Johannesburg Verander Area
  • Vandag

    19°C / 8°C

    Wind 10km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 21%

  • Saterdag

    19°C / 8°C

    Wind 12km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 21%

  • Sondag

    18°C / 7°C

    Wind 13km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 21%

  • Maandag

    19°C / 7°C

    Wind 6km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 19%

  • Dinsdag

    20°C / 9°C

    Wind 23km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 18%

  • Woensdag

    20°C / 8°C

    Wind 21km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 24%


By

Proust populêr danksy ’n intieme vraelys

Eben Meiring
Vrydag 19 Julie 2013
‘Ek weet ek is nie te bright nie, maar wat beteken die woord Proust?’ Dit was die vraag per SMS van ’n leser verlede maand oor die Proust Herbesoek-vraelys, wat weekliks in By verskyn. Eben Meiring het ’n antwoord.

Die Franse skrywer Marcel Proust was ’n knaap van omtrent 14 (party bronne sê 13) toe hy ’n voorloper van die vraelys wat sy naam dra in 1885 beantwoord het. Die vrae was in Engels, maar sy antwoorde was in Frans, met die titel “Proust deur homself”.

Dié dokument was in ’n soort biegboek van ’n vriendin, Antoinette, dogter van die latere Franse president Félix Faure. In 1890 het Proust die vraelys weer beantwoord en dié keer was dit dubbel so lank – 31 antwoorde teenoor 15 in 1885.

Die “speletjie” wat Antoinette haar vriend Marcel laat speel het, was sedert die middel-1850’s hoogmode in Engelse sosiale kringe. Dit het as Confessions bekend gestaan omdat dit intieme gedagtes en voorkeure onthul het.

Antoinette het waarskynlik dié vorm van salonvermaak in die Parys van die laat 1800’s help populariseer. Sy het die gewoonte gehad om haar vriendekring vir tee te nooi. Dié het sy dan ’n rits vrae in haar biegboek laat beantwoord.

Proust het die vertaalde vraelys sy eie gemaak deur party vrae weg te laat – soos wat is jou gunsteling- militêre gebeurtenis? – en ander by te sit.

Van die vrae wat hy bygevoeg het, is: Wat is die mees oorskatte deug? Wat is jou grootste vrees? Wat is jou grootste uitspattigheid?

Eersteklas-skandaal

Marcel Proust was van kleins af ’n chroniese asmalyer. Dit is juis dié kwaal wat van dié tenger, Joodse kind een van die 20ste eeu se grootste romanskrywers help maak het.

Danksy die “besielde medewerkster” –soos hy sy asma genoem het – het hy ’n literêre monument met die pen gebou. Hy het die roman laat wegswenk van die eng realisme en prosategniek van die 1800’s.

Jy kan nie ’n roman met ’n skrywer se biografie verklaar nie, het hy geglo, want ’n roman is die produk van “ ’n ander, dieper ek”.

Proust het grootgeword in die snob-klimaat van luukse salonne en aristokratiese sedes. Hy het aan die Sorbonne gestudeer en bevriend geraak met skrywers en musici, voorlopers van die kunstenaars in sy groot roman A la recherche du temps perdu (Op soek na verlore tyd).

Hy was bekend as ’n fyn kunsmens; hy was die jong man met die bleek gesig en ’n katjiepiering in sy knoopsgat. En hy het begin skryf.

Met die dood van sy ma in 1905 het ’n groot invloed uit sy lewe verdwyn, maar dit het hom ook bevry van sy inhibisies. (Op die vraag wat hy as die grootste ellende beskou, het hy in 1885 geantwoord: “Om van my ma geskei te wees”.)

Proust kluister hom in sy kamer met sy hartseer en sy siekte. Hy gee hom oor aan sy eensaamheid en aan sy werk. Hy begin onvermoeid ’n duisend herinneringe uit sy geheue opteken.

In 1911 is die eerste volume van die roman In Swann se kontrei klaar, maar hy soek vergeefs na ’n uitgewer. Uiteindelik, in 1913, laat hy die boek op eie koste publiseer.

Dit trek weinig aandag, maar toe die tweede volume, In die skadu van die ontluikende jongmeisies, ses jaar later verskyn, kry dit sommer die Franse Hertzogprys vir letterkunde, die Goncourt.

En dít lei tot ’n skandaal van die eerste klas. Proust is beroemd. ’n Skeppingskoors pak hom beet, en ondanks sy verslegtende gesondheid skryf hy nog twee dele klaar, Die Guermantes se kontrei en Sodom en Gomorra, voordat hy in 1922 aan longontsteking en ’n longabses sterf.

