Johannesburg Verander Area
  • Vandag

    24°C / 10°C

    Wind 26km/h

    Reënval 0.1mm

    Humiditeit 38%

  • Donderdag

    19°C / 6°C

    Wind 17km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 28%

  • Vrydag

    20°C / 8°C

    Wind 12km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 21%

  • Saterdag

    22°C / 12°C

    Wind 19km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 29%

  • Sondag

    22°C / 6°C

    Wind 20km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 26%

  • Maandag

    19°C / 8°C

    Wind 14km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 49%


By

‘Dis net nóg ’n boek’

Bowenal steeds Annelie

Vrydag 19 Julie 2013

Swart op wit is nie ’n comeback nie. Dit is maar net nóg ’n boek. Die verskil is dat ek oortuig was ek sou geen verdere boeke kon skryf voor dié een nie geskryf gekom het nie.

Daardie Sondag in November 2010 noem ek die “rasorkaan”, die “Dag van die Lamppale”. ’n Dag van verlamming, bewerasie, ’n oorvol blaas. Ek wou opgooi. Dit het gevoel asof ek 5 m bo die grond hang. My kop het heeltyd so groot en vol water soos ’n waatlemoen gevoel.

Om as ’n rassis uitgekryt te word is nie so erg nie, want ek weet wat in my hart aangaan. ’n Boek wat nie aanvaar word nie, is nie die einde van my wêreld nie. ’n Mens kan herwerk, ’n nuwe boek aanpak. Omdat die waarheid in my kop vasgemaak is, het ek net aan my eie waarheid vasgehou en geweet dit sal mettertyd beter raak.

Ek is spyt ek het gesê ek hou nie van swart mense nie. Doodgewoon omdat dit nie die waarheid is nie. Ek hou nie van barbare nie, of hulle wit of swart of turkoois is.

’n Slip of the tongue . . . Dit was ’n woordongeluk. Of ’n woord-asprisheidjie. Of ’n yslike woord-strontspul. Daar was al baie kere in my lewe dat ek nie my woorde reg uitgekry het nie. And so say all of us . . .

Om trane op te krop is een van my swaktes. Ek weet ek krop te veel op wanneer ek soggens wakker word met pyne in my kakebeen van kners in my slaap. My wal bars as ek kwaad raak en gewoonlik is dit heeltemal buite verband.

Soms was daar moord in my kopSoms selfmoord. Soms ’n oorverdowende gedruis. Soms ’n moedverlorendheid groter as ekself. Ek het geweet daar is nie ’n maklike uitweg nie; ek moet net voortstap op my reis. Want by wyse van spreke, al loop ’n leuen tog ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel.

Met my seerkry het ek alles en enigiets gedoen, van vloek tot bid. Anderkant uit tot by vreet en brei en tuinmaak en snags in die meenthuiskompleks se straatjies ronddwaal. Die kerkorrel was my sanity. Boweal was Chris, my standvastige ou gryse, my vashouplek, my bridge over troubled waters. Onder sy beskerming kon ek my kragte bietjies-bietjies herwin.

Pyn is niemand se speelmaat nieEk leef en leef en leef daarmee saam, totdat dit vanself sagter raak.

Onreg? Wie is ék om te bepaal wat was onregverdig en wat nie? Die slegste van alles was om te voel ek leef in ’n glasborrel sonder suurstof. Dat ek nie geweet het wie ek kon vertrou nie. Dis afbrekend vir die psige om in wantroue te leef.

Ek het nie weggekruip nie. Net eenkant gebly. Gaandeweg het ek agtergekom dis moontlik mý persepsie dat swart mense my met minagting aankyk. Lank voor Swart op wit klaargeskryf was, veral toe ek agterkom hoeveel swart mense in der waarheid hul hande onder my indruk en my bo hou, het ek weer in die bondel inbeweeg.

