Johannesburg Verander Area
  • Vandag

    18°C / 7°C

    Wind 22km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 32%

  • Dinsdag

    17°C / 7°C

    Wind 21km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 36%

  • Woensdag

    17°C / 8°C

    Wind 8km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 36%

  • Donderdag

    18°C / 9°C

    Wind 16km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 31%

  • Vrydag

    19°C / 8°C

    Wind 11km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 23%

  • Saterdag

    19°C / 8°C

    Wind 9km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 23%


NASIONALE KREDIETWET

Kredietwet se skroewe is los

Voorgestelde wysigings kyk na skuiwergate en ander flaters

nellie brand-jonker
Vrydag 14 Junie 2013
Die pad wat die Nasionale Kredietwet geskep het, is besaai met duwweltjies vir die arme verbruiker. Dié artikel beoog om lesers in te lig oor spesifieke probleme met die huidige bestel en voorgestelde oplossings. Die oplossings is nie noodwendig tans voorgestelde wetswysigings nie. Foto: Nicolene Olckers

Ernstige gebreke aan die Nasionale Kredietwet het daartoe gelei dat voorstelle oor wetswysigings gepubliseer is. Nellie Brand-Jonker verduidelik wat die probleme is en watter oplossings voorgestel word.

Skuiwergate, verwarrende interpretasies, dubbelsinnighede, onvolledigheid, foute en onbedoelde gevolge is enkele van die probleme met die Nasionale Kredietwet, wat in 2007 in werking getree het.

Die kredietwet het Junie 2007 ten volle in werking getree en die Wet op Kredietooreenkomste en die Woekerwet vervang.

Dit het inisiatiewe in werking gestel om die roekelose toestaan van krediet te voorkom en het skuldberading die lig laat sien.

Dit het egter ook onbedoelde gevolge en talle probleme meegebring, toon ’n hersiening van die wet.

Die afgelope jare het heelwat regsgedinge oor die wet ontstaan en heelparty uitsprake oor die interpretasie daarvan is deur howe gegee.

’n Konsep-kredietwysigingswet is onlangs deur die departement van handel en nywerheid gepubliseer tesame met ’n konsepdokument oor die hersiening van die beleidsraamwerk van die Nasionale Kredietwet.

“Die Nasionale Kredietwet is net so sterk soos wat die wetstoepassing is. Onvoldoende bepalings vir wetstoepassing is as die grootste struikelblokke in die bereiking van die doelwitte van die wet geïdentifiseer,” lui die beleidsdokument.

Dit lyk of die primêre fokus van die voorgestelde wysigings verband hou met die voorkoming van die roekelose toestaan van krediet, die swaar skuldlas van verbruikers en die bedrywighede van skuldberaders, sê Natasha Horwitz, uitvoerende direkteur van die Credit Bureau Association (CBA). Sy sê hulle bestudeer nog die konsepwet in besonderhede.

Sy sê in die wysigings is ’n bepaling dat bekostigbaarheidsriglyne nagekom moet word.

Die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) is tans besig om bekostigbaarheidsriglyne in samewerking met die kredietbedryf op te stel.

Die idee is om dit vanjaar nog in werking te stel; vóórdat ’n kredietinligtingsamnestie later vanjaar in werking tree. Nadere besonderhede van die amnestie word ook later verwag.

Simone Monty, direkteur van die regsfirma Routledge Modise, sê die konsepwet sluit in wysigings aan definisies en die verskerping van die maatreëls oor skuldberaders en hul gedrag.

In die konsepwet word voorgestel dat die NKR die registrasie van maatskappye en ander geregistreerde entiteite in die kredietbedryf mag kanselleer as voorwaardes vir registrasie oortree word. Die oogmerk is ook om die Nasionale Verbruikerstribunaal te bemagtig om kredietooreenkomste wat op roekelose wyse toegestaan is, op te skort, sê Monty.

Die voorgestelde wysigings maak ook voorsiening vir die registrasie en akkreditasie van alternatiewe dispuutoplossingstrukture.

Carl Fischer van Capitec het daarop gewys dat die konsepwetgewing onder bespreking is en uiteindelik heelwat kan verander.

In die beleidsdokument word die verhoogde toegang tot krediet beskryf as een van die suksesse van die wet tot op hede. Die volgende syfers word genoem:

* In 2002 het die krediet aan huishoudings R360miljard beloop, sowat die helfte van die totale krediet wat toegestaan is aan die private sektor van die ekonomie (ingesluit maatskappye). In September 2012 het verbruikerskrediet R1 390 miljard beloop.

* In 2002 was daar 19,8 miljoen kredietrekeninge. Dié syfer is nou 68,3 miljoen.