Selfs in sy doodsuur wou hy nog aan sy teks skaaf. Sy werk het aanhou postuum verskyn tot 1927, toe die verskillende volumes onder die titel Op soek na verlore tyd versamel is.

Dis ’n reuseteks wat Proust uit homself opgediep het, sy eie Menslike komedie. Maar anders as Honoré de Balzac s’n, is Proust se roman ’n sosiale komedie oor die hoëlui.

Die wêreld waarin hy grootgeword het, bekyk en ontleed hy met ’n fyn, verdoemende hartstog.

Snobisme en domheid

Op soek na verlore tyd begin met ’n bloot toevallige assosiasie, die smaak van ’n madeleine-koekie in ’n koppie tee.

Die verteller, Marcel (nie noodwendig Proust nie), onthou wel visueel dié soort koekies, maar hierdie keer is anders: “. . . wanneer niks van ’n ou verlede meer oorleef nie, ná die dood van wesens, ná die vernietiging van dinge, is al wat oorbly – omdat dit broser maar ook taaier, onliggaamliker, blywender, getrouer is – geur en smaak. Soos siele, onthou dit . . . dra dit ons reuse-argitektuur van herinneringe . . .”

Uit daardie koppie tee herleef ’n onuitputlike willekeurige verlede, van soete kinderdae tot tragiese hartstog, en die uiteindelike triomf van kuns oor tyd. ’n Landskap van blomtuine en waterlelies en doringbome en kerktorings. Voor ons verskyn die ryk landgoed van monsieur Swann en die aristokratiese domein van die Guermantes, oorkant; die geliefde Normandiese Combray van Marcel se kinderdae en Swann se dogter Gilberte, sy eerste liefde.

Ons beleef die hoës se maniertjies, snobisme en domheid; die ewige kringloop van liefde en ontnugtering; die angswekkende inwerking van die tyd op mens en ding en liggaam en gees; die onontkombare ritueel van oud word en doodgaan.

Proust wys ons dat die verlede nooit onherroeplik sterf nie, maar sy soeke na verlore tyd probeer nie ’n hele vergane verlede van verganklikheid red nie. Hy wil eerder, deur die intense herleef van bevoorregte “indrukke” – soos die Impressioniste met die kwas – die essensie van dinge raakvat en tydloos geniet.

Hy herroep sy verlede met eindelose fyn nuanse wanneer hy ’n reuse-netwerk van gewaarwordings en herinnerings byna fisiek verplaas van verlede na hede.

Soos Opperman se nooi in ’n nartjie is, is Proust se herwonne verlede in ’n reënvlaag, die geur van seringblomme een stormaand, die reuk van ’n muwwe vertrek, ’n strook pienk lug teen die horison, ’n sonstraal op ’n kerktoring. In die laaste volume Tyd herwin skryf hy: “ ’n Sekere naam wat jy eenkeer in ’n boek gelees het, hou tussen sy lettergrepe die windvlaag en die helder son van destyds vas.”

Omtrent geen skrywer het dieper as Proust in ons binnewêreld, ons onderbewuste, gekyk nie. Dis juis sy innerlike monoloog, waarmee hy sowel Virginia Woolf as James Joyce vooruit was, wat sy vertelling so willekeurig laat verloop en wat hy in sy kenmerkende lang, dralende sinne verwoord.

Vir Proust was literatuur die enigste lewe, “al werklik deurleefde lewe” en is die enigste paradyse “dié wat ons verloor het”.

‘Pre-popsielkunde’

Ironies genoeg is Proust deesdae bekender vir die populêre vraelys wat sy naam dra as vir sy meesterlike roman. Sedert sy dood het die weergawe wat hy geskep het toenemend gewild geword.

Tussen 1991 en 2001 het ’n Franse TV-aanbieder, Bernard Pivot, sy weeklikse kultuurgeselsie opgekikker met Proust se vraelys. Hy het sy program afgesluit deur sy uitgelese gaste te vra om die lys te beantwoord.

In 1994 het die akteur James Lipton by Pivot afgekyk: Die afgelope 19 jaar gebruik hy Proust se vraelys in sy eie Amerikaanse geselsprogram, Inside the Actors Studio, om beroemde gaste uit die fliek- en verhoogwêreld te laat “bieg”.

In 1993 het Proust se vraelys plek agterin die tydskrif Vanity Fair gekry “as a form of 20th century pre-pop psychology”, volgens die redakteur.

Die afgelope twee jaar het ook By die Proust-vraelys herinterpreteer. Maar die vraag wat gewoonlik die meeste belangstelling uitlok, was nooit deel van Proust se oorspronklike lys nie.

“Wat dink jy gebeur ná die dood?” is ’n invoeging van die vorige redakteur, Yvonne Beyers.

