Johannesburg Verander Area
  • Vandag

    20°C / 8°C

    Wind 14km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 19%

  • Sondag

    18°C / 7°C

    Wind 13km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 17%

  • Maandag

    18°C / 7°C

    Wind 11km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 22%

  • Dinsdag

    20°C / 9°C

    Wind 18km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 25%

  • Woensdag

    22°C / 12°C

    Wind 18km/h

    Reënval 0.2mm

    Humiditeit 26%

  • Donderdag

    21°C / 9°C

    Wind 28km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 24%


Kommentaar en ontleding: Stroop vir terreur-geld

Elise Tempelhoff
Vrydag 23 Augustus 2013
Die onwettige handel in wild en ander natuurlike hulpbronne is so ernstig dat dit ’n bedreiging inhou vir sowel nasionale as internasionale veiligheid, sê die Internasionale Fonds vir Dierewelsyn (Ifaw) in ’n verslag. Elise Tempelhoff neem die kwessie in oënskou.
Bron: ifaw.org, Departement van Omgewingsake

Suid-Afrika gebruik ál meer veldwagters en het al die weermag en onbemande mikrovliegtuie (drones) teen renosterstropery ingespan, maar verloor nogtans die stryd.

“Dié prehistoriese diere, grys soos oorlogskepe, word meestal aangetref waar hulle op hul knieë hurk, met ’n gapende wond aan die gesig. Besig om dood te bloei nadat hul horings afgekap is.”

So het The New York Times onlangs berig oor renosterstropery in Suid-Afrika waar tot twee van dié diere daagliks vir hul horings doodgemaak word.

Waarom kan die regering dit nie keer nie?

Waarom is die stropery soos ’n golf wat oor die land spoel, terwyl dit voorkom asof almal magteloos is voor hierdie wrede aanslag?

In sy verslag, Criminal Nature: The Global Security Implications of Illegal Wildlife Trade in 2013 het Ifaw, ’n nie-regeringsorganisasie, gesê ’n land sal nooit alleen dié oorlog wen nie.

In Suid-Afrika is tot dusver vanjaar 553 renosters gestroop en één olifant in KwaZulu-Natal.

In die res van Afrika is die afgelope twee jaar 25 000 olifante gestroop, het die Konvensie vir die Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites) onlangs in Bangkok bekend gemaak.

Gelukkig het Suid-Afrika tot dusver die massiewe slagting van olifante vrygespring.

Maar vir hoe lank?

Die Wildlife and Environment Society of South Africa (Wessa) het juis onlangs gewaarsku Suid-Afrika moet hom gereed maak vir olifantstropers wat suidwaarts beweeg omdat die meeste van dié diere in Sentraal-Afrika “feitlik uitgeroei is”.

Ifaw sê 9/11 ’n waterskeiding

Vóór dié tyd was die belangrikste pogings teen wildstropery en die onwettige wildhandel gefokus op die spesie self deur byvoorbeeld te keer dat dit uitsterf. Daar is gewaak teen dieremishandeling en die verspreiding van siektes.

Daadwerklike pogings is ook aangewend om die spesies en ekostelsels te bewaar ter wille van die bevordering van ekotoerisme en die opheffing van plaaslike gemeenskappe.

“Ná 9/11 is stropery en die onwettige handel in wild egter nie meer ’n bewarings- of dierewelsynskwessie nie.

“Dit is ’n nasionale en internasionale veiligheidskwessie en wêreldwye optrede teen georganiseerde sindikate is nodig.”

Ifaw het daarop gewys dat daar ’n duidelike verband bestaan tussen stropery, onwettige handel in wild, geweld, korrupsie, bedrog en terrorisme.

Daar is duidelike tekens dat die inkomste uit dié misdade geweld aanblaas en selfs gebruik word om wapens mee te koop.

Valerie Hickey, die Wêreldbank se omgewingswetenskaplike, het in die voorwoord tot die Ifaw-verslag gesê: “Misdade wat met wild gepleeg word, lei tot die vermeerdering van vuurwapens in gebiede wat minder konflik nodig het, nie méér nie.

“Dit verskaf geld vir korrupsie in daardie lande waar korrupsie al ontwikkeling tot stilstand gebring het en waar dit baie moeilik geword het om op ’n wettige manier sake te doen.

