Johannesburg Verander Area
  • Vandag

    20°C / 8°C

    Wind 24km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 29%

  • Vrydag

    22°C / 9°C

    Wind 15km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 26%

  • Saterdag

    23°C / 13°C

    Wind 18km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 34%

  • Sondag

    21°C / 5°C

    Wind 26km/h

    Reënval 4.4mm

    Humiditeit 31%

  • Maandag

    18°C / 7°C

    Wind 17km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 30%

  • Dinsdag

    20°C / 8°C

    Wind 8km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 24%


Kommentaar en ontleding

Dan gaan die bloed éérs spat

Leopold Scholtz
Vrydag 31 Mei 2013
Die burgeroorlog in Sirië het pas ’n nuwe, aansienlik gevaarliker fase betree. Leopold Scholtz ontleed die moontlikheid van ’n ontploffing in die Midde-Ooste.

Konflik in die Midde-Ooste het die laaste dekades hoofsaaklik gesentreer rondom die stryd tussen Israel en die Arabiere.

Die laaste paar jaar het die moontlikheid van ’n botsing tussen Iran en die VSA en/of Israel ook baie aandag getrek.

Sonder dat dié elemente enigsins hul dringendheid verloor het, is dit egter ’n feit dat hulle ’n ander groeiende, veel gevaarliker konflik versluier het. Dit is die eeue oue vyandskap tussen die Soenniete en Sjiïete, die belangrikste twee rigtings in die Islam. Of, as ’n mens dit in geopolitieke terme wil vertaal, tussen Saoedi-Arabië en Iran.

Die gebeurtenis wat die Midde-Ooste by wyse van spreke die Rubicon laat oorsteek het, is die toetrede van die Libanese beweging Hizbolla aan die kant van die Siriese diktatuur tot die land se burgeroorlog.

Dié konflik het twee jaar gelede begin as ’n eis van ’n groot deel van die bevolking vir meer vryheid en demokrasie. Dit was deel van die sogenaamde Arabiese Lente, wat ook ander lande in die omgewing in sy greep gehad het.

Die betogings is egter met groot wreedheid deur die bewind van pres. Basjar al-Assad beantwoord en dit het vinnig tot ’n volskaalse gewapende opstand gegroei. Maar die opstandelinge het spoedig in – vereenvoudig – twee faksies geskeur, die sekulêre demokrate en die fanatieke Moslem-fundamentaliste.

Hizbolla se toetrede beteken ’n derde fase en dit hou in dat die oorlog oor Sirië se grense heen spoel en tegelykertyd dat dit in ’n godsdiensoorlog tussen Soenniete en Sjiïete ontaard.

Om dié ontwikkelings te begryp, is agtergrond nodig.

Die profeet Mohammed is in die jaar 632 n.C. oorlede. Sy plek as leier van die vroeë Moslem-gemeenskap is ingeneem deur sy skoonseun, Ali.

Binne enkele dekades het die Moslems egter daaroor geskeur.

Die een groep, bekend as Sji’Atoe Ali (“volgelinge van Ali”) – vandaar die begrip Sjiïete – het gemeen net afstammelinge van Ali mag die Moslems lei. Die ander groep, bekend as die Soenniete (hul naam is afgelei van die Arabiese woord soenna, wat verwys na die opgetekende woorde en dade van Mohammed), wou ook die gesag van die kaliefs – ’n Islamitiese koning – aanvaar.

Ali is deur sy nageslag opgevolg, wat as imams bekend gestaan het, maar hulle het ná die 12de geslag uitgesterf. Aangesien net ’n afstammeling van die profeet hulle mag lei, bly dié posisie vakant totdat die laaste imam terugkeer.

Deur die eeue heen het die Soenniete en die Sjiïete dikwels bloedig gebots. Soms het ’n ongemaklike vrede geheers; soms het duisende mense in veldslae gesneuwel.

In 680 het die twee groepe by Karbala in die huidige Irak slaags geraak, ’n botsing waarin die Sjiïete byna heeltemal uitgeroei is. Selfs nou nog word dié geveg jaarliks deur die Sjiïete herdenk en in Irak lei dit gereeld tot gewelddadige onluste.

Die twee kante is ook deesdae nog voortdurend kwaaivriende en beskou mekaar op sy beste as ketters.

Vandag vorm die Soenniete sowat 80% tot 85% van die Moslems.

Die Sjiïete het die mag in Iran, maar hulle vorm ook ’n meerderheid in Irak en minderhede in Sirië, die Persiese Golf-staatjies en Libanon.

Die Al-Assad-regime in Sirië word deur ’n Sjiïtiese sekte, die Alawiete (genoem na Ali) oorheers. Hulle is egter ’n minderheid wat net die mag kan behou deur die meerderheid Soenniete bruut te verdruk.