“Ek het dit bygevoeg omdat dit iets is waaroor almal wonder,” sê sy. “Dis een van die vrae wat die lekkerste antwoorde oplewer. In By staan daar mos net dat ons die vraelys herbesoek.”

Tog pas die vraag in by die vraelys se oorspronklike doel: Om intieme gedagtes uit te druk en as’t ware te bieg, meer as 120 jaar nadat ’n sekere jong Fransman so gemaak het.

Wat dink jy gebeur na die dood?

Wanneer ’n mens sterf, is dit die einde. Punt. Daar is geen sprake van oorlewing, in watter vorm ook al, ná die dood nie. Anders as rekenaars, wat weer aangeskakel kan word, debuteer ons eenmalig in die heelal en verval met sterfte onomkeerbaar tot die oorspronklike, submikroskopiese komponente van lewe. Hierdie wetenskaplik onweerlegbare toestand van sake word in die jongste tyd nie meer summier deur alle teoloë verwerp nie, maar word toenemend en met groot omsigtigheid vanuit die huidige teologiese debat oor die mens se plek in die heelal verken. – Jurie van den Heever (paleontoloog)

As Christen glo ek as ons sterf gaan ons reguit na ons huis in die hemel om by Jesus te wees. Geen pyn, geen vrees. Net die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan. Die dief aan die kruis langsaan Jesus het Hom erken as die Here en Jesus het vir hom gesê: “Vandag sal jy saam met my die paradys ingaan” (Lukas 23:43). Ek glo vas dat die beste nog voorlê vir dié wat glo.  – Angus Buchan (boer en prediker)

Man, daar was nog net een persoon in die geskiedenis wat gesterf en weer lewendig geword het. Dis vir my absoluut ’n nodelose vraag. Rus in vrede, dis al wat ek daaroor kan sê. – Mimi Coertse (operasangeres)

Ek heg die hoogste waarde aan die wetenskap wat werk met bewyse. Bob Dylan sing êrens in een van sy liedjies: “If you’re not busy being born, you’re busy dying.” Ná my dood sal die geboorteproses weer begin. Nie van myself in een of ander gedaante van ’n ewige lewe of ewige verdoemenis in ’n mitiese dimensie genaamd hemel of hel nie, maar dat my liggaam oor jare heen tot stof sal terugkeer. Die hergeboorte? Dat mý stof deel word van die voedingsbronne wat die kameeldoring of jakkalsbessie laat gedy tot by die hoogste groen toppe. Daarom het ek geen vrees vir die dood nie, want ek is deel van die universele siklus van die planeet waarop ek lewe, maar net één klein deeltjie van triljoene der triljoene lewende organismes in die heelal. Ek was voor my geboorte en is nou net sterrestof en sal eendag in ’n ander vorm verder deel daarvan ná my dood uitmaak. – George Claassen (joernalis, skrywer en dosent)

My filosofie het niks met enige dogma of geloof te make nie, maar maak vir my persoonlik sin. Met die dood van enige lewende wese is daar ’n skeiding van die materiële (liggaam) en die energiegedeelte van die lewende wese (dit wat ons as mense as die siel beskou). Die materiële vergaan soos wat enige biologiese entiteit vergaan. In terme van kwantumfisika is dit onmoontlik om energie te skep of te vernietig en dit pas 100% aan by die geloofsoortuiging van die meeste gelowe dat die siel van die mens (en uit my oogpunt ook die siele van alle ander lewende wesens) onverganklik is. Daardie energie beweeg dan iewers in die heelal rond. – Gerhard Verdoorn (gifkenner)

“Jy is klaar, weg, finish, gone. ’n Mens is soos ’n pyp en die lewe vloei deur jou. Wanneer jy agtergelaat word, lewe ’n mens voort in jou kinders en mense se gedagtes en herinneringe van jou.” – Dawie Roodt (ekonoom)

Hoewel dit vir ons as mense altyd ’n misterie sal bly, glo ek dat ek ná die dood gaan lewe; dat ek by God gaan wees en my geliefdes wat reeds dood is, weer gaan sien. Ek is moeg vir die mense wat so wroeg omdat hulle glo hulle moet tussen wetenskap en geloof kies. Dit is vir my juis cool om my te verwonder aan die miljarde ligjare tussen sterre en al die nuwe ruimte-ontdekkings, terwyl dit juis my geloof versterk en nader aan God bring. – Pieter Mulder (politikus)

O, beslis. Strate van jaspis en goud. – Ingrid Winterbach (skrywer en kunstenaar)

