Johannesburg Verander Area
  • Vandag

    20°C / 8°C

    Wind 8km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 16%

  • Dinsdag

    20°C / 8°C

    Wind 8km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 16%

  • Woensdag

    22°C / 8°C

    Wind 7km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 17%

  • Donderdag

    22°C / 9°C

    Wind 6km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 13%

  • Vrydag

    24°C / 9°C

    Wind 6km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 13%

  • Saterdag

    25°C / 11°C

    Wind 6km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 12%


SKULD

Kredietborrel of net koorsig?

Verbruikers - ryk en arm - leen te veel geld

nellie brand-jonker
Vrydag 31 Mei 2013
Kenners gee hul mening oor die skuldborrel. Van links is Kokkie Kooyman, hoof van Sanlam Beleggingsbestuur, Johny Lambridis, portefeuljebestuurder van Element Investment Managers, en Riaan Stassen, uitvoerende hoof van Capitec Bank.

Daar is groot kommer oor die gesondheid van die mark vir ongesekureerde lenings en of ’n borrel in dié mark ontwikkel het. Nellie Brand-Jonker verduidelik hoe die vurk in die hef steek.

Kredietverskaffing het die afgelope jare ontplof, met mikrolenings wat deur honderde kredietverskaffers aangebied word.

Dié toename in ongesekureerde krediet (in teenstelling met verbandlenings en motorlenings waarvoor jy ’n bate nodig het) het kommer laat toeneem dat ’n borrel ontwikkel het.

Op ’n dag kan die mense nie meer hul skuld terugbetaal nie en dan bars die seepbel met die gevolg dat die banke met groot slegte skuld sit.

Kokkie Kooyman, hoof van Sanlam Beleggingsbestuur

WAT IS ’N BORREL?

Wanneer na ’n borrel verwys word, verwys dit gewoonlik na pryse wat opgejaag word. Dit kan selfs huis- en aandeelpryse wees.

Borrels het gewoonlik ’n groot spekulatiewe element.

In die mikroleningsbedryf het die hoë rentekoerse rolspelers getrek wat almal aan hierdie sektor geld wil uitleen sonder dat hulle werklik die risiko verstaan.

Al die geld wat in die sektor instroom, skep dus ’n borrel.

In die Saambou-era het leners ’n lening van Bank A gebruik om hul lening by Bank B af te betaal. Uiteindelik het die kliënt hom net in meer skuld gedompel.

Op ’n dag kan mense nie meer hul skuld terugbetaal nie.

Dan bars die borrel en banke sit met groot slegte skuld op hul boeke.

Ons het gesien dat kredietverskaffers die afgelope paar maande minder begin uitleen het, maar net die tyd sal leer of dit ’n geval van te min, te laat, is.

Johny Lambridis, portefeuljebestuurder van Element Investment Managers

WAT KAN ’N BORREL PRIK?

Die Marikana-tragedie was ’n aanduiding daarvan dat werkloosheid ’n mikroleningsborrel kan prik.

Kokkie Kooyman, hoof van Sanlam Beleggingsbestuur se internasionale beleggingspan, sê teen die tyd dat werklike afskrywings van lenings gesien word, is dit gewoonlik te laat en dan het die borrel reeds gebars.

Soek die tekens in die faktore wat die verbruiker beïnvloed, sê hy. Kyk ook na die volgende:

* Werkloosheid: Namate die inkomste van banke se kliënte onder druk kom (hetsy deur stakings of afdankings) daal hul vermoë om lenings terug te betaal. Die kredietverskaffer se risiko neem dus toe.

* Groot stygings in lewenskoste: Dit sluit aan by bogenoemde omdat leners nie meer hul skuld kan terugbetaal nie.

* Regulering: Die regering gryp in met nuwe regulasies. Die nasionale tesourie het in November verlede jaar laat blyk dat hy oor sekere praktyke bekommerd is en dalk ’n stokkie daarvoor gaan steek.

HET DIE BORREL AL GEBARS?

Sommige glo die borrel het gebars nadat die grootste verskaffer van dié krediet, African Bank, vandeesmaand swakker as verwagte resultate bekend gemaak en gewaarsku het dat die agteruitgang selfs vir hom onkant betrap het.

Die bank het gesê Desember en Januarie – wat tradisioneel moeilike skuldinvorderingsmaande is – was swakker as gewoonlik en ná Januarie het dié tendens voortgeduur.

Vandeesweek het ’n peiling getoon dat die getal verbruikers wat met hul skuldterugbetalings agterstallig is, toegeneem het.

“Die vrae wat nou gevra word, is of die groei (wat die afgelope jare beleef is) nie abnormaal was en mense in ’n posisie geplaas het waar hul skuld te hoog is nie,” sê Riaan Stassen, uitvoerende hoof van Capitec Bank.

Dié bank se aandeelprys het ook die afgelope maand slae gekry.

Stassen glo nie daar was ’n borrel in ongesekureerde krediet nie. Hy dink dis eerder ’n geval van ’n mark wat oorverhit het.

