Johannesburg Verander Area
  • Vandag

    21°C / 8°C

    Wind 14km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 19%

  • Vrydag

    20°C / 8°C

    Wind 18km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 16%

  • Saterdag

    18°C / 8°C

    Wind 10km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 24%

  • Sondag

    17°C / 9°C

    Wind 15km/h

    Reënval 2.5mm

    Humiditeit 41%

  • Maandag

    16°C / 8°C

    Wind 9km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 47%

  • Dinsdag

    17°C / 6°C

    Wind 23km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 34%


Tankwa Padstal

‘Bagdad Café van die Tankwa-Karoo’

Vrydag 16 Augustus 2013
Die Tankwa Padstal op die R355 kon netsowel op ’n woestynpad gelê het op pad na Vegas of nêrens. Willemien Brümmer het by die Langes gaan kuier en uitgevind stoepsit in die Karoo is beter as DStv.

‘Die wêreld gebeur mos anderkant daai berge teen ’n moerse spoed,” sê Hein Lange en tuur na die Swartruggens-gebergtes wat groenbruin in die verte opdoem.

Hier op die stoep van die Tankwa-padstal – die Bagdad Café van die Karoo – is dit die stadiger plesiertjies waarmee hy die tyd omdroom. Soos om hom te sit en verkyk aan hoe Gert Ockhuis, een van die min mense in die Karoo wat só kan ry dat hy géén stof maak nie, uit sy bakkie klim.

Nes die mense anderkant die berge hulle sou verlekker in ’n rugbywedstryd, só hou hy elk van oom Gert se bewegings dop: Hoe hy sy enjin afskakel in die parkeerplek langs die groen-en-oranje padstal. En sit.

Hoe hy kyk vir die padskraper aan die ander kant van die draad. En sit.

Hoe hy minute later die deur oopmaak . . . En sit.

“Kyk, hy’s nou opgestaan, maar hy gaan seker eers oor 15 minute hier aankom,” sê Hein saggies of hy ’n skaars voëlsoort dophou.

’n Kwartier later stap oom Gert voetjie vir voetjie na die stoep en draai links by die winkel in. Op sy tyd koop hy ’n koeldrank, hoesstroop, ’n blikkie vis en ’n pakkie Lemon Creams – alles op die boek.

Vir hom is dié winkel ’n algemene handelaar, ’n halfwegstasie, ’n bymekaarkomplek en ’n wagplek. Dis immers die enigste padstal op die R355 – die langste stuk grondpad in Suid-Afrika sonder vulstasies, Wimpys of winkelsentrums.

Ceres toe is 86 km suid. Calvinia toe is 176 km noord en Sutherland lê 120 kilometer oos. Die naaste belofte van kos is die graffiti van ’n worsbroodjie en die woorde “street meat” 30 km suid wat op ’n watertenk tussen die klippe geskilder is.

Sigaret in hul bek

Die blou-en-wit linte wat wapper aan die telefoondrade (nee, daar is geen Telkomlyne nie) voor die padstal lyk soos feestelike wasgoed aan ’n enorme wasgoedlyn. Teen die afdak na die swemdam word jy begroet deur “die skedel van ’n ruimtewese” – in werklikheid ’n volstruis se borsbeen.

Die diefwering is van ou, geroeste plaasvurke, moersleutels en grawe en ’n oranje bord met die woordjie “Climax” verkondig sy eie geheimenisse by die ingang na die kroeg.

Laasgenoemde is die vrug van Hein se broer, Wally Lange, se soms bisarre verbeelding – dit wat gebeur as ’n kunstenaar in die rolprentbedryf, verslaaf aan veilings en skrootmetaalwerwe, in die Karoo kom woon.

Op die kroegmuur pryk onder meer ’n “Barbiecue” – ses kaal Barbiepoppe wat in ’n rooster vasgevang word – en ’n mieliestronk naby die toilet met die woorde “Spoel af en hang terug ná gebruik”. ’n Lusernsnyer hang van die dak, die kroegstoele is van deurgesaagde sinkbaddens en die bokke op die muur het ’n sigaret in die bek.