“Dit olie die misdaadmasjinerie en belemmer pogings om goeie regering, demokrasie en deursigtigheid daar te stel in gemeenskappe wat ’n harder stem nodig het, nié stilte nie . . .”

In Mei het Ban Ki-moon, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), gesê hy meen daar is ’n verband tussen wildstropery en ander transnasionale georganiseerde misdaadsindikate wat terrorisme insluit.

Die VN se kommissie vir die voorkoming van misdaad en strafregtelike geregtigheid het die internasionale gemeenskap kort hierna gevra om stropery en die handel in wild en plante (veral hout) as “ ’n ernstige vorm van georganiseerde misdaad” te bestempel en dienooreenkomstig op te tree.

Dié kommissie het gevra vir strenger optrede en strawwe teen sindikate wat wild stroop en onwettig met die diere se liggaamsdele handel dryf.

Ifaw het in 2008 begin navorsing doen oor die ware aard van stropery en die omvang in die onwettige handel in wildlewe wêreldwyd.

Die ondersoekers het hul bevindings “skokkend” genoem.

Sedert 2008 het smokkelary en stropery in intensiteit toegeneem.

Tot 1 000 olifante word sedert 2011 maandeliks gestroop, subspesies renosters is al uitgewis of huiwer op die rand van uitwissing.

Intussen het die winste wat gemaak word met onwettige wildhandel die pryse verbygesteek wat vir edelmetale betaal word.

Kundiges meen die onwettige wildhandel het ’n bron van inkomste geword vir ekstremiste en selfs terroriste. Van hulle meen ivoor is soos bloeddiamante en dat dit konflik stook deurdat militante groeperings en rebellegroepe in Afrika daardeur gefinansier word.

Hier word na Somalië se Al-Sjabaab en Darfoer se Djandjaweed verwys. Van die terroristegroepe wat in Afrika bedrywig is, het na bewering ook bande met Al-Kaïda, het Ifaw se beriggewers gesê.

Regeringsmagte in die Kongo, Uganda en Suid-Soedan, wat onlangs onafhanklik geword het, word ook betrek by die strooptogte van olifante in Afrika en die “uitvoer” van hul tande na die Ooste, waar ’n “oënskynlike onversadigbare vraag” na ivoor bestaan.

Navorsers wat aan Ifaw se verslag gewerk het, het gesê die wapens (masjiengewere) waarmee olifante in Afrika afgemaai word, kan nét van militêre groepe afkomstig wees omdat dit in ’n kort tyd honderde olifante kan doodskiet. Die stropers gebruik ook gevorderde tegnologie.

Sindikate wat by smokkelary betrokke is, vind die onwettige handel in fauna en flora aanloklik omdat dit min risiko’s vir hulle inhou: dié misdaad kry meestal nie voorkeur by regerings nie, dit verseker hoë winste en strawwe is in die algemeen lig.

Smokkelaars wat by stropery betrokke is, gebruik meestal dieselfde roetes as dwelmhandelaars. Dié misdade raak meestal ineengevleg. Dít maak wetstoepassing uiters ingewikkeld. Geldwassery is nog ’n komponent van dié misdade.

Volgens Interpol word net sowat 10% van alle wild wat gesmokkel word, teruggekry, maar die diere is dan al dood. Volgens Ifaw is 3 t ivoor sedert begin vanjaar deur Chinese doeanebeamptes teruggekry.

Omdat die bedryf onwettig is, is dit moeilik om die grootte daarvan te bepaal, maar dit word geraam op $19 miljard (R196 miljard), berig The Christian Science Monitor.

Dit is die vierde grootste onwettige aktiwiteit ná dwelmsmokkelary, vervalsings en mensehandel.

Dit is groter as die handel in bloeddiamante, menslike organe en goud.

Ifaw is krities teenoor wettige wildhandel, ’n bedryf wat geraam word op $300 miljard (R3,09 biljoen) en het gesê dít laat die onwettige handel in diere- en plantspesies “floreer”.

Dokumentasie word dikwels vervals wat verwarring veroorsaak. Die bedryf groei ook danksy die internet wat ’n globale mark oopgemaak het, verwarrende wette en die swak toepassing daarvan.