“Ons is redelik oortuig daarvan dat daar goeie fundamentele redes is waarom daar buitengewone groei móés plaasvind,” sê hy.

GROTER TOEGANG

Die Nasionale Kredietwet van 2007 het krediet meer toeganklik gemaak vir ’n groter deel van die bevolking. Die getal mense wat toegang tot krediet het, het van sowat 17 miljoen tot 20miljoen toegeneem.

Adrian Cloete, ’n aandele-ontleder by Cadiz Batebestuur, sê mense wat voorheen nie gesekureerde lenings (soos huislenings) kon kry nie omdat hulle nie ’n titelakte op hul grond gehad het nie, kan nou by “’n Capitec of ’n African Bank ’n lening kry en hoef nie meer by die plaaslike begrafnisondernemer” teen baie hoë rentekoerse geld te gaan leen nie.

Hy sê ongesekureerde krediet het ook ’n verskuiwing in die landskap van verbruikerskuld in Suid-Afrika meegebring.

Sedert 2009 is banke nie meer baie geneë om aan mense geld vir aanbouings uit ’n toegangsverband te leen nie. “Die middelklas het ook nou persoonlike lenings vir aanbouings begin gebruik. Daar word ’n verskuiwing gesien van mense wat voorheen hul huisverbande gebruik het na ongesekureerde skuld.”

Dit kon in April weer gesien word: Daar was ’n baie klein toename onder verbandlenings (1,8% op ’n jaargrondslag), terwyl ongesekureerde skuld met 16% gestyg het.

Die senuagtigheid oor die mark vir ongesekureerde krediet hou verband met vrese dat die ekonomiese afswaai vorentoe gaan veroorsaak dat daar ’n baie groot skuldlas is.

Riaan Stassen, uitvoerende hoof van Capitec Bank

NIE NET ARMES LEEN FLINK NIE

Stassen sê die neiging is ook groter lenings oor ’n langer tydperk met ’n sterk styging in hoërinkomstegroepe wat ongesekureerde lenings aangegaan het.

Merwe Scholtz van Capfin, wat deur Pepkor besit word en sedert 2011 deur Pep-winkels lenings aan kliënte bemark, meen daar is toenemende druk in die mark weens die aggressiewe verlenging van termyne en toenemend groter lenings wat deur sommige finansieringsinstansies nagestreef is.

“Die mark het nog nie ervaring om hierdie langertermynlenings oor tyd terug te betaal nie, veral nie in ’n ekonomie waar groei verlangsaam nie.”

Hy glo dit kan nie onbepaald voortduur dat termyne verleng en lenings al hoe groter word nie. “Dis eers wanneer die groeikoers getemper word dat die werklike uitwerking op die kliënt en die mark geëvalueer kan word.”

Cloete sê daar is baie wat glo daar is nie ’n borrel nie – soos die Reserwebank en die Bankvereniging.

“Daar is gevalle waar daar te veel skuld is, en daar is gevalle waar mense voorheen ander tipe skuld gebruik het, maar ek dink die koers waarteen ongesekureerde lenings groei, moet afkom en dít word wel deur die Reserwebank gesien.”

Johny Lambridis, portefeuljebestuurder van Element Investment Managers, sê hulle huldig steeds hul siening van verlede jaar dat te veel ongesekureerde lenings toegestaan is.

“Ons het gesien dat kredietverskaffers die afgelope paar maande minder begin uitleen het, maar net die tyd sal leer of dit ’n geval van te min, te laat, is,” sê hy.

Stassen meen die senuagtigheid oor die ongesekureerde kredietmark hou verband met vrese dat die ekonomiese afswaai vorentoe gaan veroorsaak dat daar ’n baie groot skuldlas is.

Kokkie Kooyman, hoof van Sanlam Beleggingsbestuur se internasionale beleggingspan en bankkenner, sê die “risiko’s” waarna African Bank onlangs verwys het wat nou te voorskyn kom weens die hoë kredietverskaffing die afgelope jare hou daarmee verband dat die inkomste van verbruikers onder druk is – of dit nou weens stygende lewenskoste, stakings of afdankings is. “Verbruikers se vermoë om lenings terug te betaal, verminder en dus neem die risiko vir die kredietverskaffer toe,” verduidelik hy.

Kooyman meen wat nou gebeur, is soos in die “Saambou-era toe verbruikers ’n lening van Bank A gebruik om hul lening by Bank B af te betaal”.

“Op ’n dag kan die mense nie meer hul skuld terugbetaal nie en dan bars die seepbel met die gevolg dat die banke met groot slegte skuld sit,” sê Kooyman.

Hy sê teen die tyd dat stygings in die werklike afskrywings van lenings gesien word, is dit gewoonlik te laat, want dit is eers sigbaar as die borrel reeds gebars het.

“Jy moet die tekens soek in die faktore wat die verbruiker beïnvloed.”

