Johannesburg Verander Area
  • Vandag

    20°C / 6°C

    Wind 20km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 28%

  • Vrydag

    20°C / 7°C

    Wind 10km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 23%

  • Saterdag

    21°C / 11°C

    Wind 17km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 22%

  • Sondag

    22°C / 7°C

    Wind 23km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 23%

  • Maandag

    20°C / 8°C

    Wind 13km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 36%

  • Dinsdag

    22°C / 9°C

    Wind 14km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 27%


Kommentaar en ontleding: Jeff Bezos se pos(t)

Marida Fitzpatrick
Vrydag 16 Augustus 2013
Almal was stomverbaas toe die Amazon-eienaar, Jeff Bezos, die ikoniese koerant The Washington Post koop. Marida Fitzpatrick het probeer uitvind wat sy redes kon wees en wat dit beteken.
Jeff Bezos

Dit gaan swaarder in die drukmedia as ooit.

Wêreldwyd spook mediamaatskappye om maniere te vind om koerante in die digitale era te laat werk terwyl sirkulasies val en nuuskantore kwyn.

Intussen sluit al hoe meer doemprofete by die koor aan wat die einde van die papierkoerant voorspel.

Daarom het dit die sake- en mediawêreld verstom toe dit onlangs bekend geword het Jeff Bezos, eienaar van Amazon, het die Amerikaanse dagblad The Washington Post gekoop.

Bezos en Amazon verteenwoordig alles wat nuut, onbekend en veranderend is in ’n nuwe, digitale mediawêreld. Bezos is ’n tegnoloog en ’n entrepreneur, Amazon ’n aanlyn-reus.

The Washington Post, aan die ander kant, is die toonbeeld van alles wat bekend, tradisioneel en standvastig is: ’n Gerespekteerde breëblad-formaat papierkoerant met ’n lang en glorieryke joernalistieke geskiedenis.

Nou wonder almal: Hoekom het die skatryk en visioenêre Bezos dit gedoen? Sien hy iets raak wat almal anders miskyk? Het die drukmedia meer potensiaal in die digitale era as wat mense dink?

Kenners reken dis moontlik, maar ander meen weer hy het dalk heel ander motiewe.

As ons geweet het wat Bezos se redes was, was ons almal miljardêrs, sê Bertie du Plessis, mediakenner en Naspers se hoof van opleiding en onderrig.

Ons kan maar net raai, beaam prof. Anton Harber van Wits se departement joernalistiek en mediastudies.

“Die beste rede wat ek nog gehoor het,” sê Harber, “is dat Bezos se vrou hom gevra het om op pad huis toe gou ’n Washington Post te koop en hy het dit misverstaan,” skerts hy.

Hoewel almal nog wonder, probeer Harber, Du Plessis en Doug Vining, toekomsghoeroe van FutureWorld, die moontlike redes hier uitpluis:

Polities

The Washington Post is dié grootste en belangrikste koerant in Washington, hoofstad van die VSA en tuiste van die Amerikaanse kongres.

Die gesaghebbende en wyd gerespekteerde koerant het al ’n president tot ’n val gebring. Die Watergate-skandaal in die 1970’s het legendariese status aan die Post verleen toe die verslaggewers Bob Woodward en Carl Bernstein dit oopgevlek en só ’n einde gemaak het aan Richard Nixon se presidentskap.

The Washington Post het dus ’n “ontsaglik invloedryke stem” en beland elke oggend op die voorstoep van die VSA se magtigste besluitnemers, sê Harber.

“As jy dit besit, gee dit jou invloed. Ons kan debatteer hoeveel invloed dit jou gee, maar dit gee jou beslis invloed.”

En interessant genoeg, is Bezos ’n man wat in verskeie belasting- en regulering-stryde in Washington gewikkel is. “Amazon is betrokke by geweldig omstrede belastingdispute met die regering en dit behels honderdmiljoene dollar.

“Dit gaan oor watter belastingwette van toepassing is op Amazon, want die feit dat hulle ’n aanlyn-handelaar is, maak dit ingewikkeld. Betaal hulle byvoorbeeld staatsbelasting of federale belasting?”

Daar is ook verskeie kwessies en dispute wat die regulering van elektroniese handel betref “en invloed in Washington kan vir Bezos ontsettend waardevol wees”, sê Harber.

Dit is dus moontlik dat sy besluit om die Post te koop, ’n siniese, berekende plan was om indirek invloed uit te oefen in Washington en sodoende yslike bedrae geld aan belasting te spaar en regulering-veldslae vir Amazon te wen.

