Johannesburg Verander Area
  • Vandag

    16°C / 6°C

    Wind 21km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 38%

  • Woensdag

    17°C / 8°C

    Wind 5km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 36%

  • Donderdag

    18°C / 9°C

    Wind 16km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 33%

  • Vrydag

    19°C / 8°C

    Wind 14km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 30%

  • Saterdag

    20°C / 8°C

    Wind 11km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 27%

  • Sondag

    19°C / 8°C

    Wind 16km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 26%


Kommentaar en ontleding: Die trek na volksbesef

Maandag 02 September 2013
Die simboliese gedenktrek van ossewaens het verlede maand 75 jaar gelede begin. Dana Snyman het gaan kyk waaroor dit gegaan het.

Op die meeste dorpe in die land sien jy nog die monumente op ’n plein of in ’n park. Soms is daar ’n Bybelvers op of ’n aanhaling uit ’n patriotiese Afrikaanse gedig.

Kyk jy fyner, sal jy sien dit is in 1938 onthul.

In 1938 is waarskynlik meer monumente in dié land opgerig en onthul as in enige jaar tevore of daarna.

Dit is omdat 1938 die jaar was van die Simboliese Ossewatrek, een van die grootste gebeurtenisse in die Afrikanergeskiedenis. Nege waens, elk met sy eie naam, het deelgeneem aan die trek, wat in Augustus in Kaapstad begin en op 16 Desember in Pretoria met die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument geëindig het.

Op pad het honderde, op party plekke selfs duisende, mense die waens gevolg. Party het Voortrekkerklere gedra. Enkeles het glo die waens gesoen en bewoë geraak. Blindes is nader gelei om die waens te bevoel. Siekes en swakkes is op hul beddens uitgedra om alles te sien. En daar was gebede. En toesprake. En koorsang. En volkspele.

Sommige geskiedkundiges beweer selfs die gewoonte van Afrikaners in die stede en op dorpe om tuis vleis te braai, het met die 1938-feeste begin – ter nabootsing van die Voortrekkers, wat hul maaltye in die veld berei het.

Baie stede en dorpe se straatname is tydens die 1938-trek verander. Die hoofstrate het in 1938 ander name gekry: Voortrekkerstraat of Eeufeesstraat of Louis Trichardtstraat, sulke name.

Dit alles het vanjaar 75 jaar gelede gebeur; tog word die Simboliese Ossewatrek vanjaar nêrens herdenk nie. Kinders leer ook nie meer in geskiedenis op skool van die trek nie. Dis asof die trek nooit gebeur het nie.

Is dit omdat die Simboliese Ossewatrek te doen gehad het met die opkoms van Afrikanernasionalisme, wat in die apartheidstyd ’n hoogtepunt bereik het?

Om die Simboliese Ossewatrek beter te verstaan moet jy weet hoe dit in 1938 in die land was.

In 1938 was die Afrikaners verarm en polities verdeeld. Hoewel dit al meer as 30 jaar ná die Anglo-Boereoorlog was, is die gevolge van die oorlog steeds gevoel, veral ekonomies. Baie oudstryders het hul herinneringe aan die oorlog nog as te pynlik bestempel om openlik daaroor te praat.

• • •

Die gemiddelde Afrikaner was ingetoë en onseker van homself wat volksake betref het.

En toe vind die trek plaas.

Die moontlikheid van só ’n simboliese trek is die eerste keer in 1937 op ’n kongres van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) op Hartenbos genoem. Henning Klopper, voorsitter van die ATKV se uitvoerende raad, was die groot dryfkrag agter die trek.

’n Simboliese trek, het Klopper geredeneer, sou die mees gepaste manier wees om die Groot Trek van 100 jaar tevore te herdenk.

Tog het hy nie gedink dit sou so ’n sentrale gebeurtenis in ons geskiedenis word nie.

“Selfs ook nie aan die begin van 1938, toe die trek weer ter sprake gekom het, kon die organiseerders ’n denkbeeld van die werklike uitwerking van die trekgedagte voorsien nie,” skryf Klopper in die amptelike Gedenkboek wat oor die trek verskyn het. “Soos ’n kiem het die gedagte in die wieg van sy geboorte gesluimer.”

Op 8 Augustus 1938 het twee ossewaens – die Andries Pretorius en die Piet Retief – uit Kaapstad vertrek. Sowat 25 000 mense het die waens in Adderleystraat afgesien.

“Die trek het begin,” was Klopper se woorde voordat die waens begin beweeg het.

“Hy is in die naam van God begin.”

Die eerste skof was slegs tot in Goodwood, waar die eerste van vele monumente opgerig en onthul is.