In die winkel langsaan, wat deur Hein en sy vrou, Susan, bedryf word, kan jy enigiets koop van ’n hoefyster tot ’n swangerskapstoets. Daar’s ook 12 V-soldeerboute, hondehaarknippers (glo ’n kruising van ’n skêr en ’n Epilady), hoefysterspykers, samboksalf, lemmetjies vir vleismeule, versterkdruppels, Voortrekkerkappies, kitaarsnare en ’n draadkar.

Hier kan jy ’n oogtoets laat doen vir R40 (dis vir die bril én die toets) deur te kyk of jy die woordjie “Jakkalsfontein” kan lees op die kaart. Jy kan ook vergadering hou op die stoep of jy kan boeke uitneem by die “biblioteek”.

Laasgenoemde bestaan uit bokse en bokse vol liefdesverhale en kinderboeke wat die bikers wat hier verbybrul geskenk het vir die gemeenskap.

Die biblioteek het begin as deel van die gemeenskapsprojek waarmee Hein en Susan die inwoners wil help met lewens- en handwerkvaardighede.

“Teen daardie tyd het ons reeds handnaaimasjiene as skenkings gekry en twee bokse vol boeke. Ons het nie regtig geweet wat om met die boeke te doen nie, toe skep ons ’n informele biblioteek waar die vroue en kinders kan boeke uitneem,” vertel Susan.

“Die Wild Dogs-motorfietsklub het hiervan gehoor nadat een van hul lede iets hieroor geplaas het op hulle webwerf en toe ons ons oë uitvee, toe daag hier tien bokse vol boeke op.”

’n Krokodilpilvervaardiger

Net voor oom Gert kom Magrieta Kalmeyer, haar vier maande oue baba, Morenzo, en haar ma, Annelize, by die padstal aangesuiker. Dié oggend het hulle halfsewe met hul donkiekar begin ry van Bosveldfontein, waar hulle gastehuise skoonmaak.

Drie uur later kom hulle en hul donkies, Lida, Willebok en Kolbok, by die padstal se oprit ingery. Al wat hulle koop, is eiers, koffie en koeldrank – en ’n swart kerkhoed vir Annelize.

“Ek móét hom koop,” sê sy ferm. “Ek is ’n kerkvrou.”

“Daar’s mense wat drie dae ry om hiernatoe te kom,” vertel Hein later.

“En naweke kom sit hulle net op die stoep en kyk vir die mense. Hulle sê dis beter as DStv.”

Hy lag. “As hier te veel mense is, dan raak ons senuweeagtig en dan kan ons nie lekker met hulle kuier nie. Ek vra vir almal watse werk doen hulle.

“Die snaaksste sover is ’n krokodilpilvervaardiger en ’n ou met ’n klein duikbootjie wat op en af ry langs die kus om na ondersese kabels te kyk.

“En dan was daar Kgalema Motlanthe se persoonlike kok . . .”

Hein is soos altyd filosofies oor of hierdie winkel in die middel van nêrens wat ’n jaar en tien maande gelede sy deure geopen het, ’n wins maak. Hy streel deur sy lang grys baard, teug aan sy pyp soos ’n Voortrekker van ouds.

“Een of ander slim Chinees het gesê wat jy ook al doen, moet jy ’n duisend dae lank doen – eers daarna kan jy besluit of dit suksesvol is.”

Hy droom egter groot. “Ek wil nog ’n kwekery hier opsit en ’n botaniese tuin hier aanlê. Ek probeer aansoek doen by die Duitse regering vir geld en ek het klaar met ’n boekhouer op die dorp (Ceres) gepraat sodat elke sent wat hier bestee word, neergeskryf kan word.”

Met dié geld wil hy onder meer die vroue van die omgewing in ’n bus laai sodat hulle die eerste keer die see kan sien – en Saterdae wil hy Leon Schuster-flieks vertoon.

Vir die twee kerkgroepe wat in ’n stoor en onder ’n boom naby die padstal bymekaarkom, wil hy ’n plek van aanbidding bou en as iemand in die omgewing trou, wil hy sy gemeenskapsentrum verniet aan hulle beskikbaar stel.