Toe kry ek steun uit ’n onverwagte oord. Die joernalis en skrywer Sandile Memela het die literatuurpolisie in Pretoria News gekritiseer – literatore wat skrywers se menings voorskryf voordat hulle pryse toeken. Sandile was een van baie. Báie. Genadiglik bepaal ék nie die spyskaart vir mediamense nie. Hulle besluit self wat hulle wil eet. Ek dink steeds politieke korrektheid is ’n aangeplakte boetie-boetie-spelery.

Ek het my skryfloopbaan teruggevat, maar ’n mens vergeet nooit. Die brein is ’n spons wat herinneringe opsuig. Genadiglik kan jy nie net gaan lê en vanself doodgaan nie. Jy móét die reis voortsit, dag vir dag. Oral staan engele wat oor jou waak; engele waarvan jy nooit kon droom nie.

Die één terugslag wat my verreweg die hardste gestamp het, was toe ek onlangs emosioneel genoodsaak is om uit my orrelpos te bedank. Ná maande van kneltering waarin ek uitgemaak is as valsaard wat die ampsbediening ondermyn en ’n ou kommissietjie bevind het ek voldoen nie aan gemeentestandaarde nie, het ek my rug finaal op die kerk gedraai. Dit was ’n groteske ontnugtering om eerstehands te beleef dat my kerk en God nie met dieselfde kaarte speel nie. My vertroue in kerkstrukture het soos ’n dunne riet geknak. Gelukkig is daar baie bome waaronder ek my eie kerk kan bou, met net ekself as kommissielid.

Om boeke te skryf is verreweg die bevredigendste en bevrydendste werk wat ek al gedoen het. Ook die moeilikste. Ek kán nie ’n “8-tot-5-werk” vir ’n baas doen nie. My gees wil nie so vasgebind wees nie. My Coen-broer van Oudtshoorn sê altyd: “Suster, jy’s nie onderdanig genoeg gebore om vir ’n baas te werk nie.” Skryf is nie romanties nie, dis rugbreekwerk. My ou bruin lessenaar kan ’n baie eensame plek wees. Tog is dit soos ’n witkruisarend wat op windstrome sweef.

Die woorde in my boeke kom nie altyd so maklik en vlot as wat dit uiteindelik lyk nie. Dikwels is dit ’n stryd der stryde. Daar loop weinig siele op dié aarde rond wat deurentyd hul woorde goed oordink.

Met dié boek los ek vir my kinders ’n memorieboek. Daar is geen les in nie. Dit gebeur net so gereeld dat kinders hopeloos te min van hul ouers se sielsake weet. Seker maar ’n soort erfenis uit die ouer geslagte wat nie gedink het kinders se ore moet alles hoor nie. Ek wil graag hê my en Chris se kinders moet weet van hul ouers se dinge.

Life goes on staan voorin, want alles raak weldra hanteerbaar. Pyn is nie meer elke sekonde binne-in jou nie. Jy stap aan op die reis. Jy vergeet dit was ’n Hanlie (Retief) -rubriek. Jy dink daaraan as ’n Annelie-rubriek. Ek’s lankal nie meer kwaad vir haar nie. Want dalk het sy my die grootste guns van my lewe bewys. As ek iets saam met haar móét drink, sal dit sommer ’n hele bottel hanepoot wees. Sommer so uit die bottel.

Dis te gou om te sê dié tyd in die koue was ’n goeie ding. Maar Annelie Botes was Annelie Botes lank voor sy boeke geskryf het.

  • Marlene Malan is ’n Rapport-redaksielid. Sy verpes pretensie, politieke korrektheid en opportunisme.


  • jip

    ’n Boek waarop die internet-generasie verlief sal raak

  • leefstyl

    Die bedreiging sluimer aanlyn

  • leefstyl

    Klets alte lekker en kyk weer

  • leefstyl

    Bakterieë vir welstand

  • leefstyl

    Vegetariërs moet sorg vir genoeg proteïen in hul dieet