“Die teenargument is natuurlik dat hy onderneem het om nié redaksioneel in te meng nie,” voeg Harberby. “Die redaksie sal dit in elk geval nie toelaat nie; die joernaliste sal dadelik rebelleer. ’n Mens moet dus nie sy potensiële invloed op die redaksionele inhoud oordryf nie.

“Maar natuurlik is ’n koerant bewus van wie hom besit en wie die redakteur aanstel en afdank.”

Du Plessis stem saam dat die hoop op politieke invloed ’n moontlike motief van Bezos kon wees.

Kommersieel

Bezos is geldelik na raming $25 miljard (sowat R246 miljard) sterk en het $250 miljoen (sowat R2,4 miljard) vir die ikoniese en gesaghebbende The Washington Post betaal.

Soos een werknemer van die Post tereg in ’n ope brief aan Bezos opgemerk het, klink die paar honderdmiljoen dollar na ’n yslike belegging vir Jan Alleman, maar vir Bezos verteenwoordig dit maar ’n skrale 1% van sy netto waarde. “Vir jou sal die aankoop omtrent net soveel gevolge inhou en net so riskant wees as wat dit vir my sal wees om ’n tweedehandse 2003 Honda Civic te koop,” het die werknemer, Gene Weingarten, vir Bezos geskryf.

Dit kan wees dat Bezos ’n winskoop in The Washington Post raakgesien het. “The Washington Post se naam dra enorme waarde,” sê Harber.

“En hy het dit teen ’n goeie prys bekom. Dis soos om ’n bouval te koop wat op ’n waardevolle stuk grond gebou is. Dis ’n goeie adres en hy het dit dalk vir die adres gekoop.”

Dit is egter betekenisvol dat hy dit in sy persoonlike hoedanigheid gekoop het en nie deur Amazon nie, benadruk Harber. “As hy kommersiële waarde in dit gesien het vir Amazon, sou hy dit deur Amazon gekoop het.”

Dis hoekom Du Plessis ook oortuig is Bezos het nié ’n kommersiële motief met die koop van die Post nie.

Harber reken Bezos sien dalk tog kommersiële waarde daarin, maar dalk waarde wat hy eers later kan ontsluit, “al kos dit hom tyd en geld”.

Ydel

Talle bespiegel dat die koerant bloot vir hom ’n sogenaamde “ydelheidsprojek” is en dat dit sy ego streel om te weet hy besit sy eie koerant. Die grootste en belangrikste koerant in Washington, hoofstad van die VSA en tuiste van die Amerikaanse kongres.

Talle bespiegel dat die koerant bloot vir hom ’n sogenaamde “ydelheidsprojek” is en dat dit sy ego streel om te weet hy besit sy eie koerant.

Vining sê dit staan Bezos nou inderdaad vry om met The Washington Post te doen wat hy wil. Hy kan dit ook in ’n globale koerant omskep wat wêreldwyd versprei kan word deur allerlei platforms.

Du Plessis beaam dat Bezos dalk oor ’n koerant voel soos talle Suid-Afrikaanse maatskappyhoofde oor wynplase: Hulle wil een hê, selfs al is dit nie werklik winsgewend nie.

Maar Harber twyfel. “Hy was nog nooit ydel in enige van sy vorige beleggings nie.”

Sentimenteel

Kan dit wees dat Bezos dalk ’n voorliefde vir ouskool-perswese en joernalistiek het en die koerant gekoop het om dit vir sentimentele redes behoue te laat bly?

Dié teorie verg ’n groot sprong van die verbeelding, sê Du Plessis, maar hy voeg wel betekenisvol by dat Bezos inderdaad versot is op lees. “ ’n Mens kan jou voorstel,” sê hy, “dat iemand vir wie $250 miljoen nie ’n probleem is nie, iemand wat versot is op lees, wie se onderneming begin het in die leeskultuur, ’n sentimentele verknogtheid kan hê aan ’n koerant soos The Washington Post en kan dink: Laat ek die koerant koop, dalk kan ek iets daarvan maak.”

Maar dié raaiskoot is vergesog, sê Du Plessis.

Harber reken dis ’n gegewe dat die man in koerante belangstel, “maar ek sien geen bewyse dat hy sentimenteel is daaroor nie”.

Edel

Daar is eerder ’n kans dat hy ’n edele motief het, volgens Du Plessis.

“Hy dink dalk daar is standpunte en menings wat in die Washington Post gehuldig word wat in die samelewing behoue moet bly en hy het dalk besluit hy wil dit in sy private hoedanigheid finansier.