Skerpioenjag op Kleine De Vloeren

In ’n vorige lewe het Hein in die staatsdiens gewerk in Pretoria.

Agt jaar gelede het Wally die plaas De Vloeren gekoop en toe Hein en Susan kom kuier, was die koeël deur die kerk.

Met die eerste sien het hulle verlief geraak op die doringvygies, die bietoubossies en die gewoer van windpompe op hierdie bar stuk aarde met sy minder as 100 mm reën per jaar.

Hul twee kinders was reeds uit die skool en toe besluit hulle om ’n stuk van Wally se plaas te koop en dit Kleine de Vloeren te doop.

“Wanneer jou kinders klaarmaak met skool het jy twee keuses,” verduidelik die 46-jarige Hein. “Jy bly óf waar jy bly en jy word oud en trek na ’n kleiner huis en dan na ’n ouetehuis en dan gaan jy dood.

“Of jy verkoop alles wat jy nie nodig het nie en jy dink wat kan jy doen wat lekker is. Party ouens koop vir hulle ’n seiljag en seil om die wêreld.

“Ander koop Harley-Davidsons en verneuk hul vroue met hul sekretaresses. Ons het besluit om hiernatoe te kom.”

Hulle het ’n pad en ’n boorgat aangelê en ’n huis gebou van 15 600 uiesakkies gevul met sand, klip en klei. Hein het begin boer met turksvye en hy en Susan het tamaties, spinasie, beet, wortel, aspersie en artisjokke geplant vir die pot. Die turksvyblare gebruik hulle om te piekel en die vrugte verpak Hein in verskillende kleure in ’n 1,7 kg-boks.

Hy stap saam met ons deur sy turksvylandskap soos Alice deur ’n wonderwêreld van kaktusse. “Hierso staan meer as 40 verskillende turksvye,” sê hy trots.

“Ek kan jou waarborg dis die meeste wat jy in die Wes-Kaap sal kry op een plek. Van hulle is bitter skaars.

“Ek ry maklik Mpumalanga toe om een turksvy se blare te gaan haal.”

Dis nie al waarmee hy hom besig hou nie. Hy’s ook ’n geregistreerde kruiedokter en vir sy eie vermaak “jag” hy snags skerpioene op sy plaas.

Met ’n ultravioletliggie stap hy in die snerpende Karoonag die pad af totdat hy iets in ’n bos of agter ’n klip sien wat soos ’n vuurvliegie lyk.

Dié agtpotige gediertes is skerpioene, wat neongeel lyk as jy die lig op hulle skyn.

Hy lag. “Dis net ’n mooi ding om te doen. Ek kan nie verstaan dat ander mense dit nie ook doen nie. Maar ons maak geen slang, geen dier hier dood nie.”

Vlaktes onder jou vel

Hein se ander stokperdjie is die bou van allerlei moontlike én onmoontlike masjiene soos die kontrepsies waarmee hy dorings van turksvye afhaal en nóg een wat diesel maak van ou vis-en-tjipsolie.

Die naaste Eskomkrag is 48 km weg, daarom het hy en Susan ’n sonkragstoof wat tot vyf liter water in agt minute kan kook. In die winkel werk alles met 12 V-elektrisiteit, maar by die huis het hy ’n suiwer-sinusgolfomsetter waarmee hy die 12 V-gelykspanning omskakel in 220 V-wisselspanning.

Die telefoon werk per satelliet en die naaste selfoonontvangs is by die teerpad in ’n wêreld ver van hier.

Susan korrel na die son, wat soos ’n reuse-inferno in die weste wegsak.

“Daar’s mense wat by die padstal aankom en vra wat dóén ons op hierdie godverlate plek met sy stofpaaie,” vertel sy.

Haar antwoord? “Kom sit langs my, kyk na die berge, kyk na die wolke, kyk na die vlaktes.”