Die dood en sy inhoud, saam met die vraag na wat lewe werklik is – wat dit is wat ’n kombinasie van vog en minerale soute as lewe, as denkende lewe, laat funksioneer – is die grootste misterie van die menslike bestaan. En miskien moet ons aanvaar dat dit die een misterie is wat liefs onopgelos moet bly, want ons

het dit nodig om te weet daar is dinge bo en buite ons bevatlikheid om menslik te wees en te bly. Wat ek myself wel voorgeneem het en steeds voorneem, is om my maar vir die wis en die onwis in die hier en nou so goed en ordentlik moontlik te gedra – binne my beperkinge en by die lig wat ek nou het, bygesê. – Heilna du Plooy (digter)

Die leer van Islam maak dit duidelik daar is die “heropstanding”, waar ’n mens opgewek word ná die dood. Dan is daar die oordeel waar die “boek” van jou dade aan ’n mens oorhandig sal word. Daarna is daar die “skaal” waar goed teenoor boos geëvalueer word en uiteindelik is daar hemel en hel, waarin jy geplaas sal word op grond van jou dade. Die Almagtige sê Hy vergewe sondes wat teenoor Hom of onsself gepleeg word, maar sy oordeel kan nie toelaat dat ’n sonde vergewe word wanneer ons iemand anders te na gekom het nie. Slegs as daardie mens bereid is om jou te vergewe vir moord, verkragting, die plundering van eiendom, onderdrukking, ongeregtigheid ens. kan die Almagtige na jou in ’n positiewe lig kyk. Die sleutelbestanddele in die hiernamaals is vergifnis, genade, meelewing en absolute geregtigheid. – Imtiaz Sooliman (stigter van die hulporganisasie Gift of the Givers)

Nee, my darling , ek sal nie weet nie. Bel my as ek dood is, dan sal ek weet. Ek is ’n mens wat nie neuk met dinge wat vir my onbekend is nie. J y moet lewe terwyl jy nog lewe en dankbaar wees vir elke dag wat die liewe Vader vir jou gee . – Shaleen Surtie Richards (aktrise)

  • Eben Meiring is ’n afgetrede dosent in Frans en ’n kruisvaarder teen moeë sêgoed.



  • vrydag

    ‘Oorspronklikheid sal die deurslag gee’

  • vrydag

    Wanneer ‘ondooies’ oorneem 

  • vrydag

    Nuutste CD ’n ‘donker outjie’

  • leefstyl

    Groen badkamer kry sommer lewe

  • vrydag

    Vir Madiba

  • leefstyl

    Maak self seep

  • vrydag

    Onwaarskynlike helde met skop

  • leefstyl

    Spaar – volg dié wenke

  • vrydag

    Wat’s tops?

  • vrydag

    Dié Britse reeks is vuurwarm

  • vrydag

    Leeuemoed

  • vrydag

    Verbeelding seëvier oor wreedheid

  • vrydag

    Ontdekkingsreis in kinders se tuisklas

  • vrydag

    Spits jou ore

  • vrydag

    ‘Magnum PI’ en ‘Airwolf’ is terug

  • leefstyl

    Van plaasmeisie tot meestersjef

  • leefstyl

    Verkyk jou aan wenblog

  • motors

    Dun lippies – en nog slim ook

  • motors

    ’n Droom in stad én veld

  • motors

    Padwoede raak nou ’n tendens

  • motors

    Finse monster grom

  • leefstyl

    Nuwe tydskrif vir suikertande tref die rakke

  • motors

    Audi’s gereed om Phakisa te pak

  • leefstyl

    Maak jou eie neutsmeer

  • motors

    Rooi bulletjie jaag die geruite vlag

  • motors

    Betroubaar, met g’n fieterjasies

  • motors

    Groot gedreun draai in Vrystaat

  • motors

    Begeerlike Alfa het groot byt

  • motors

    Tierkat vir teerpad

  • motors

    Porsche se baas koop Kyalami

  • motors

    Elantra nog modern met goeie prys

  • motors

    Jou kans in ’n ghrênd Porsche

  • motors

    Stasiewa is vir jonges wat styl soek

  • streeksnuus

    Stoomtrein na Irene

  • streeksnuus

    Motorskou waar die rook borrel

  • streeksnuus

    Altyd op soek na iets nuuts

  • streeksnuus

    ‘Heksie’ bring pret

  • streeksnuus

    Kliek nog ‘hemel-op-aarde’

  • leefstyl

    My kind is dood...

  • leefstyl

    Bewapen jouself teen dié virus

  • leefstyl

    Dís wat SA in Julie by ‘aanlyn dokter’ wil weet

  • leefstyl

    Kry só gesonde winterhare

  • leefstyl

    Juwele met skop én byt

  • leefstyl

    Van amateur tot Spielberg

  • leefstyl

    Ligloop vir dié kuberstrikke