“Dis dalk vir hom ’n welwillendheidsprojek wat hy wil subsidieer. Dit maak die meeste sin, want die kommersiële motief is hoogs onwaarskynlik.”

Vining is egter oortuig Bezos gaan nog met iets vorendag kom wat The Washington Post op die een of ander manier winsgewend die toekoms sal instuur. “Ek dink nie hy koop dit net om dit van bankrotskap te red nie,” sê hy.

Tekens van die tye

Wat sy motief ook al is, die transaksie beteken iets vir die mediabedryf. “As slim beleggers soos Bezos en Warren Buffett (Amerikaanse sakemagnaat) in koerante belê, is daar hoop,” sê Vining.

“Dis ’n feit dat koerante se ou sakemodel, wat suiwer staatmaak op die verkoop van gedrukte eksemplare, sterwend is.

“Maar dit beteken nie die bedryf kan nie homself herskep nie. En die manier om dit te doen, is deur nuwe tegnologie te omhels pleks van om dit te beveg.”

Vir Harber lyk Bezos se aankoop ook na ’n goeie teken. “Dalk sal dit ons idees gee om nuwe oplossings te vind en die ou sakemodel op sy kop te keer.”

Du Plessis meen egter dis valse hoop. “Mense in die tradisionele perswese gaan dit verkeerd lees as hoop vir die gedrukte media. Die ondergang bly onverbiddelik.”

Werknemers van die Post en van die mediabedryf oor die algemeen moet dus nie gerus voel nie. “Hulle moet bekommerd bly,” sê Du Plessis.

“Trouens, enige mens in enige beroep wat nie elke oggend opstaan en grensloos bekommerd is oor sy werk, sy loopbaan, sy maatskappy en sy bedryf nie, verstaan nie die wêreld nie.”

...

Eksentrieke belegger

Jeffrey Preston (Jeff) Bezos (49) is ’n Amerikaanse internet-entrepreneur en -belegger. Hy is die stigter en uitvoerende hoof van Amazon.com, kleinhandelreus wat met die Kindle-leestablet vorendag gekom het.

Nadat Bezos aan die Princeton-universiteit in Amerika gestudeer het, het hy op die gebied van rekenaarwetenskap en internasionale handel gewerk voordat hy Amazon.com in 1994 in sy motorhuis gestig het.

“Hy is ’n ontwrigter sonder weerga,” sê Du Plessis. “Hy verstaan die invloed van tegnologie op ons samelewing en waarheen ons op pad is.”

Harber noem Bezos ’n “eksentrieke belegger” wat ook al in ruimtereis belê het. “Dalk is dit presies wat die mediabedryf nodig het,” sê Harber: “ ’n Eksentrieke belegger met diep sakke.”

Bezos is getroud met Mackenzie Bezos, ’n skrywer, en hulle het vier kinders.

Bykomende bron: Business Insider



  • rubrieke

    Een mens, een stem, een paspoort

  • aktueel

    ‘Onder EFF stap ons Zim-paadjie’

  • spotprent

    Spotprent, 24 April 2014

  • Beeld se voorblad op Woensdag, 24 April 2014

  • hoofartikels

    Nkandlagate sal nie net weggaan nie

  • rubrieke

    Preek nes jy wil, elk se soeke na sin is haar eie

  • rubrieke

    Wat sal uitslag van kiesers sê?

  • briewe

    Tshwane-manne werk deur die nag

  • briewe

    Heropening van grondeise is nie wys

  • briewe

    Wettig die handel in renosterhoring

  • briewe

    Afrikaans sal gedy as ekonomie groei

  • briewe

    DA-SMS oortuig nie om DA te stem

  • briewe

    Zuma nie die enigste ongewenste hoë

  • briewe

    Só voorspel ek die verkiesingsuitslae

  • sielsgoed

    Goeie Nuus

  • voorblad

    Beeld se voorblad op Woensdag, 23 April 2014

  • sielsgoed

    Goeie Nuus

  • rubrieke

    Stém: Almal maak saak in demokrasie

  • rubrieke

    Kruis sluit ons werklikheid oop

  • hoofartikels

    Wie gaan met wie in bed spring?

  • briewe

    Dink mooi voor jy jou kruisie trek

  • briewe

    Groepsbelange is tog belangrik

  • briewe

    Grond: DA veg om beter wetgewing

  • aktueel

    Volksroetes na toekoms

  • briewe

    Die ANC verdien nie my stem nie

  • briewe

    Stem wel en stem reg op 7 Mei

  • spotprent

    Spotprent, 23 April 2014