Sy glimlag. “Die vlaktes klim in jou are in, onder jou vel, in jou gebeente in. In die stad is lopende water normaal. By ons moet jy boorgate hê, jy moet waterfilters hê en jy moet krag opwek. Jy waardeer die klein dingetjies baie meer as elders.”

Hein knik. “Party dae is die radio en die foon af en daar’s geen manier om te weet of die wêreld daarbuite bestaan nie. Dit pla my nie regtig nie; dis net ’n interessante waarneming.”

...

Die Tankwa Padstal se eie kalender

Laatwinter

Die laaste naweek van Augustus vind die Hantamvleisfees in Calvinia plaas waar Karoolam op elke denkbare manier voorberei word. Op die Woensdag voor die fees (vanjaar 28 Augustus) doen ’n brigade Vaaljapies, John Deeres en Farmall-trekkers van die 1940’s en 1950’s die padstal aan vir ’n braai. Die trekkers behoort aan die Westelike Provinsie-veteraantrekkerklub, wie se lede elke jaar 200 km padlangs ry.

Vroeglente

Die Middelpos-basaar vind vanjaar op 14 September plaas wanneer die Karoo in volle blom staan. Die Williston Stoftrappers sorg vir die musiek. (’n Mens draai by die plaas Gansfontein af van die R355 .)

Somer

In Februarie vanjaar het die Langes ’n donkiekarkompetisie gehou waarin die diere gratis deur die plaaslike veearts ondersoek, ingespuit en ingeënt is. Die donkies het voerbale gekry en die wenner kontant. Volgende jaar vind die kompetisie op 1 Februarie plaas.

Laatherfs

Wanneer Tankwa Town, sowat 60 km noord, soos ’n woestynblom opbloei, word dié padstal ’n soort Karoo-“Ultracity” waarheen Burners op pad na die Afrika Burn-fees afdraai vir verversings.

  • Willemien is By se Kaapse skrywer. Sy wens sy kon die rolprentregisseur David Lynch na die Tankwa-Karoo bring.


  • leefstyl

    TV se ‘Cake Boss’ kom deel sy kennis

  • motors

    Nuwe Figo’tjie bied nog waarde

  • motors

    Ferrari’s groet Kyalami (dalk)

  • leefstyl

    ’n Plesier vir die oog en die tong

  • leefstyl

    Varkpens bly maar bobaas

  • motors

    Stepway beïndruk op vele vlakke

  • motors

    Inval van die Etios Cross begin

  • motors

    Kwaai NX nie vir sissies in nutsmark

  • motors

    Marquez in reuse se spore

  • motors

    Corsa no. 5 omvattend vernuwe

  • motors

    Ponie van 60’s herleef

  • motors

    Nege ding mee om die kroon

  • motors

    Klein ramkat kry sy naam

  • motors

    Loopdop nie meer hoofsondaar

  • motors

    Kopskuif kan tandeknersers red

  • motors

    Nou kan jaers weer hul renvernuf wys

  • motors

    Superwaens in konvooi see toe

  • motors

    Dié VW’s kos min om te bedryf

  • motors

    Panda Cross hups soos jonges

  • motors

    Só lyk Britse top-vragmotor

  • motors

    Mazda het groot planne met ‘2’

  • motors

    M5 perfek vir gesin én alleen ‘druk’

  • leefstyl

    Etes in ’n japtrap

  • leefstyl

    Boere-barok

  • leefstyl

    Hoekom vroue anders bedraad is

  • leefstyl

    Verhouding en fantasie vuur drange

  • leefstyl

    Plek van vrede, rus in babakamer

  • leefstyl

    Die geur van seewier

  • leefstyl

    Jong vroue behoorlik bederf

  • leefstyl

    Retro ontmoet modern

  • leefstyl

    Angstig, of maar net kind?

  • leefstyl

    Noodhulp vir jou beste vriend

  • leefstyl

    Lekker verjaar, u koninklike hoogheid!

  • boeke

    Goeies góéd; slegtes verveel

  • boeke

    Debuut wat nog lank begogel

  • boeke

    Gru-blik op tienerangs aangrypend

  • boeke

    Bittersoet genot in dié aritmiese boek