Ook wettige renosterjag in Suid-Afrika loop onder kritiek deur omdat, só het Ifaw gesê, dit skuiwergate wawyd oopmaak vir stropery.

In die verslag het Ifaw daarop gewys dat China alte graag paaie in Afrika bou en dat stropery toegeneem het langs dié roetes wat nou na verafgeleë wildernisgebiede lei.

Ifaw het ook die betrokkenheid erken van Viëtnam se opkomende middelklas as aktiewe verbruikers van renosterhoring.

• Ifaw het gesê dat die rebellegroepe soos Renamo en Unita in die 1970’s en 1980’s betrokke was by olifantstropery in Afrika en dat die diere se tande met die hulp van Suid-Afrikaanse Militêre Intelligensie deur Suid-Afrikaanse hawens uitgevoer is.

Volgens ingeligte bronne is Renamo glo weer direk of indirek betrokke by stropery, dié keer van Suid-Afrika se renosters.



  • rubrieke

    Die ding met baantjies vir boeties

  • 45571

  • hoofartikels

    Dié amptenare moet waai

  • spotprent

    Beeld se spotprent, 2 Augustus 2014

  • Wat sê jy?

  • voorblad

    Beeld se voorblad, 2 Augustus 2014

  • Aanhaling van die week

  • aktueel

    ’n Ramp sonder bewyse

  • spotprent

    Beeld se spotprent, 1 Augustus 2014

  • rubrieke

    Top Deck is nie verniet die lekkerste nie

  • rubrieke

    Waarheid soms’n grys gebied

  • voorblad

    Beeld se voorblad, 1 Augustus 2014

  • hoofartikels

    Grondplan hou versweëgevare in

  • briewe

    ‘Lucia’ probeer, maar word gesaboteer

  • briewe

    Slegte kykNET dryf my na lees

  • briewe

    Julius, oefen daaibreinspiere, man!

  • briewe

    VSA die bullebak, nie die Russe nie

  • briewe

    Nee, Amé, ek soek nie ’n ander klub nie

  • sielsgoed

    Goeie Nuus

  • Wat sê jy?

  • So sê Beeld-lesers op Facebook en Twitter

  • voorblad

    Beeld se voorblad, 31 Julie 2014

  • rubrieke

    Nkwinti raak in ras verstrik

  • hoofartikels

    Skep werk deur NOP te laat lewe

  • rubrieke

    Lagwekkende situasie, mnr. Turkse pruim

  • briewe

    Koot en sy maters sal lank wag voordat die ewige woord van God sal verander

  • briewe

    Kom, Leeus, laat ons weer brul!

  • briewe

    ’n Plan vir al die prez se probleme

  • spotprent

    Beeld se spotprent, 31 Julie 2014

  • So sê Beeld-lesers op Facebook en Twitter

  • aktueel

    Skoleplan: Is daar ’n ander motief?

  • rubrieke

    Bring my t’rug na die ou Transvaal

  • sielsgoed

    Goeie Nuus

  • briewe

    Gun elke ou sy ervaring van godsdiens

  • briewe

    Stig beursfondse en help jongmense

  • Wat sê jy? Stuur ’n SMS na 45571

  • voorblad

    Beeld se voorblad, 30 Julie 2014

  • spotprent

    Beeld se spotprent, 30 Julie 2014

  • hoofartikels

    Korrupsie kan tot sterftes lei

  • rubrieke

    Taal word só ’n smal poort vir uitreik

  • rubrieke

    Taegrin se stem roep tot ons

  • briewe

    My hart bloei oor baie dinge, van my hond, tot Gasa, tot kerk se dwaling . . .

  • briewe

    Bybel misbruik

  • briewe

    Moeg om bang, agter tralies en platsak op eie grond te wees

  • briewe

    Beeld eer 20 m. jong lewens gepas

  • So sê Beeld-lesers op Facebook en Twitter

  • aktueel

    ‘Politiek gaan nie werk’

  • briewe

    Gelowiges wat soek na meer van God se misterie, kry dit dikwels buite kerk

  • sielsgoed

    Goeie Nuus

  • Wat sê jy?