Die beleidsdokument verwys in vier hooftrekke na die sleutelprobleme wat daar met die wet is:

1. Ondoeltreffende wetsbepalinge: Dit behels probleme met die formulering van die wet wat reggestel moet word.

2. Die instellings wat betrokke is by wetstoepassing moet versterk word en rolspelers moet beter beheer word: Benewens voorstelle vir ’n sterker NKR en ’n uitbreiding van die mandaat van die Verbruikerstribunaal, blyk dit ook dat dat vrywillige selfregulering deur die bedryf nie die verbruiker beskerm het nie en dalk beheer moet word; dat alle kredietverskaffers dalk geregistreer moet word; dat dispuutoplossing beheer moet word; en dat betalingsagentskappe se rol ondersoek en dat hulle dalk beheer moet word;

3. Kredietverskaffers moet meer verantwoordelik word. Die volgende probleme moet aandag kry:

* Die roekelose toestaan van lenings (deur onder meer minimum standaarde vir bekostigbaarheid en die verpligte opdatering van kredietburo-inligting);

* Die openbaarmaking van die volle koste van krediet;

* Die heffings vir krediet en ander dienste;

* Hoe rentekoerse bepaal word; en

* Kredietlewensversekering en al die probleme wat daarmee verband hou.

4. Hoe skuld hanteer moet word: Daar is talle probleme hiermee en daar word aanbeveel dat alternatiewe of bykomende maatstawwe vir skuldverligting ondersoek word vir verbruikers wat weens dié gebrek nie tans gehelp kan word met skuldhersiening nie.

Meer oor die probleme en voorgestelde oplossings:

DIE NKR HET NIE TANDE NIE

Agtergrond: Die departement van handel en nywerheid se konsepdokument oor die hersiening van die beleidsraamwerk van die Nasionale Kredietwet verwys na “wetgewende mislukkings” soos die “karige bepalinge” ten opsigte van skuldhersiening en beperkte en vae wetgewende magte vir die Nasionale Kredietreguleerder (NKR). Daar is ’n tekort aan meganismes vir doeltreffende wetstoepassing en verbruikershulp.

Oplossing: In die beleidsdokument word voorgestel dat die wet gewysig word om die magte van die reguleerder te versterk, veral ten opsigte van wetstoepassing. Dit sluit in dat die NKR dalk toegelaat gaan word om kredietverskaffers en skuldberaders onder sekere omstandighede te deregistreer.

Die NKR moet die vereistes kan bepaal waaraan skuldberaders moet voldoen.

DIE BEDRYF BESKERM NIE DIE VERBRUIKER NIE

Agtergrond: Die NKR het onlangs ’n stokkie gesteek voor die vrywillige skuldbemiddeling wat die bedryf begin het. Die NKR het ook sy erkenning van verskeie bedryfsliggame teruggetrek.

Hoewel die positiewe rol van bedryfsooreenkomste erken word, is daar kommer dat dit amper onmoontlik sal wees om roekelose kredietverlening te identifiseer en dat dié ooreenkomste in belang van kredietverskaffers is, maar tot nadeel van verbruikers. Kommer bestaan dat die wet omseil kan word.

Bedryfskodes en -reëls kan ’n positiewe rol speel, maar daar is onsekerheid oor die status daarvan as die NKR sy goedkeuring daaraan onttrek, soos onlangs ook gebeur het.

Oplossing: Daar moet beheer wees oor maatstawwe wat die bedryf vrywillig aanpak. Die vrywillige maatstawwe moet gemonitor word om seker te maak die wet word nie omseil nie. Die rol van die NKR in die goedkeuring van bedryfskodes en -reëls moet ondubbelsinnig wees.

KREDIETVERSKAFFERS ONDER DIE RADAR

Agtergrond: Kredietverskaffers wat nie die wet nakom nie, is steeds ’n probleem.

Die NKR is nie altyd bewus van almal nie en onderneem nie ondersoeke na kredietverskaffers nie. Omdat verbruikers nie bewus is van hul regte en regsmiddele nie, kan gewetenlose kredietverskaffers die wet oortree.

Tans word sekere kredietverskaffers vrygestel van wetsnakoming op grond van die waarde van lenings en getal lenings wat toegestaan word.

Oplossing: Alle kredietverskaffers moet geregistreer word en dan sal vrystellings van verslagdoening en nakoming aan sekeres verleen word. Die NKR moet spesifieke magte hê om registrasie en deregistrasie te monitor.

ALTERNATIEWE DISPUUTOPLOSSING ONGEREGULEER

Agtergrond: Daar is nie ’n omvattende definisie in die wet vir alternatiewe dispuutoplossing nie. Die definisie vir ’n “alternatiewe dispuutoplossingsagent” verwys na ’n persoon wat bystand gee met die oplos van kredietdispute deur middel van konsiliasie, mediasie en arbitrasie. Dié agente word nie beheer nie en die status en rol van die kredietombudsman is nie duidelik nie.

Die beleid waarop die wet berus, het nie bedoel dat dié agente ook ’n rol moet speel in skuldberading nie. Die gebrek aan ’n duidelike verbod het daartoe gelei dat dispuutagente skuldberaders se rol begin vervul het terwyl hulle nie geregistreer hoef te wees nie, maar skuldberaders wel.

