Johannesburg Verander Area
  • Vandag

    20°C / 6°C

    Wind 20km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 28%

  • Vrydag

    20°C / 7°C

    Wind 10km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 23%

  • Saterdag

    21°C / 11°C

    Wind 17km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 22%

  • Sondag

    22°C / 7°C

    Wind 23km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 23%

  • Maandag

    20°C / 8°C

    Wind 13km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 36%

  • Dinsdag

    22°C / 9°C

    Wind 14km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 27%


Kommentaar en ontleding

Onder daai Zim-wildevy

Jean du Preez
Vrydag 19 Julie 2013
Dit lyk of die gif uit Zimbabwe se samelewing is. Dalk is die land by sy onderste draaipunt verby, skryf Jean du Preez ná ’n besoek aan die land.
Pres. Robert Mugabe op ’n verkiesingsbyeenkoms in Chitungwiza, suid van Harare. Foto: Reuters

Onder ’n stokou wildevy op die parkeerterrein van ’n Zimbabwe-grenspos sit die toonbeeld van alles wat in hierdie flenterland verkeerd geloop het: Die man in die swart pak. Interpol se man.

Ons vyf voertuie kom so 11:00 die oggend by die Kariba-grenspos aan nadat ons reeds vier dae deur Zimbabwe gereis het. Ons is op pad na Zambië en is oortuig hierdie rustige Zim-geboutjie gaan kinderspeletjies wees teen die foltering waarvoor Beitbrug nou al berug geword het.

Die immigrasieman stempel my paspoort met ’n harde doef. Ek wys hom my voertuigdokumente. “Go outside, to Interpol,” sê hy.

“Interpol nogal,” sê ek aan ’n medereisiger. “Zimbabwe het bygekom.” Op die stoepie buite soek ek egter vergeefs ’n bordjie wat Interpol sê, totdat iemand in gehawende klere my in die rigting van die kaalkopman onder die wildevyeboom op die gaterige parkeerterrein beduie.

Hy sit op ’n verslete stoel. Sy swart pak is van blink materiaal, sy hemp is pienk en sy das rooi. Sy skoene is van die langpuntsoort. Hy dra ’n sonbril met ’n groot raam.

Ek stap tot by hom en groet: “Good morning, Sir. How are you?” Sy linkerbeen wip ritmies op en af. “Car papers”

is al reaksie wat ek kry.

Ek gee hom my legger met al die voertuigdokumente, oopgeslaan by die eerste blad, die registrasiesertifikaat. “Police clearance,” is al wat hy sê.

Ek blaai na die polisieklaringsertifikaat vir my bakkie in die legger. Hy begin stadig lees met die wysvinger onder elke reël, maar gee die legger skielik aan my terug. “Take out,” sê hy en begin in ’n plaaslike taal met sy kollega ’n entjie agter hom praat.

Interpol 2 is met ewe min woorde met een van my reisgenote aan’t stoei oor polisieklaring. Sy lessenaar is ’n afgeleefde Toyota Corolla se bagasiebak. Ek hurk, kry die sertifikaat uit die plastieklegger. Interpol 1 begin lees met die wysvinger en gee dit terug. “TIP.”

Waddehel is dit nou weer? wonder ek. Ek vra hom om te verduidelik. Hy tuur in die damwal se rigting. “Temporary. Import. Permit.” Maar daar sit dit in die plastieklegger, wys ek hom. Reg langs die polisiesertifikaat.

Skielik verloor hy belangstelling in my en fokus nou op die gesprek tussen Interpol 2 en my medereisiger agter my, waar die oktawe aansienlik hoër is. Ek hoor iets van “money”.

“Go,” sê Interpol 1 aan my en noem dat ek die hele pad terug Suid-Afrika toe sou moes ry as ek nie die polisieklaringsertifikaat gehad het nie.

Toe ons groep uiteindelik vertrek, tref die ironie my skielik: Hier skuins onderkant die grenspos hou ’n damwal die magtige Zambezi vas in een van die mensgemaakte wonders van die wêreld – ’n toonbeeld van waartoe Zimbabwe eens in staat was. Maar daar bo, op ’n parkeerterrein vol gate, sit ’n staatsamptenaar onder ’n wildevy en versinnebeeld dit wat die land nie behoort te wees nie.

• ) )

Ondanks Kariba se Interpol 1 en 2 betrap ek my egter binne dae in Zimbabwe dat ek hou van hierdie mooi land – en spesifiek van sy mense – veral oor een ding: Dit voel vir my die gif is uit die Zim-gemeenskap. Hulle is vriendelik, en nooit en nêrens kry jy daardie gevoel dat misdaad soos hier in Suid-Afrika om elke hoek vir jou loer nie. Dít ondanks armoede wat dik soos kakiebos op ’n ouland staan.

Terwyl ons met die oostelike hoofpad oor Harare ry, besef ons: Suid-Afrika weet nie werklik wat armoede is nie. Zim skree dit uit. En ons sê vir mekaar oor ons radio’s: Mense wat beweer Zim se landbou vaar nou beter as in die wit boere se era, lieg blatant.

Die boerdery wat ons rondom ons sien, beskryf jy in een woord. Mistroostig. Waar 12 jaar gelede nog mielielande was, het die natuur reeds weer oorgeneem. Tabakskure staan vervalle en ons sien verlate graansilo’s. Die lappies mielies en katoen wat daar wel is, is ’n patetiese verskoning vir boerdery.

Die ou Transkei lyk soos Europa teenoor Zim, merk iemand droog oor die radio op. Ja, maar in die tabakbedryf gaan dit darem glo beter, kraak ’n ander stem oor die radio. “Sover ek weet, kan jy nie tabak eet nie,” antwoord die boer in ons midde.