Cloete glo nie daar is enige bewyse van ’n borrel wat nou gebars het nie. Hy sê die bewyse sal daar wees as “alle banke met winswaarskuwings uitkom van groot slegte skuld”.

Cloete meen wel daar kom meer slegte skuld as in die verlede want verbruikers is meer onder druk. “Maar ek sien nie dat daar ’n borrel is wat gaan bars nie.”

WAT AS ’N BORREL BARS?

Wie seerkry as ’n borrel bars, is eerstens aandeelhouers omdat ’n maatskappy se winste afneem en aandeelpryse val.

Pensioenfondse is op twee maniere aan banke blootgestel: eerstens deur hul aandeelpryse en tweedens deur effekte (deur daarin te belê finansier ’n pensioenfonds die bank met geld wat dan weer uitgeleen kan word).

Die Reserwebank het vandeesweek weer gesê Suid-Afrikaanse banke is goed gekapitaliseer en likiditeit word goed bestuur.

“Ons het nie ’n groot afverkoop van effekte gesien nie. Dit is positief dat dit nog nie gebeur het nie. Dit wys die mark is nog net bekommerd oor winste, en nie dat hulle nie hul geld gaan terugkry nie,” het Lambridis gesê.

DIT WEK KOMMER

Tendense wat kommer oor die mark vir ongesekureerde krediet laat toeneem het:

* Perke verwyder: Die Nasionale Kredietwet het in 2007 die perke verwyder op die grootte van lenings en termyne. Dit was voorheen ’n maksimum van R10 000 en 36 maande. Die gemiddelde leningsgrootte en -termyn het skerp toegeneem.

* Verbruikers bly diep in die skuld: Die gemiddelde kredietooreenkoms per verbruiker het die afgelope jare toegeneem. As salarisverhogings nie sterk tred hou met inflasie nie, gaan verbruikers sukkel, veral as rentekoerse begin styg.

* Groot banke: Sedert 2009 het al die groot banke hul teenwoordigheid in dié mark verhoog gegewe die hoë winsmarges nadat hul tradisionele sake van huis- en voertuigfinansiering swaar getref is deur die resessie.

* Nie-tradisionele rolspelers: Hulle spring ook in, en hulle het minder ervaring in die bepaling van risiko.

Bron: Element Investment Managers se kwartaalverslag, Junie 2012

DIE ROL VAN DIE WÊRELDKRISIS

Die internasionale kredietkrisis van 2007 het die volgende veranderinge in die kredietbedryf meegebring:

* Groot banke wêreldwyd verhoog hul vereistes om verbande te kry.

* Kredietkriteria word strenger en die krediet wat toegestaan word neem wesenlik af.

* Die getal verbandkliënte het sedert 2007 op 1,8miljoen in Suid-Afrika gestagneer.

* Die getal gesekureerde kredietooreenkomste het met 1,5 miljoen afgeneem sedert 2007.

* Huisverbande vir huisverbeteringe en meubilering neem af.

* Pryse van huisverbande neem toe vir kliënte met ’n hoërrisikoprofiel.

* Rentekoerse van prima-minusvlakke styg tot prima-plusvlakke.

* Banke word aangemoedig om tot die ongesekureerde mark toe te tree om alternatiewe inkomstestrome te kry.

Bron: Capitec se 2013-jaarverslag

Die webwerf www.sake24.com is jou gratis portaal tot wisselkoerse, aandeelpryse, sakenuus en meer. Die gewildste berigte op die oomblik is:



  • ekonomie

    Kos laat jou beursie krimp

  • ekonomie

    ‘Anemiese’ ekonomie strem huismarkgroei

  • maatskappye

    Adcock verkoop? Hm . . . Ja. Of nee

  • ekonomie

    Voertuigmark se wiele geklamp

  • ekonomie

    Regering ‘nie kitsbank vir ondernemings’

  • maatskappye

    Aussies se goeie skole help WBHO

  • maatskappye

    Rhodes Food beplan R600 miljoen notering

  • entrepreneurs

    ‘Tupperware meer as werk, dis ’n passie’

  • ikt

    Microsoft kry spertyd in China

  • ekonomie

    Voertuigverkope daal in Augustus

  • ekonomie

    Vervaardiging lig effens kop op

  • mynbou

    Platinumaandele het vir OBK 'n blinker toekoms as goudaandele

  • maatskappye

    Blou Maandag vir Standard Bank

  • ikt

    Bel, én betaal, met nuwe iPhone

  • maatskappye

    Verkrygings gee reus nog meer omsetkrag

  • entrepreneurs

    ’n Handgeskrewe brief ná elke saketransaksie

  • maatskappye

    Inkopieplekke raak groener

  • ekonomie

    Groei in skuld futloos

  • ekonomie

    Wat is die nut van kredietgraderings?

  • entrepreneurs

    Besighede traag om lenings aan te gaan

  • ekonomie

    Sakedagboek: 1-5 September 2014

  • ekonomie

    Sake se top-10-berigte van die week

  • ikt

    E-handel: China se vier rykstes in geveg