Oplossing: Die definisie, omvang en toepassing van dispuutoplossing (ook die kredietombudsman se rol) moet uiteengesit word.

ROEKELOSE LENINGS

Agtergrond: Daar is verskeie probleme met die bepalinge in die wet oor roekelose uitlening. Dit wissel van ’n tekort aan aansporings om die bepalinge na te kom tot onvoldoende besonderhede van hoe ooreenkomste wat op roekelose wyse aangegaan is, gehanteer moet word.

Daar is probleme met die formulering van die wet, asook hoe dit geïnterpreteer en toegepas word ten opsigte van roekelose kredietverlening, hoe skuldbelaai ’n lener is en meganismes om verbruikers te help.

Daar is ’n tekort aan regsmiddele in die wet wat tot toepassingsgebreke lei.

Oplossing: In die beleidsdokument word voorgestel dat daar minimum standaarde gestel word vir bekostigbaarheidsontledings en openbaarmaking voordat kontrakte gesluit word en dat prosedures ingestel word sodat die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) op ’n kostedoeltreffende wyse aandag kan gee aan roekelose kredietverlening.

Dit sluit in ’n bepaling dat skuldberaders, dispuutoplossingsagente en die ombudsman roekelose kredietverlening by die NRK moet aanmeld. Die NKR moet teen die kredietverskaffer kan optree.

ONDEURSIGTIGHEID VAN OOREENKOMSTE

Agtergrond: Daar is steeds probleme met die openbaarmaking van die volle koste van krediet voordat die ooreenkoms gesluit word. Die koste van krediet word só uiteengesit dat verbruikers dit nie verstaan nie.

Daar is in die huidige bestel oortredings ten opsigte van bemarking en verkope en daar is nie vir verbruikers hulpmiddels om hulle hierteen te beskerm nie.

Oplossing: Die volle koste van krediet moet voor die ooreenkoms uiteengesit word. Dit moet ook in verstaanbare taal in die kontrak staan. Die verbruiker moet ingelig word presies wat sy volle maandelikse paaiement sal wees.

KREDIETLEWENSVERSEKERING

Agtergrond: Die aard van die dekking van kredietlewensversekering word nie op ’n standaardmanier duidelik uitgestippel nie. Kredietverskaffers kan hul wins verhoog met die premies. Dis moeilik vir verbruikers om die koste daarvan te verstaan. Omdat verbruikers nie weet wat die aard van die versekering is nie, kan hulle nie die polis vervang met ’n ander nie.

Oplossing: Die bevindinge van ’n gesamentlike taakspan (die nasionale tesourie, die Raad op Finansiële Dienste, die NKR en die Mededingingskommissie) oor verbruikerskredietversekering moet oorweeg word om te bepaal of die koste beheer moet word.

Ongeag wat oor kostebeheer besluit word, moet die totale koste van krediet, insluitende kredietversekering, deel van die standaardopenbaarmaking wees.

SKULDHERSIENING ONSUKSESVOL

Agtergrond: Teenstrydige interpretasies deur die howe oor skuldhersiening het verbruikers se vermoë beperk om suksesvol daartoe toegang te kry. Statistieke toon hoewel baie verbruikers aansoek doen om skuldberading, voer min die proses van begin tot einde deur.

Oplossing: Die doel van skuldhersiening bly steeds om verbruikers te help om hul skuld terug te betaal. Die regering moet egter die ontwikkeling van alternatiewe of bykomende skuldhersieningsmaatstawwe ondersoek vir dié verbruikers waarvoor skuldhersiening nie ’n gangbare opsie is nie.

Sake24.com  is jou portaal tot gratis sakenuus en markinligting.



  • geldsake

    Spaarwenke vir Spaarmaand: Betaaldag is nog vér

  • ekonomie

    Dié base slaan dalk eie koers in

  • landbou

    ‘Voorlopige’ aanbod vir Agri Voedsel is billik

  • ekonomie

    SA klop Nigerië nog in die swaargewig-kryt

  • maatskappye

    Oprah se publikasie sluit deure in SA

  • entrepreneurs

    Hy wou besig bly – nou loon wassery

  • ekonomie

    IMF verwag swakker wêreldgroei

  • maatskappye

    V&A se Silo-distrik brei uit

  • ekonomie

    Reisigers sê dít neem die wind uit hul seile in SA

  • ekonomie

    Sake se top-10-berigte van die week

  • geldsake

    Dis ’n verkopersmark

  • geldsake

    Pensioengeld: Moet dit nie in ’n bodemlose skuldput stort

  • geldsake

    Kyk na lang termyn om beer te tem

  • Slaap, want die dag kom nader

  • maatskappye

    V&A met hoof van Turkish Airlines

  • ekonomie

    'Skrap departement van arbeid'

  • mynbou

    Lonmin: Stakers het nie chroniese medisyne gebruik