Vandaar dat die eis om die einde van die diktatuur vinnig deur die Soennitiese meerderheid gesteun is en dat die Sjiïtiese minderheid, bevrees vir hul toekoms, hulle agter Al-Assad geskaar het. Baie Soennitiese opstandelinge het geradikaliseer en fundamentalisties geword, terwyl die sekulêre demokrate eintlik taamlik hardhandig eenkant toe gestamp is.

Hizbolla se toetrede aan Al-Assad se kant het baie te doen met die beweging se religieuse affiniteit met die Alawiete, maar geopolitieke oorwegings speel ook ’n rol. Hizbolla het sedert die Libanese burgeroorlog van die 1980’s en ’90’s ’n taamlike magsposisie in dié land verwerf, iets wat te danke was aan die steun van die Siriese diktatuur.

Meer nog, Sirië vorm ’n brug na Hizbolla se kragtigste internasionale bondgenoot, Iran. Indien die Al-Assad-regime verkrummel, verloor Hizbolla daardie lewenslyn na Iran en daarmee kom sy magsposisie in Libanon ook in die gedrang.

Maar dis nie al nie. Van buite sit die sterkste Soennitiese lande, veral Saoedi-Arabië en selfs Turkye, ook en loer.

Feit is dat Iran met die ineenstorting van wyle pres. Saddam Hoesein se Soennitiese minderheidsdiktatuur in Irak ’n aansienlik sterker magsposisie in die streek kon begin speel. Dis iets wat Iran, ironies genoeg, te danke het aan oudpres. George W. Bush se destydse domastrante buitelandse beleid in ’n streek waarvan hy niks geweet het nie en nog minder begryp het.

Hoe ook al, Iran se groeiende invloed is met ontsteltenis in veral Saoedi-Arabië en Turkye bekyk. Dus het dié twee lande hul geloofsgenote onder die Siriese rebelle klandestien van wapens begin voorsien, soms met Amerikaanse stille hulp.

Tans vind ’n belangrike veldslag in die burgeroorlog plaas in die stadjie Kosair op die grens van Sirië en Libanon.

As die Siriese leër die beheer oor dié plek verloor, word die verbindingslinies tussen die Al-Assad-bewind en Hizbolla – en tussen Hizbolla en Iran – aansienlik moeiliker.

Vandaar dat die leier van Hizbolla, Hassan Nasralla, ’n paar dae gelede ’n baie reguit toespraak gehou het. Sirië is die “sleutel van weerstand”, het hy gesê en voortgegaan: “As die land val in die hande van die VSA, Israel en die takfiri’s (’n onvertaalbare woord wat dui op ketters, heidene of geloofsafvalliges), sal die Libanese weerstand beleër word en Israel sal Libanon binneval. As Sirië val, beteken dit Palestina is verlore en ’n donker toekoms wag op die volke van die streek.”

Vir Nasralla gaan dit duidelik om ’n oorlewingstryd; vandaar dat sy vegters nou sy aan sy met die Siriese leër teen die opstandelinge veg. Wat egter ewe duidelik is, is dat dit enersyds die Libanese burgeroorlog kan laat hervat en – nog erger – dat die Midde-Ooste in ’n internasionale oorlog tussen Soenniete en Sjiïete kan ontplof.

Of dit gaan gebeur, kan net die tyd leer. Dit sal buitengewone wysheid verg om dit te keer – en daar is byna niks wat die VSA en Europa daarteen kan doen nie, behalwe om magteloos toe te kyk.



  • rubrieke

    Een mens, een stem, een paspoort

  • aktueel

    ‘Onder EFF stap ons Zim-paadjie’

  • spotprent

    Spotprent, 24 April 2014

  • Beeld se voorblad op Woensdag, 24 April 2014

  • hoofartikels

    Nkandlagate sal nie net weggaan nie

  • rubrieke

    Preek nes jy wil, elk se soeke na sin is haar eie

  • rubrieke

    Wat sal uitslag van kiesers sê?

  • briewe

    Tshwane-manne werk deur die nag

  • briewe

    Heropening van grondeise is nie wys

  • briewe

    Wettig die handel in renosterhoring

  • briewe

    Afrikaans sal gedy as ekonomie groei

  • briewe

    DA-SMS oortuig nie om DA te stem

  • briewe

    Zuma nie die enigste ongewenste hoë

  • briewe

    Só voorspel ek die verkiesingsuitslae

  • sielsgoed

    Goeie Nuus

  • voorblad

    Beeld se voorblad op Woensdag, 23 April 2014

  • sielsgoed

    Goeie Nuus

  • rubrieke

    Stém: Almal maak saak in demokrasie

  • rubrieke

    Kruis sluit ons werklikheid oop

  • hoofartikels

    Wie gaan met wie in bed spring?

  • briewe

    Dink mooi voor jy jou kruisie trek

  • briewe

    Groepsbelange is tog belangrik

  • briewe

    Grond: DA veg om beter wetgewing

  • aktueel

    Volksroetes na toekoms

  • briewe

    Die ANC verdien nie my stem nie

  • briewe

    Stem wel en stem reg op 7 Mei

  • spotprent

    Spotprent, 23 April 2014