Saam met ons in die bakkie is ’n jong man wat vir ’n groot graanmakelaar werk en ook ’n bietjie sake in Zim doen. Hy verduidelik hoe dit werk. Die kleinboere oes hul mielies en katoen. Dit word langs die pad opgelaai deur ’n sentrale organisasie en wanneer daar genoeg sakke is, word dit verkoop.

Ons sien voorbeelde van dié nuwe soort “silo” hier en daar: opgestapelde sakke onder ’n seil toegemaak, met iemand wat dag en nag daarby waak. So voed jy nie ’n nasie nie, merk ons boer weer op.

Voor Karoi sien ons egter indrukwekkende koringlande onder spilpunte en ’n groot melkboerdery. Aha, hier is dinge aan’t gebeur, gesels ons oor die radio’s.

Vuilskemer, toe ons ’n bier in die Makuti Lodge se kroeg drink, verneem ons egter by die kroegman daar is wit boere aan die stuur – maar daardie plase behoort aan senior regeringslui.

’n Paar dae later, op die westelike roete suidwaarts Bulawayo se kant toe, reis ons deur beeswêreld. Beeste is egter skaars en dié wat daar is, is maer. Die rede is ooglopend. “Dis nou wat jy goed opgef**te veld noem,” merk ons KZN-beesboer op.

• ) )

Maar tog, daar is tekens van herstel. Dalk is Zim by sy onderste draaipunt verby. Op Karoi, ’n middelslag-dorp, vul ons voorrade aan. Die TM-supermark, amper iets soos ons Spar of Shoprite, het alles wat ons soek. Ja, ook T-been.

Die dorpie Victoria Falls het opvallend uitgebrei sedert ek vier jaar gelede daar was. Daar is baie toeriste. Dit herinner my vaagweg aan Clarens in die Oos-Vrystaat. Hul lughawe word ook indrukwekkend verbeter, merk ons op.

Oral is die mense honger vir werk.

Later slaap ons oor in die woonwapark by die Zimbabwe-ruïnes. Ons is die enigste mense in ’n reuse-kamp uit ’n vorige era.

Skaars het ons tent opgeslaan of ’n vrou verskyn uit die skemer. Sy stel haar voor as Sarah en sê sy sal vannag oor ons waak. Sy gaan sit by ’n volgende vuurmaakplek, sowat 80 m verder.

Toe ek in die nanag opstaan om ’n bottel water in die bakkie te haal, byt die koue. Ek sien Sarah waar sy op ’n sementbankie sit, vooroor gebuk, ’n vuurtjie amper tussen haar voete, haar hande bokant lae vlammetjies.

Die volgende oggend vra sy beskeie of R20 vir die nag goed sal wees. Ons gee haar meer, plus ontbyt.

Op die brug oor die Zambezi tussen Victoria Falls en Livingstone staan talle mense rond wat goeters aan ’n mens probeer verkwansel. As hulle hoor jy kom van Suid-Afrika, is hul eerste vraag oor Madiba se welstand. “What a great man,” is die volgende opmerking en daarna: “But your president, that Zuma guy, aah man, what a clown!”

• ) )

Terug by die Beitbrug-grenspos ná twee weke in Zimbabwe waai ’n vriendelike Suid-Afrikaanse polisieman my deur die laaste hek met ’n duim in die lug en ’n “Go, Mkhulu!”. By Bela-Bela (Warmbad) gooi ons diesel in en die joggie groet joviaal: “How are you, my brother?” Op Victoria-Wes laat ’n vriendelike (bruin) vrou by die gastehuis ons voel ons is weer tussen ons mense. Daardie aand wonder ek: Is daar werklik soveel gif in ons eie samelewing? Is dit nie maar ’n versinsel vir eie gewin deur ons politieke narre nie? Die Suid-Afrikaanse spieëlbeelde van Interpol 1, met sy swart pak en gepunte skoene, onder daardie Zim-wildevy.

• Jean du Preez is ’n voormalige redakteur van Landbouweekblad.



  • rubrieke

    Een mens, een stem, een paspoort

  • aktueel

    ‘Onder EFF stap ons Zim-paadjie’

  • spotprent

    Spotprent, 24 April 2014

  • Beeld se voorblad op Woensdag, 24 April 2014

  • hoofartikels

    Nkandlagate sal nie net weggaan nie

  • rubrieke

    Preek nes jy wil, elk se soeke na sin is haar eie

  • rubrieke

    Wat sal uitslag van kiesers sê?

  • briewe

    Tshwane-manne werk deur die nag

  • briewe

    Heropening van grondeise is nie wys

  • briewe

    Wettig die handel in renosterhoring

  • briewe

    Afrikaans sal gedy as ekonomie groei

  • briewe

    DA-SMS oortuig nie om DA te stem

  • briewe

    Zuma nie die enigste ongewenste hoë

  • briewe

    Só voorspel ek die verkiesingsuitslae

  • sielsgoed

    Goeie Nuus

  • voorblad

    Beeld se voorblad op Woensdag, 23 April 2014

  • sielsgoed

    Goeie Nuus

  • rubrieke

    Stém: Almal maak saak in demokrasie

  • rubrieke

    Kruis sluit ons werklikheid oop

  • hoofartikels

    Wie gaan met wie in bed spring?

  • briewe

    Dink mooi voor jy jou kruisie trek

  • briewe

    Groepsbelange is tog belangrik

  • briewe

    Grond: DA veg om beter wetgewing

  • aktueel

    Volksroetes na toekoms

  • briewe

    Die ANC verdien nie my stem nie

  • briewe

    Stem wel en stem reg op 7 Mei

  • spotprent

    Spotprent, 23 April 2014