjies met skaam eekhorings wat probeer om vinnig en ongesiens verby te skiet.

Dorpenaars wat met hul honde kom stap, knoop geselsies aan en groet vriendelik in die verbygaan. Wanneer ’n bebaarde Italianer se oorvriendelike skaaphond my met modderpote bespring, volg die “so sorry! so sorry!” my tot nagenoeg 200 m verder.

Die park is ook die tuiste van vier besonderse museums en omdat ek dié wou sien, kon ek nie te lank op die bankies stilsit nie.

Die Galleria d’Arte Moderna is in die voormalige Villa Serra terwyl die Raccolte Frugone-museum in die voormalige Villa Grimaldi Fassio gehuisves word.

Dié twee museums spog met talle skilderye, tekeninge en beeldhouwerke deur Italiaanse en ander kunstenaars van die 19de tot 21ste eeu. In laasgenoemde word jy behoorlik bederf met die werk van onder andere Giovanni Boldini en Giuseppe de Nittis.

Ek is ook na die Wolfsoniana wat veral fokus op die propaganda-kuns van 1880 tot 1945, asook na die Museo Giannettino Luxoro wat in die voormalige Villa Luxoro gehuisves word. Hier verkyk ek my aan die verskeie versamelings van horlosies uit die 18de en 19de eeu. Ek is stadig deur dié museums en kyk verlangend na die kunswerke en ongeskonde versamelstukke.

Die enigste haakplek is die beduidende gebrek aan Engels by van die museums. Maak dus seker jy het die belangrikste Italiaanse woorde en frases voor jou besoek onder die knie.

Passeggiata Anita Garibaldi

Uit die groen na die blou.

Dié seefront-promenade strek oor meer as 2 km en is in die kranse ingebou. Dit kronkel langs die grens van Nervi se park en het sekerlik een van die mooiste uitsigte op die Italiaanse kus.

Dis al vroegmiddag en nou word die son deur dreigende reënwolke weggesteek. Nietemin besluit ek om die promenade plat te stap. Die gedruis van die branders wat teen die rotse breek, plantegroei wat tussen die rotse uitpop, verlate restaurante en ’n eens spoggerige hotel is deel van my reis seelangs. Elke (koue) oomblik is die moeite werd. Die wolke maak weer plek vir die son en ek gaan sit op een van die bankies.

Voordat ek opstaan en na die treinstasie terugkeer dink ek: Nou is my oë behoorlik bederf!



  • leefstyl

    Boere-barok

  • leefstyl

    Verhouding en fantasie vuur drange

  • leefstyl

    Etes in ’n japtrap

  • leefstyl

    Hoekom vroue anders bedraad is

  • leefstyl

    Retro ontmoet modern

  • leefstyl

    Angstig, of maar net kind?

  • leefstyl

    Noodhulp vir jou beste vriend

  • leefstyl

    Jong vroue behoorlik bederf

  • leefstyl

    Plek van vrede, rus in babakamer

  • leefstyl

    Lekker verjaar, u koninklike hoogheid!

  • leefstyl

    Die geur van seewier

  • jip

    Dié rubriek is vir jou

  • boeke

    Gru-blik op tienerangs aangrypend

  • boeke

    Goeies góéd; slegtes verveel

  • boeke

    Bittersoet genot in dié aritmiese boek

  • boeke

    Debuut wat nog lank begogel

  • Verbruikersforum