Die legendariese joernalis Schalk Pienaar is deur Die Burger gestuur om saam te trek tot in Pretoria en heelpad verslag te doen.

• • •

“Vanaf die standbeeld van Van Riebeeck het duisende motors drie in gelid die ossewaens gevolg op hul trek na die Noorde,” skryf Pienaar in Die Burger van 9 Augustus 1938.

“Niemand kon hom ’n denkbeeld vorm van die reuse-skare wat die aand op Goodwood sou saamdrom nie.”

Die volgende dag het die waens tot in die Paarl gevorder.

Dit was toe al duidelik dat twee waens te min sou wees, want oral op pad het mense briewe van ondersteuning en waardevolle stukke uit die Voortrekkertyd na die waens gebring. Dit kan by die Voortrekkermonument gebêre word, het hulle geredeneer.

Oom Jan Phillips, ’n wamaker van die Paarl, het toe nog ’n wa, die Hendrik Potgieter, aan die trekgeselskap geskenk om as ’n poswa te dien.

Daarna is die waens al hoe dieper die binneland in.

Intussen is op ander plekke in die land besluit om waens in te span en dan iewers by die hoofroete aan te sluit.

’n Wa het selfs deur Namakwaland en Boesmanland getrek.

• • •

Op 26 Augustus 1938 is ’n paartjie, Danie Bouwer en Hettie Viviers, op Hartenbos vir die eerste keer tussen die waens getroud.

Later is nog paartjies op die trek by die waens getroud. Kinders is ook gedoop. Party het ’n naam soos Eufesia gekry. Daar was glo ook ’n paar Ossewania Kakebenias.

Oral in die land het mans hul baard laat groei. Op Kamieskroon het oom Daantjie Rossouw van Piketberg amper sy baard verloor.

“Oom Daantjie kan op ’n weelderige baard aanspraak maak,” skryf Dirk Mostert in die Gedenkboek. “Maar hy was gisteroggend amper sy baard kwyt. Hy het op die grond onder ’n wa gelê en slaap. ’n Boklam het naby hom kom staan en die stoppels op oom Daantjie se gesig betrag, nader gesluip, een poot in oom Daantjie se oor geplant en ’n bekvol van die baard geproe.”

Op die ou end het nege waens aan die trek deelgeneem.

Die trek het ’n golf van geesdrif ontlok wat saam met die waens gespoel het. Kranse is op grafte van Afrikanerhelde gelê. Oudstryders van die Anglo-Boereoorlog het oor hul ervarings begin gesels. Volksliedjies uit die FAK se bundel is oral gesing.

“ ’n Mens kan sê dat die hele volk soos een man feesgevier het,” skryf Schalk Pienaar. “En die volk het besef dat hy ’n volk is. Daarom is dit in ons geskiedenis so ’n belangrike gebeurtenis.”

Oral in die land sien jy nog die monumente, ja. Party is erg verniel.

Nooit weer sal die Afrikaners so saamstaan nie. Ons is nou op ’n ander, waarskynlik moeiliker, trek – die groot trek deur die ruimtes wat tussen mense bestaan.

• Snyman is ’n skrywer.



  • rubrieke

    Vernedering wat klou soos ’n neet

  • aktueel

    Nuwe gees gee Kerk weer ’n kans

  • rubrieke

    Talle blink uit sonder matriek

  • spotprent

    Beeld se spotprent, 29 Julie 2014

  • hoofartikels

    Vrede in Israel verg politieke wil

  • briewe

    Als sal regkom in nuwe sonskynnasie

  • briewe

    Ek het gedien en salueer generaals

  • voorblad

    Beeld se voorblad, 29 Julie 2014

  • briewe

    Vakansieklub-lede word só uitgebuit

  • briewe

    Ons is moeg vir al hierdie e-bollie

  • briewe

    Pak kwotas in sportsoorte trompop

  • briewe

    Sluit dan maar net die OB se kantoor!

  • sielsgoed

    Goeie Nuus

  • So sê Beeld-lesers op Facebook en Twitter

  • Wat sê jy?

  • spotprent

    Beeld se spotprent, 28 Julie 2014

  • rubrieke

    Moenie EFF as ’n grap afmaak

  • voorblad

    Beeld se voorblad, 28 Julie 2014

  • hoofartikels

    Zuma móét getuig voor kommissie

  • rubrieke

    Skoorsoek 101: Laat 26 van jou 40 vroue erf

  • briewe

    Croucamp verwater goeie argument so

  • briewe

    Hoekom kap niemand Medunsa nie?

  • briewe

    Héle FNB-stadion sing ‘Stem’-deel

  • briewe

    Motiewe laat RAU sneuwel

  • Wat sê jy?